Sunday, February 05, 2012

Om die koringland se wit witaar-gerwe te vergaar. Oor die Samaritaans vrou.



Sandra Schneiders het in haar boeiende bespreking van die Samaritaanse Vrou in die Johannes Evangelie ("Written that you may believe") 'n wonderlike nuwe en gesaghebbende uitleg van die gedeelte gegee en gewys hoedat Jesus hierdie vrou tot die eerste vroulike apostel en sendeling bemagtig het. 

Haar bydrae is belangrik vir enige gesprek oor die Samaritaanse vrou.

Jakobus van der Riet (www.tabor.co.za) se mistieke sonnet (met die ikoon hierbo as illustrasie) oor die gedeelte sluit af met twee reëls waarin die vrou se missionêre werk uitgelig word. Die vrou het later deur die tradisie bekend geraak as Fotini - wat "lig"beteken. Vandaar Jakobus se titel.

 
Die Heilige Fotini, die Samaritaanse Vrou
 
- Feesdag: 26 Februarie

Op die hete uur kom sy met haar kruik na die put
waaruit Jakob gedrink het en sy seuns en sy vee.
 

En die Heer - 'n tweede Boas vir 'n tweede Rut -
wil vir haar 'n koringland en lewende water gee,

want Hy hoor die benoude gebulk van haar hart
soos van 'n kalf in 'n put, waar sy dors en verlang
na 'n sesde man, maar veral na God, en verward
en bang oor sy woorde, nogtans aan sy lippe hang.


Nou wel die water op in haar hart en bruis en spat
by die vreemde besef: Die Man weet alles van my.
Sy laat staan haar kruik en haas haar na die stad
en vra: Die Een op Wie ons gewag het, is dit Hy?


Kyk, Samaria staan soos 'n koringland wit in die aar.
Fotini steek haar sens in en begin die gerwe vergaar. 


Die gedig raak my omdat dit die mistieke ontmoeting van die vrou met Jesus uitbeeld (haar "vreemde" besef, sy is "verward"en "bang"), maar ook wys dat mistiek tot aksie aanpor - vandaar die vrou wat, in reaksie op Jesus se les van haar dors, na haar mede-Samaritane uitreik. Sy, wat God ontmoet het, word 'n vrou wat ander om haar wil laat deel in haar Godservaring.  Dit is egte mistiek.

Hier is 'n tweede ikoon van Fotini:




Sien ook: http://jonmsawyer.com/blog/the-samaritan-woman-at-the-well/
 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive