Oor lyding kan ‘n mens bly wees, skryf Paulus in Kolossense 1:24, veral waar ‘n mens dit ter wille van ander ervaar. Hy skryf: “Nou verbly ek my in my lyding vir julle”.
Paulus is duidelik hieroor, want hy herhaal dit ‘n entjie verder heel uitdruklik:
“Ek verduur my deel daarvan ter wille van sy (Christus se) liggaam, die kerk”.
Weer eens maak Paulus die las van lyding ligter: eers, soos in die vorige blog bespreek, beklemtoon hy dat sy swaarkry nie sommer maar net ‘n lot is nie. Hy is bevoorreg, want sy lyding is ‘n voortsetting van Christus se lyding (Kol.1:24), veral op grond van die baie noue eenheid tussen gelowiges en Christus. In Kolossense 1:27 praat hy oor die “geheimenis” wat hy verkondig. Dit is ‘n seënryke, heerlike geheimenis waarvan die inhoud is: “Christus is in julle”. Wie ly, wie Christus se lyding voltooi, doen dit weens die intieme band met Christus. Lyding word dan ‘n rede tot blydskap, want deur lyding dien ‘n mens die saak van Christus en werk ‘n mens vir ‘n wêreld waarin mense gelukkig sal wees.
Maar Paulus maak die las van lyding op ‘n tweede manier ligter en ‘n rede tot blydskap: Hy praat nie net van die vervolging van Christus wat aangaan nie. Ook Christus se liggaam bly bestaan. Mense wat “in” Christus is, is deel van Christus se liggaam, die kerk. Daar is ‘n verband tussen lyding en die liggaam van Christus.
Wanneer Christus in ‘n mens is, kry ‘n mens nie net deel aan sy lyding nie, maar ook aan Sy liggaam. Alle gelowiges saam word die kerk, die liggaam. Dit is ‘n besondere band wat hulle heg aan mekaar bind – deur dik en dun. As hierdie mistieke eenheid, gee hulle vir mekaar om, dra hulle mekaar se laste en offer hulle op ter wille van die ander – veral wanneer dit swaar gaan.
Paulus put vreugde hieruit: sy lyding is tot diens van die kerk. Hy ly, skryf hy in Kolossense 1:25 ter wille van die kerk waarvan hy “n dienaar geword het”.
Hier is dus twee perspektiewe: ‘n mens ly in solidariteit met Christus se lyding en ‘n mens ly in solidariteit met ander. Hoekom maak dit ‘n mens bly? Om bereid te wees om vir ander te ly wys dat ‘n mens die gesindheid van Christus wat Homself vir ander gegee het, ook in jou eie innerlike omdra. Om vir ander te ly, beteken dat ‘n mens nie masogisties op jou eie lyding ingestel is nie. Om vir ander te ly, is ‘n teken dat ‘n mens omgee, dat ‘n mens die seerkry in ander se lewens wil verlig en beveg, dat ‘n mens jou gee vir ‘n beter lewe vir ander. ‘n Mens ly vir ander omdat jy weet jy word daardeur die gesig van Christus in hulle lewens en omdat jy besef jou pogings bring vir hulle hoop (Kol.1:27). Jy is bly omdat jy weet Christus wat in jou lewe is, sou dieselfde gedoen het…
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.