Thursday, February 09, 2012

Wanneer ons gevoel van vergankelikheid 'n seën raak



Rahner skryf oor die duisende dinge van elke dag wat ons moeg en swaarmoedig maak – daardie dinge waaroor ek in gister se blog begin skryf het.

Nie net die daaglikse gesleur bring by ons ‘n Prediker gevoel nie. Selfs ons vreugdes word maar muwwerig:
  • ‘n Mens kom agter hoe selfs jou vriende van jou is. Hulle beste woorde van vriendskap en toegeneentheid klink soms vaag en leeg
  • Alles wat in die wêreld aangeprys word, word al hoe meer 'n leë gejaag sonder enige werklike waarde
  • Die nuwe dinge oor ons pad gaan verby en word ook maar oud en verslete
  • Die dae kom en gaan, alles neem onverbiddelijk sy loop
  • Al ons kennis maak ons nie vervulde mense nie. 
  • Innerlike rykdom ontglip ons
  • Gewildheid is ‘n skim wat vir ‘n oomblik sy vreemde gesig vir ons wys en dan vinnig verdwyn
  • Ons sintuie stomp af, ons word ongeërgd, selfs ongevoelig
  • Die kring van mense naby aan ons dun uit. Ons verloor of neem afskeid van mense naby aan ons.

Dit klink swaarmoedig. Maar dit is nie lank nie alles nie, skryf Rahner.

Ons moet maar besef: Dit is hoe die lewe is. So loop elke mens se bestaan. En dan het ons nog nie eers bedink wat verder bykom nie. Die rampe of teenspoed moet nog alles verreken word: want by hierdie normale lewe kom daar slegte tye wat ons bitter kan maak, vir ons trane kan laat stort.

Dit klink genoeg om ‘n mens depressief vir altyd te maak. Dit moet egter nie so wees nie.

Want, skryf Rahner, hierdie ervaring van nietigheid is eintlik ‘n gawe, ‘n seëning van God. Om jou eie verganklikheid te ervaar en die eindigheid van al die dinge wat ons elke dag beleef, is nie iets wat ‘n mens moet vermy of moet onderdruk of moet vervang met goedkoop gelukkigheid nie. Jy moet dit vierkant in die oë kyk.

Die ervaring van verganklikheid moet nie verdring word nie. Daar is nie goedkoop remedies daarvoor nie. Ons hoef nie te klou aan vae beloftes en ontvlugtingsdrome nie, soos dat ons neerslagtigheid van vandag vervang sal word deur ‘n goeie lewe later nie.

Want, wat gebeur met ons regtig in ons Prediker ervaring?

Die besef van ons verganklikheid is eintlik die buitekant, die gesig van ‘n diep en ongeleste dors van ‘n mens se siel. Orals sien ons hoe dinge tot ‘n einde kom. Hulle kan nie ons harte vol maak nie. Die volgende oomblik sal die vreugdes en die besighede van die dag vervaag en die leegheid sal ons weer oorval.

Want ons hart vra na iets diepers, iets wat onverganklik is.

En hierdie begeerte skep ‘n ruimte waarin God se liefde kan neerdaal.

Net Een kan ons hart tot stilte, tot vervulling, tot rustigheid en tot vrede bring. Net Een is altyd daar. “Jy is altyd by my”, sê die Pa vir die verlore seun as die Pa hom liefdevol omhels.

Net Een, net die liefdevolle Ouer, bly getrou, wagtend op ons terugkeer. Net Een is alles vir ons almal. Net aan Een behoort ons vir altyd.

Ons teleurstelling in die wêreld, ons sinisme oor ons groot gevegte vir geregtigheid pas by die lewe van iemand wat glo. Elke gelowige moet dit kan ervaar. Want dit is dan dat ons begin om God te bemin.

Wanneer ons weet dat net Een waardig is van ons hele bestaan en dat ons ons hele bestaan aan God in liefde wil toevertrou, sommer net toevertrou, dan begin ons God lief hê.

Wanneer ons nie onder ons sinisme beswyk nie, onder ons ontgogeling oor die lewe ingee nie, maar dit verdra sonder om onsself te bedrieg of te mislei, begin ons God te bemin.

Ons verlang na iets, maar ons weet nie wat nie. En tog is ons seker dat dit iets is wat ons nie in ons bestaan en in ons wêreld vind nie. Niks in ons lewe kan vir ons ons hartsbegeerte vervul nie.

Net God kan – God, die onbekende Een, die Een na Wie ons verlang en die Een wat ons liefde waardig is. God se liefde, skryf Rahner, word vanself in ons wakker. Ons verlange is na God wat in ons hart woon en ons begeerte is na ons aandeel in die onverganklikheid wat God met ons deel. As alles inmekaar getuimel het, begin ons vanself soek na die Een wat daar is as alles anders om ons ons gefaal het of vir ons agtergelaat het.

Klink dit alles te goed, dalk selfs wollerig? Rahner skryf nog iets by wat hierdie begeerte na die Liefde vaster in ons bestaan knoop en ons, die meer siniese en minder gelowiges, laat terugsit vir die dieper dink. Meer daaroor later.


Oor die foto hierbo, sien http://www.indiephotobooklibrary.org/2011/12/transitory-space/
Title: Transitory Space
Photographer/s: Leah Oates
Summary: The world thus appears to be a complicated tissue of events in which connections of different kinds alternate, overlap or combine and thereby determine the texture of the whole. All phenomena are processes, connections, all is in flux, and at moments this flux is visible.
The work I create first originates as a response to space that is in a continual state of change. In everyone there is a sense of flux and a familiarity with this type of space.
Transitory spaces have a messy human energy that is always in the present yet constantly changing. I find them endlessly interesting, alive places where there is a great deal of beauty and fragility. They are temporary monuments to the ephemeral nature of existence.

No comments:

Post a Comment

Note: Only a member of this blog may post a comment.

Blog Archive