So pas is die wenners van die World Press se jaarlike kompetisie aangekondig. Samuel Aranda van Spanje het die wenfoto geneem in 'n moskee wat ingerig is as 'n veldhospitaal in Jemen.
Op die oog af is dit 'n eenvoudig onderwerp: 'n vrou wat 'n gewonde man vashou. Met die eerste oogopslag sny dit, selfs in al sy eenvoud, reeds 'n mens se hart stukkend.
Die foto brand in op jou oë, laat sy Kaïnsmerk op jou geheue en sak in jou onderbewussyn weg as 'n simbool van dieper dinge.
'n Mens hoef nie eintlik te weet dat die man gewond is in die opstande teen President Ali Abdulaah Saleh wat maande lank aangehou het en vele lewens geeïs het. Die foto is genoeg om te vertel van lyding en mense se reaksie daarop.
En tog sou die konteks van die foto die impak daarvan sterker maak: Die foto is 'n verhaal oor die hoë tol wat die dapper opstande teen ondemokratiese bewinde in die Arabiese wêreld geeïs het:
'n Mens onthou die hoogs dramatiese tonele van mensemassa's wat deur die strate van lande se groot stede trek met plakkate; rumoerig, uitdagend, met gebalde vuiste, met klippe wat deur die lug vlieg en met polisie of soldate wat met geweld toeslaan.
Hulle, die dapper skare's van vele lande, herinner ons vir weke van die mens van alle tye en alle plekke se dieper verlange na vryheid.
Dag na dag, meedoënloos word hulle getreiter en gedood, maar dag na dag hou hulle met moed die stryd vol.
Die foto het niks daarvan nie. Die onderwerp daarvan is heel eenvoudig 'n vrou en 'n man wat stil bymekaar is. Geen bomme, geen bewegings en aanvalle nie. Maar juis omdat niks van al die opstand is nie, is daar soveel daarvan teenwoordig... Hier praat opstand, verwonding, lyding, verset.
Die beoordelaars bekroon die foto met die eerste prys omdat dit volgens hulle op 'n baie persoonlike en intieme vlak die verhaal van die opstande vertel. Hier sien 'n mens die ander kant van opstand, die stryd, onderdrukking, dapperheid en verset.
Hier sien jy hoe die gewone mens, op sy of haar eie, deur die felheid van die stryd verniel word.
Maar nou met die verskil: Weg is die skares, stil is die massa's, uitgedoof is die geweerskote, verstomd is die krete. Hier word die prys betaal. Hier sien 'n mens die gevolge van die heersers van die wêreld wat groot wil wees, by die tafels wil sit en bedien wil word, wat die geringes minag en die swakkes uitbuit (Lukas 22).
Teenoor die heersers en hul korrupte minagting van ander staan hierdie liefdevolle nabyheid van die lydendes in sterk simboliek uit: Die foto vertel die verhaal van intieme liefde wat in die uur van ellende soek om te dien (Lukas 22: 27): Die vrou hou die man beskermend teen haar vas met haar regterhand om sy nek, haar duim lig, lig op sy linkerwang terwyl haar regterwang teer sy voorkop streel. Haar regterhandse handskoen, vuil met die bloed en die gemors, hou sy linkerhand vas asof sy hom nie naby genoeg teen haar kan hou nie. Hier is omgee in 'n plek waar daar andersins net uitbuiting is.
Dit is 'n hoogs intieme toneel van twee mense wat in 'n oomblik van lyding bymekaar wil wees. En in die intimiteit sien ons die mooiste gesig van die liefde.
Dit is ook die moeite werd om die vorm van die foto te bekyk, want dit vertel ook al weer 'n belangrike deel van die verhaal. Daar is die driehoek-lyn in die foto van die vrou se elmboog na die man se kop na haar kop as die een been van die driehoek, met die lyn wat van haar kop afloop na haar skouer as die ander been: dit is 'n driehoek waarin die twee gesigte in een, stil ruimte bymekaar kom en die hart van die foto uitmaak.
Onder hierdie driehoek is daar 'n boeiende spel van lig en donker: die man se skouers, naak in hul verwondheid, die vrou se swart jurk waarteen sy moeë skouers rus. Hulle vorm die basis waarop die driehoek van gesigte rus. Hulle vertel van die ondergrond waaruit die intimiteit opkom.
Alles in hierdie fokuspunt is so verborge, so subtiel en gelyk so oop, so eksplisiet: Jy sien nie die vrou se gesig nie. Ook nie man nie.
Maar die foto kan nie duideliker wees oor die spesiale band tussen hulle nie en oor die ontferming waarmee sy hom naby aan haar hou nie. Hul lyftaal, daardie gesig op ons innerlikste gevoelens, vertel die volle verhaal - sonder dat 'n mens hulle gesigte sien.
Die res van die foto, ook so eenvoudig, omraam en interpreteer die verhaal van die twee mense net so dramaties. Die donker skaduwees teen die muur smelt saam met haar donker burka en sy swart hare. Die dood hang swart in die lug, tree donker nader, wil die lyding verder insmeer. En tog is daar ook weer die lichtheid aan die bokant van die muur: so asof alles na bo neig, na die lig, na die uitkoms.
Die mater dolorosa, die pieta, die tydlose verhaal van nabyheid, selfs wanneer die dood swaar in die lug hang. Geseënd om in die liefde te kan skuil, daardie dag wanneer 'n mens die donker vallei binnetree...
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.