Wednesday, February 08, 2012

Verganklikheid

Ou bekendes, oor jare heen, loop ons by die kuierplek raak. Dit is lekker om by hulle ‘n aandjie te kan verwyl. Gedeelde verhale, ervarings, strydgesprekke, werkstye, jare van vriendskap smee bande wat 'n mens moeilik na waarde kan peil.

Sommige van hulle het ‘n belangrike bydrae tot die geskiedenis van ons land gemaak. Hulle name staan uit deur besondere bydraes: boeke wat hulle geskryf het, kommissie-verslae wat die rigting van ons land verander het, kunswerke wat hulle geskep het. En die lysie van pluimpjes oor hulle prestasies sou ‘n mens lank kon gemaak het.

Maar hulle is nou al minder aktief. Rustyd begin aanbreek. Hulle stemme word nie meer soveel gehoor nie. Ander neem hulle plekke in.

En, besef ek, daarmee kom die besef van verganklikheid na vore. Tyd is 'n onverbiddelike medereisiger, 'n meedoënlose aftakelaar, 'n wrede vernietiger. 

En die besef van verganklikheid wat die voortsnellende tyd oproep, kan ‘n mens op vele maniere begin kwel, of selfs verniel.

Daar is inderdaad iets moois en boeiende aan 'n aktiewe lewe. 'n Mens het bewondering vir hulle wat die saak van sosiale geregtigheid jaag. Die groot spiritualiteitskrywers beklemtoon daarom dat die intieme verhouding met God steeds weer transformatief inwerk, veral op die mens se verhouding met die wêreld. Iemand wat sensitief is vir die geestelike reis, is daarom iemand wat omgee vir God se aarde en wat hom of haar aktief instel op die koms van 'n beter wêreld vir alle mense, veral hulle wat onreg en gebrek ly.

Daarom is ‘n saak soos sosiale geregtigheid belangrik. Dink maar aan Dorothy Day en Simone Weil se insette vir die werkers en Merton se verset teen oorlog. Om maar ‘n enkele voorbeeld of drie te noem.

Dit is goed so: ‘n mens se geloofservaring is nie bloot net ‘n private doenigheid nie. Wanneer God die hart aanraak, kom die hande en voete in beweging en begin die reis na God en in God se wêreld.

Tog: As die rustyd aanbreek, die jare van stryd verby is, die liggaam begin swakker word, die gedagtes bietjie begin dwaal, wat dan? As die wêreld oënskynlik net boser word en die drome waarvoor ons so hard gestry het in nagmerries waar word, wat dan?


Wanneer 'n mens ouer word en die dinge van vroeër nogal ontstellend onbelangrik begin lyk, waarop steun jy dan? Wat word vir jou belangrik?

Dit val my op: mense wat so aktief was om die wêreld te hervorm, word dikwels ontnugterd, soms selfs sinies, oud. Veral in ons land waar soveel op die spel was en so hard om geregtigheid gestry is en 'n mens die wankelrige uitkomste van daardie stryd beleef kan mense ontgogeld wees.



Dit is 'n eeu-oue verskynsel. Die Bybel vergestalt hierdie gevoel die duidelikste in die boek Prediker: sin ontbreek, alles is sommer net niks. Wat doen 'n mens as jy by die Prediker-ervaring uitkom? Waarop val jy terug? Wat hou jou dan orent?

Dit is dan dat 'n mens op dieper dinge moet kan steun. Die tyd wat ons dikwels genadeloos stroop van ons ywer en drome, bring 'n mens terug by die vraag na die stil plekke, dieper ruimtes, na dinge wat, te midde van al die verval, onverganklik is. En, te dikwels is dit juis dinge wat ons nie altyd hoog geag het nie of tot onbelangrikheid gedegradeerd het. 


Dit is die tyd wanneer hierdie dieper dinge wat ons verwaarloos het, terugkom om by ons te spook.

Ek sien een of twee van die groot Spiritualiteitskrywers het hieroor diep nagedink. Ek wil so bietjie hulle reis daaroor volg. 

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive