Die weg na ‘n intieme verhouding met God kan, as ‘n mens daaroor begin nadink aan die hand van vertellings van wyses van die eeue, ‘n sekere patroon vertoon.
Daar is, eerstens, ‘n bewuswording van ‘n mens se eie feilbaarheid.
· ‘n Mens kan lang jare ‘n pad met God loop, volgeprop met allerhande kennis oor God.
· ‘n Mens kan ywerig, soos Paulus, die vervolger van die gemeente, die swaar las op jou skouers neem om die eer van God in God se naam te verdedig. Die kerk het deur die eeue heen ‘n groot kwota van sulke ketterjagters opgelewer.
En dan, op ‘n Damaskus-oomblik, kan ook jou ywer beswyk onder die vraag: “wie is U, Here?” Die God wat jy so goed geken het en wat jy so mooi netjies in jou waarhede vasgevang het, kom dan na jou in helder, suiwer, sagte liefdeslig om al die donker van jou groot wete’s te verdryf.
Dit is dan dat jy die Ander leer lief kry. En jou geweld agter jou laat.
En hierdie mistieke oomblik van transformasie wat jou op die grond slinger, verdamp dalk gou in sy intenstiteit, maar in sy luierende nawerking begin dit groewe in die hardheid van jou lewensmondering insny.
Dit is op die dag, maar ook steeds weer meer dat jy, miskien baie stil, soms in ‘n tempel-tollenaarsoomblik, oorweldigend, jou eie boosheid herken.
En vir die res van jou lewe sal jy elke dag weet om in jou stilte-tyd steeds weer bedag te wees op alles wat negatief jou lewe vul. Jy weet: Die hart moet leer om op die pelgrimstog die kwade te sif, te benoem en te besweer.
Dit dan is die tyd van reiniging, van stroping wanneer God die negatiewe uit jou lewe begin skoffel en vrugbare lande vir die Gees-oes begin voorberei.
Terselfdertyd, of miskien selfs voor die tyd, ontkiem daar, tweedens, in ‘n mens se lewe die verlange na die lig. Dit is dan die tyd van verheldering, van verligting. Jy begin besef wat werklik saak maak: nie die feite nie, nie al jou waarhede nie, nie jou eie dinge nie. Maar wat saak maak is die dinge van God.
Jou innerlike maak oop vir God, vir die ligte dinge van die hemel, vir die weg van die liefde, vir die lewe van omgee, vir ontferming, vir wat goed is, vir wat heilig is.
In jou groei ‘n groter wordende begeerte om die verborge dinge van God meer en meer in jou lewe te vind. Dit is die weg na volmaaktheid, om volmaak te wil wees soos die Vader in die hemel.
En, soms, derdens, heel raar, maar tog weer soos ‘n weerligstraal, is daar die oomblikke wanneer jy God in jou bestaan kan kontempleer. Dit is daardie unieke tye wanneer ‘n mens se hart sy rus vind in ‘n volkome eenheid met God. Weggevoer, uitsinnig, verborge, verstom die verlange, word die gebede verhoor.
Dit is die oomblik wanneer ‘n mens gelowig weet jy is in die hande van die Vader.
Dit is dan dat jy die stem hoor, terwyl die duif tuiskom, terwyl die liefdeswete jou innerlike ruimte tot sy hartsgrond deurklief:
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.