Thursday, February 02, 2012

'n Leë Kruis




In die kapel van Dharmaram Kollege by Christ University, hang hierdie kruis. Bokant die kruis is die duif, simbool van die Gees van God wat aan die mensdom gegee word. Dit wys op God se mededeelsaamheid, op God se verlange na gemeenskap, op die ondeurgrondelike genade dat God na die mens in 'n verhouding uitreik.

Daar is egter iets pertinents aan hierdie kruis. Daar is geen liggaam van Christus op die kruis nie. Maar meer nog: die kruis is ook leeg van binne. Mens kan dwarsdeur die kruis sien. 

Die simboliek van die kruis is deurdag. Die kruis wys naamlik, vertel my kollega op ons rondleiding deur die kapel met 'n stil, byna stemmige stemtoon, op die ontlediging van God. God, in die sin van Filippense 2, daardie baie ou Christus-himne, wat nie aan die goddelikheid vasklou nie. God wat leeggetap word vir die mens ontwil.

Die kruis vertel van die self-lediging van God. God "ledig", maak en word leeg.

Die laaste paar weke hoor ek by meer as een van die mense van ons nuwe tyd dat self-ledigende oorgawe darem seker bietjie ongesond is. Iewers moet 'n mens jouself kan handhaaf en van 'n self-kastyding kan wegkom.

Dit is nie altyd vir ons tyd se groot mense (let op die spasie) hoog mode dat 'n mens jouself ter will van ander ontledig nie.

Die kruis herinner 'n mens van die teendeel. As daar iewers 'n simboliese teken van self-prysgawe - tot die dood toe - is, is dit die kruis.

Die kruis van die kapel bly hang in my gedagtes.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive