Saturday, February 25, 2012

Om na vreugde te soek. Gedagtes oor die lydenstyd.


Die behoefte aan blydskap loop diep en sterk by alle mense. Die lewe is al swaar genoeg, voel ons intens, dat ‘n mens ook nog ‘n tekort aan vreugde moet ervaar.

Ons harte vra dat ons van al ons ellende en swaarkry wegkom om tog net ‘n keer weer heerlik bly en vrolik te kan wees.

Maar dan kry ‘n mens die opvallende, selfs ontnugterende bybelse antwoord: ‘n mens kan blydskap vind juis in jou swaarkry-tye. Nog meer: dit is swaarkry wat vreugde bring.

Dit vind ‘n mens terug wanneer Paulus in Kolossense 1:24 skryf hoedat lyding vir hom vreugde bring.

Ondenkbaar. Paulus gebruik die donker tye van die lewe as ‘n geleentheid tot blydskap. Hy skryf:

“Ek is bly oor die lyding wat ek ter wille van julle moet verduur.”

Paulus se lyding ter wille van die evangelie is aan ons bekend uit Handelinge en uit sy briewe. Hy vertel dikwels hoe verdrietig sy lewe is en hoe hy vervolging ly. 

Sy lyding kon hom opstandig gemaak het, want sy lewe was daarop ingestel om God se woord met die kerk te deel. Hy is besig met die goeie dinge, maar dit maak sy lewe nog glad nie lekker en voorspoedig nie. Inteendeel.

So erg is dit dat Paulus skryf dat Christus nog nie klaar aan die kruis gesterf het en vervolg is nie. “Die vervolging van Christus het nog nie geëindig nie”, skryf hy in Kolossense 1: 24.  Dan voeg Paulus by dat hy deel in Christus se vervolging deur sy eie lydenspad.

Sy lyding is kwaai.

Maar hy kyk na sy lyding op ‘n heel ander manier.

Dit is, eerstens, nie lyding wat Paulus ly nie. Hy dink radikaal hieroor, want enige masogisme of heldestryd wat om hom gaan, is buite die kwessie. Hy neem Christus se lyding aan.

Hy besef te goed: wie Christus volg, sal ly soos Christus. Iemand wat ‘n verhouding met God aanknoop word getransformeer om soos Christus te leef en te lyk. Dit is transformasie konform aan Christus – ‘n sleutelaspek van spiritualiteit.

Die eerste stap tot geestelike volwassewording wat Paulus in staat stel om ‘n bly mens te wees is om sy eie lyding te relativeer. Hy kies vir ‘n saak wat hy weet hom deel maak van ‘n bestaan en ‘n lewe wat eise aan hom sou stel. Hy kies vir God en kies daarmee ook vir Christus en sy lyding.

Die lyding wat ‘n mens as gelowige ly is daarom konform aan Christus se lyding. En dit bring die wete: ek, die een wat volg, wat ook soos Hy wil wees, moet weet konformiteit aan Christus, om soos Hy te wees, kom nie maklik nie. Om soos hy te wees, om so te leef dat ‘n mens waardig is aan sy ideale, drome en wense, behels ook om dan daarvoor te moet ly. Dit is ‘n voorreg om saam so ‘n lewensstryd te kan stry! Om sy lyding te deel, is ‘n spesiale kans wat ‘n mens gegun word. Daaroor kan ‘n mens maar net bly wees.

Maar is hierdie boodskap regtig ontnugterend of swaarmoedig? Alle mense weet dat egte geluk net te vinde is by dinge wat saak maak. Om by God te wees, om te kies teen alles wat ‘n mens se lewe afbreek en verduister, is die moeite werd – selfs al bring dit lyding.

Meer, in hierdie lydenstyd, hieroor later.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive