Johannes skryf Openbaring oor die groot stryd tussen goed en kwaad. Hy sien om hom ‘n wêreld wat deurtrek is met geweld, onreg, korrupsie, oordadige luuksheid, uitbuiting van en ongelykheid tussen mense. Dit lyk vir hom of alles tot niet gaan.
Johannes sluit aan by ‘n lang tradisie wat sensitief is oor die vernietiging van die wêreld en mense. Die profete in die Ou Testament het al beklemtoon dat ‘n mens wat in ‘n verhouding met God leef in alles soos God moet omgee vir ander en vir die plek waarin God hulle geplaas het.
Die wêreld behoort aan die Here en sal nie tot niet gaan nie. Dit was ook die boodskap van die apokaliptiese denkers soos Daniel. Hulle het die profetiese boodskap nog dringender beklemtoon: God duld nie die kwaad as ‘n onvermydelikheid nie. God wil dit uitwis. En God vra van almal met wie God in ‘n verhouding is om die stryd teen die vernietigende kragte saam te stry.
Selfs in die kwaai hitte van die intense stryd is daar die wete dat God nie die Vernietiger verdra nie. Daar is hoop. En in gelukkige beelde vertel Openbaring van die toekoms wat soos ‘n bruilof sal wees waarin die beeldskone bruid met haar bruidegom verenig sal word. Die liefde sal seëvier. Die nuwe aarde sal ‘n blyplek wees waar alle inwoners van die groot stad die lewe, gevul met die allerbeste dinge, sal geniet.
In Openbaring is daar telkens liedere wat die grootheid van God besing. Blye liedere van klein mensies in ‘n groot, gevaarlike wêreld. Vol vreugde sing die gelowiges van hul vertroue in die Here by wie hulle die egte lewe ontdek.
So, al singende, met blydskap, leef mens te midde van die donker kragte: stap vir stap, tree vir tree, lê ons die reis af waarin ons hulle aanvat om vir hulle duidelik te wys dat daar nie plek in God se wêreld vir die kwaad is nie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.