Saturday, February 18, 2012

Wanneer drome 'n mens help om jou lewe te verstaan...


Sandra, die filosofiese een wat so rustig oor haar lewe kan nadink, vertel my een oggend met so bietjie onbetrokkenheid dat haar ma haar nooit regtig baie drukkies gegee het nie. Dit was nie eintlik hulle familie se manier van doen nie. Hulle was nie mense wat hul gevoelens vir mekaar uitgestal het nie.

Tog was sy en haar ma naby aan mekaar. Hulle kon dikwels dik stukke gesels. Soms was hulle lekker laf. Soms het sy haar ma treurig gesien en so een of twee keer in haar lewe het sy met onsteltenis ervaar hoedat haar ma diep seergemaak is. Haar ma was allesbehalwe ‘n koue, kil mens. Hulle was eintlik spesiale vriende.

Toe haar ma dood is, het Sandra haar gemis en lank oor haar gerou. En soos die jare aangestap het, het sy al hoe meer verlang dat haar ma haar tog meer moes vasgehou het soos net ‘n ouer haar kind kan vashou en liefhê.

Dit het nie regtig gebeur nie, het sy in haar later jare getob. Die naaste wat sy ooit daaraan gekom het, het sy gedink, was as haar ma vir haar gegroet het en hulle vir mekaar ‘n afskeidsoen gegee het. Die hunkering na die omhelsing het al hoe sterker geword en vir ‘n lang tyd haar gedagtes besig gehou.

En toe het Sandra ‘n heel spesiale en helder droom van haar ma gehad. Sy het nooit veel van haar ma gedroom nie, al het sy dikwels en baie dae wel aan haar ma gedink en na haar verlang.

Sy droom sy is by haar ma en hulle praat soos van ouds ‘n hond uit ‘n bos. Sy onthou hoe lekker en spesiaal dit was om, soos in vroeër jare by haar ma te wees.

En toe skielik, terwyl hulle in die droom nog so met mekaar praat, trek haar ma haar nader. Styf, styf het haar ma haar omhels en teen haar vasgedruk. En toe, onthou sy spesifiek, het haar ma haar vir ‘n tweede keer vir haar liefdevol vasgehou. Dit was so ‘n intense ervaring dat sy daarvan wakker geword het.

Dit, vertel Sandra, het met haar in ‘n droom gebeur omtrent twintig jaar nadat haar ma dood is.

Daardie omhelsing van haar ma in haar droom het haar ‘n innerlike rus en oneindige troos gegee. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd het sy met dankbaarheid iets anders van haar ma onthou en beleef. En haar gevoelens van rou is op ‘n manier omgeskakel in ‘n ervaring van troos.

En, voeg sy by, nadat sy lank daaroor gewonder het, het sy besef dat die droom op ‘n paar  maniere afronding in haar lewe gebring het.

Sy het besef dat ‘n mens nooit sonder die liefde is van daardie mense wat so ‘n belangrike deel van jou lewe uitgemaak het nie. Die dood kan die spesiale, hegte band van liefde nie losmaak nie. In werklikheid word daardie liefde selfs sterker. Om die waarheid te sê sy dink ‘n mens kan selfs nuwe vorme van liefde beleef.

Eintlik het die droom haar dus op ‘n nuwe manier oor die dood laat dink.

Maar, iets anders het met haar gebeur, sê Sandra, terwyl sy stil, nadenkend haar verhaal vertel. Sy het na die droom skielik dinge begin onthou wat sy skoon vergeet het.

Die liefdevolle omhelsing van haar ma in die droom het haar ver terug in die verlede geneem en haar laat terugdink aan dinge wat sy nooit voorheen bewustelik bedink of onthou het nie.

Sy het byvoorbeeld onthou hoe sy soms laataand vaagweg haar ma in haar kamer sien inkom het voordat haar ma self in die bed gaan klim het en hoe haar ma die kombers wat Sandra in haar slaap oopgeskop het, weer oor haar toegetrek het sodat sy warm sou slaap. Dan het haar ma Sandra se  haartjies uit haar gesig gevee en die kussing onder haar kop reggetrek. Sy kon haar ma se spesiale parfuumreuk skielik heel duidelik onthou en haar ma se sagte streel oor haar kop in herinnering roep.

 Sy onthou byvoorbeeld ook hoe haar ma, rasend van bekommernis, na haar gehardloop het toe sy haar weer gekry het nadat Sandra in die winkelsentrum verdwaal het. Sy het weer onthou, asof dit gister gebeur het, hoe haar ma haar handjie styf vasgegryp het asof sy dit vir altyd gaan vasklou.  

En, soos ander herinneringe deur haar droom later in haar losgemaak is, het sy begin besef dat haar ma, op haar manier, vir haar tog meer as wat sy ooit voorheen onthou het, daardie drukkies gegee het waarna sy so verlang het.

Soms, mymer Sandra, het ‘n mens ‘n droom nodig om meer van die werklike lewe te verstaan en om meer van die liefde in jou lewe raak te sien

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive