Sunday, February 26, 2012

Om vreugde in die lewenssleur te vind. Gedagtes in die lydenstyd (2)


In moeilike omstandighede kan ‘n mens juis bly wees, skryf Paulus in Kolossense 1:24.

Hy skryf daar oor die swaarkry wat hy ervaar wanneer hy besig is om die evangelie te verkondig. ‘n Mens sou dus kon dink dat hy hier praat oor vreugde wanneer ‘n mens om godsdienstige redes swaar kry – soos wanneer ‘n mens vir geregtigheid stry of jou teen skynheiligheid verset.

Dit is sekerlik ook die geval. Paulus sien die swaarkry as ‘n voorreg, want daarin deel hy die vervolging van Christus en Christus se vervolging is veroorsaak deur godsdienstige mense vir wie sy boodskap en lewe ‘n bedreiging was.

Paulus weet dat wanneer ‘n mens gelowig is jy teenstand en stryd moet verwag. God se saak skiet nie maklik wortel in die donker aarde van die vervalle wêreld nie. Wat God wil staan immers diametraal teenoor die begeertes van ongelowiges. Dit was waar vir die godsdienstige vernuwing wat Jesus gebring het.

Paulus weet wat met Christus gebeur het, is onvermydelik ook die deel en lot van almal wat soos Christus dink en leef.

Maar tog: Hier is dit nodig dat ‘n mens die “swaarkry” versigtiger moet verstaan.

Nie alles wat ‘n mens aan swaarkry ervaar is noodwendig oor godsdienstige sake nie. ‘n Siek mens, of iemand wat rou, of iemand wat sy/haar werk verloor, of iemand wat geboelie word, kry op ‘n ander manier seer.

Indirek het hierdie sake egter ook ‘n godsdienstige wortel. Siekte, dood, verlies en geweld is almal die gesig van ‘n onvolmaakte wêreld. Mense praat graag van die “gebroke” werklikheid. Wanneer ‘n mens op so ‘n “gewone” manier seer- en swaarkry, is daar altyd tye dat ‘n mens die dieper vraag vra: “waarom gebeur dit?”

En dit is hier waar vreugde weer ‘n rol speel. Christus se boodskap en lewe was ingestel daarop om mense heel te maak. Daarom het hy mense liggaamlik gesond gemaak en dit kom ook na vore daarin dat hy gedurig weer sy volgeling geestelik gevoed het.  Die visie van God in Christus is ‘n “paradys”, ‘n plek van vrede, sonder trane, lyding, geweld en die dood.  Dit is die aangrypende boodskap van Kolossense 1:19 waarin God die volheid, die pleroma, met alles en almal wil deel.

In die alledaagse, gewone sleur en gesukkel wat ‘n mens se lewensvreugde dikwels wegneem of vernietig, vind ‘n mens die vreugde weer wanneer ‘n mens hierdie ryke belofte herontdek: in Christus woon die volheid in alles en almal. Dit is God se wil vir die lewe en die wêreld. Dit is die sin van die Bybelse Christus-verhaal.

Wanneer ‘n mens dus onder die onvolmaakte ly, soos met Christus gebeur het, is die lewenskuns om die volmaakte te onthou en toe te eien. Geloof omvorm ‘n mens immers om soos Christus te word, om konform aan Christus getransformeer te word. 

Altyd weer bring dit ons terug op ons bene: dat Christus hom vir mense en die aarde se heling beywer het. Vir hom was dit ‘n saak van lewe en dood om te vertel van die groot Alternatief: van God se wêreld waarin selfs die kleinste voëltjie op die algemene goedheid van God kan reken en selfs die grootste skurk die belofte van die paradys kan ontvang.

Die liefde van Christus dring Paulus dus. Die wete dat 'n mens bevoorreg is om Christus se lyding te kan voortsit, maar veral die wete dat dit 'n lyding is ter wille van Jesus se drome oor die Liefde, deursuur en deursyfer die hardste mure van swaarkry en ongeregtigheid, sodat dit een of ander tyd begin verbrokkel en uitmekaar val. 

Wanneer ‘n mens ly, hou hierdie Liefde ‘n mens digby die blydskap – veral vanweë die vaste, vaste wete dat die Liefde die grootste is, dat die Volmaakte aan die kom is en dat al die dowwighede van die aardse bestaan agtergelaat sal word.

Dit is om van bly te wees wanneer die dag lank begin word en die bene tam raak onder die neerdrukkende juk van die lewensreis. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive