Tuesday, February 28, 2012

Vreugde kom wanneer 'n mens lyding deel. Gedagtes vir die lydenstyd (4)


Vreugde, dink ‘n mens, sal verdwyn soos mis voor die son wanneer ‘n mens tye van swaarkry beleef. In vele gevalle is dit so. Soms egter, soos by Paulus, gebeur dit dat lyding juis vreugde in ‘n mens wakker maak.

Hieroor kan ‘n mens nadink wanneer Paulus sy lyding met die Kolossense deel. Helder en duidelik praat hy met hulle oor die koste van hulle verhouding en van die duur prys wat hy daarvoor moet betaal. Wanneer hy naamlik skryf dat hy bly oor sy lyding is, verduidelik hy dat een rede hiervoor is dat sy lyding “vir” ander was. Daarom skryf hy ook in Kolossense 1:24 dat sy lyding “ter wille van die kerk” was.

Daar sit al iets opvallend in Paulus se skryf oor lyding. Hy maak dit ‘n belangrike tema in die brief. Dit gebeur nie altyd dat iemand so vrymoedig soos Paulus oor lyding praat nie.

Daar sit al iets heel persoonliks en intiems in hierdie opmerkings van Paulus. Hy is op so ‘n voet met sy lesers dat hy met hulle eerlik kan wees oor wat hul verhouding aan hom doen. En ernstig kan hy sy hart vir hulle oopmaak.

Paulus sou geweet het dat sy gepraat oor die lyding ook manipulerend kan wees. Hy verwyt egter nie sy lesers nie en speel nie met hulle gevoelens nie. Daarom begin hy juis deur te vertel dat dit vir hom ‘n voorreg is om so ‘n prys te betaal. Hy beklemtoon dat dit wat hy doen, sy lewe met blydskap vul. Sy lyding hoef geen las vir sy lesers te wees nie – dit is iets wat hy gelowig en met blydskap beleef.

Waarom beklemtoon Paulus dit dat hy “vir” die Kolossense ly? Wanneer Paulus sy lyding met ander deel, bring hy hulle in die mees intieme deel van sy lewe in. Daar is niks wat mense so bymekaar bring soos wanneer hulle mekaar se lyding deel nie. Hulle raak baie na aanmekaar.

As iemand weet dat ‘n ander omgee vir hom en boonop bereid is om vervolg te word ter wille van hul verhouding, maak dit die band tussen  hulle hegter as ooit tevore. ‘n Mens weet: dit kom nie sommer vanself nie. Daar moet iets dieps wees wat iemand dryf om soveel op te offer vir ‘n verhouding.

Die lesers besef: hier gebeur iets spesiaals wat mense so laat omgee. Dit is dan dat lyding geheilig word, dat ‘n mens in lyding God aan die werk sien. En dat dit ‘n mens opnuut tot blydskap bring.

Op die manier transformeer Paulus se gepraat oor die vreugde wat hy in sy lyding vir ander het, sy verhouding met hulle. Hy kan sy hart teenoor hulle uitstort. Hulle kan hoor van sy blydskap en weet: Hulle is strydgenote, mense wat tot die dood toe vir mekaar omgee.

Hier word diep menslike verhoudinge gesmee omdat Paulus vir sy geloofsvriende ly. Hy dink soveel van hulle, hy ag hulle so hoog, dat hy alles vir hulle opoffer – selfs sy veiligheid. Dit voed hul gevoel vir menslikheid. Hulle deel dieselfde lot. Hulle lewenspaaie is aanmekaar verbind. Saam loop hulle die – moeilike – pad. Al hoe meer grense tussen hulle word afgebreek sodat hulle baie na aanmekaar word.

En wie dit hoor, kan nie anders as om meer lief te kry en meer om te gee nie. Hulle is op pad na geestelike volwassenheid deur die wysheid waarmee Paulus oor sy lyding praat (Kol.1:29).  Hulle weet, dit alles kom van Iets groots, Iets wat groter as hulle almal is. Daarom is die grootste vrug wat hier groei, die vrug van die geloof: want wanneer mense vir mekaar ly in vreugde, weet hulle te goed: dan is die God in wie hulle glo by hulle teenwoordig. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive