Saturday, February 18, 2012

Die vingerwysing van die Groot Ingeligtes.

Dana Snyman se skrywe oor Fanie die ateïs is 'n subtiele teks oor die onverdraagsame fundamentalisme van mense wat met soveel sekerheid besluit dat die Bybel 'n klomp outydse leuens is. In die proses is hulle blind, selfsugtig stokblind, vir die opofferende, ontfermende geloof van mense wat hulle nou, in hul verligtheid, as dom en oningelig beskou. Terwyl Fanie met soveel brawade vertel hoe slim hy geword het en meewarig sy ma se outydsheid minag, is sy ma die prototipe van die gesig van goedheid wat geloof dra.

Dana Snyman se verhaal is die moeite werd om weer gelees te word:


Sy ma weet hy is nou ’n ateïs, sê Fanie. Hy het dit vir haar gesê.

Hy het die oggend by haar in die ouetehuis gaan kuier en toe sit sy weer daar in haar stoel voor die venster, met haar breiwerk en haar blokraaisel en haar Bybel.

Ek ken tannie Kittie, sy ma. Sy en my oorlede ma was beste vriendinne. Saam met hulle die wêreld se pyn probeer wegbak en -brei. Hulle het tot die ACVV behoort. Hulle het in die kerkkoor gesing en Santa-seëls verkoop ten behoewe van teringlyers. Hulle het op kerkbasaars gewoel, en op ’n Saterdagoggend op die sypaadjie voor Spar by ’n môremarktafel pannekoek gebak om geld in te samel vir die Bettie Greeff Tehuis vir Ongehude Moeders.

Hulle het muntstukke in houtbussies gekollekteer vir sendingwerk in Malawi, in Japan en in Zoeloeland. Hulle het komberse en blikkieskos ingesamel vir vloedslagoffers. Hulle het vir die padkampkinders koekies gebak en net voor Kersfees geskenke vir die kinders in die kinderhuis gaan gee. En hulle kon bid, o, hulle kon bid: O, Heer, U is die pottebakker en ek is die klei, maak my en vorm my na U wil.

Hul kinders – ek en Fanie en die ander – was voorop in hul gebede en gedagtes en dade. Hulle het eerder daardie paar spykerskoene vir atletiek gekoop as die nuwe kerkrok. In ’n blikkie in ’n laai het hulle spaargeld gebêre wat later moes help betaal vir ’n skooltoer of ’n universiteitshandboek.

Hulle het ook gebid vir die straatveërs, die polisiemanne, die dokters en die president. Hulle het gebid vir die ellendige, siek kind in die onderdorp. Drie dae lank het hulle vir die kind gebid en glase vol mengsels van boegoe en Lennons se medisyne aangedra. Op die vierde dag breek daardie kind se koors. ’n Week later speel die kind weer saam met sy maatjies in die son.

Ook vir die kankerkrom oom in die siersteenhuis op die hoek het hulle gebid. Daagliks het hulle hom in hul gebede aan die Here opgedra. Toe sterf die oom een middag agter ’n toegetrekte Venesiese blinding in daardie huis. En toe bid hulle vir die weduwee en dié wat agtergebly het, en hulle begin maak frikkadelletjies en reënboogbroodjies vir die begrafnis.

Dit is gedoen omdat hulle hul lewe volgens die Bybel probeer rig het: Bid sonder ophou. Hê jou naaste lief soos jouself. In die sweet van jou aangesig sal jy jou brood verdien. Nou ken jy slegs ten dele, eendag sal jy ten volle ken.

Hy weet nie of sy ma nog tot die ACVV behoort nie, sê Fanie. Hy vermoed so. Sy gaan wel nog elke Sondag kerk toe, weet hy. Sy lees ook steeds Bybel en onderstreep teksverse. Dit lê pal daar op die tafeltjie langs haar stoel.

Siestog, sê Fanie. Eintlik kry hy die ou vrou jammer. Sy weet nie die Bybel is ’n klomp leuens en versinsels nie.

Hy het dit vir haar probeer verduidelik, sê hy, maar hy het later maar opgehou, want hy kan dit nie vat as iemand oor niks huil nie.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive