Monday, February 06, 2012

Die vuur van 'n liefdesverhouding met God






In godsdiens is daar altyd weer mense wat met verwondering ervaar dat God in hul lewens teenwoordig is. Hulle leef in liefde, gedurig bewus van tekens van God se groot genade. Hulle, ervaar hulle, is deel van 'n liefdesverhouding wat hul lewe vol en ryk maak. 

Daar is deur hierdie liefde ‘n warmte in hul lewens. Dit is 'n liefdesvuur wat in hulle brand. Gedurig weer is hulle bewus van God wat die vuur van hulle begeerte is. 

Hulle liefdevolheid word ‘n vlam wat helder brand teenoor die koue skaduwee van mense wat  formeel godsdienstig is, maar innerlik onaangeraak of lou geraak het. Mense wat in liefde leef, leef nie meer onder die wet nie, as mense wat veroordeel en vingerwys nie.

Die mense wat in God se liefde woon, hulle wat steeds weer dankbaar bewus is dat God by hulle is, is die gewete van die kerk. Maar hulle inspireer ook die kerk om na binne te kyk en te ondersoek of hy nie maar bloot nog op sy bene bly sonder die warmte van ‘n hart wat in God se liefde leef.

Dit is hierdie mense wat die teken is van die werking van die Gees onder mense.

En dit is hierdie mense wat in die donkerte, ook van die kerk, weer die vlam van hoop laat brand.

Twee dinge is opvallend van sulke mense: 

  1. Hulle is bidders en uit hulle gebede vloei ‘n lewe van diens.  Die mistikus is die bidder, die een wat na God verlang, die mens wat weet dat die oratiewe deurslaggewend is.
  2. En: hulle verhouding met God, hulle hegte eenheid met God en hul gedurige, nabye omgang met God maak dat hulle ‘n verskil maak in die omgewing waar hulle leef en bly.


Daar is iets opvallends aan hierdie opmerking oor die mense wat in liefde leef. Godsdiens is nie bloot maar net ‘n emosie wat opwel, wat ‘n mens oorweldig en wat ‘n mens dan maklik weer sou kon verloor nie. Godsdiens gaan om ‘n lewenslange reis in die liefde, selfs in tye wat ‘n mens swaar kry. As ‘n mens wel die tye van liefdesemosie beleef, raak dit ‘n mens so aan dat dit ook in die dor tye in jou gedagtes bly en jou inspireer. 

Verder: godsdiens is nie bloot net alles wat jy oor God weet nie. Vele mense weet baie oor God, maar dit ontbreek hulle aan die lewe in die liefde.

Godsdiens, weet ons uit die studie van spiritualiteit, gaan eerder oor ‘n verhouding wat ‘n mens met God aanknoop en wat jou dra in tye wat jy nie mooi weet waarom God dinge in jou lewe toelaat nie. Jou verstand kan jou in die steek laat of vir jou dryf om oor jou geloof te wonder, maar as die liefde eers in ‘n mens se lewe ontsteek is, het ‘n mens deel gekry aan ‘n verhouding met God wat jou hart se diepste verlangens raak.

Om te glo, is om met God in liefde te leef. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive