Saturday, August 25, 2012

Vanuit God se perspektief


Konfrontasies kan dikwels heel intense, emosionele debatte veroorsaak.

Dit geld ook vir gelowige mense.

Handelinge 15 gee ‘n voorbeeld van hoogs emosionele en intense debate binne die kerk. Dit is nie altyd ‘n mooi prentjie nie. Dit is ‘n groot baklei oor een van die belangrikste aspekte van die Joodse geloofstradisie.

Ernstige, vroom mense wat God met toewyding dien, reis al die pad uit Judea na Antiogië om die gemeente daar voor te sê dat hulle die nuwe bekeerlinge in hul midde moet laat besny. Wat vir God se uitverkore volk vir eeue gegeld het, geld, volgens hulle, ook vir volgelinge van Jesus, die Jood uit Galilea.  

Lang afstande lê hulle af om te sorg dat die wet van Moses onderhou word. Dit is hulle erns. Hulle is volgelinge van Jesus, maar wil ook nie vir Moses laat vaar nie.

Die dispuut is so erg dat hulle nie tot ‘n vergelyk kom wanneer Paulus en Barnabas met hulle slaags raak oor die kwessie nie. Albei partye klou vas aan hulle waarheid en aan hulle idee van wat die wil van God is. Daar in Antiogië, ‘n belangrike sentrum van die vroeë kerk, word hewig gedebatteer.

Omdat hulle nie tot ‘n vergelyk kan kom nie, verplaas hulle die gesprek na Jerusalem. En ook daar breek die twis uit.

Hoe leef sulke uiteenlopende groepe in een beweging saam? Hoe reageer ‘n mens teenoor ander groepe en mense wat fanaties is, wat naby aan jou leef, vir wie jy elke dag sien en met wie jy gereeld aanbid?

Agter Lukas se sober verhaal kan ‘n mens sekerlik intense emosies raaksien. Hier is baie op die spel.  Hier word mense in hul mees intieme geloofsoortuiginge geraak en selfs seergemaak.

Die oplossing in Handelinge 15 is duidelik: die emosies is intens. Die resultate bly uit. En tog val dinge nie vas nie. Die groepe vra raad van ander. Hulle soek mense op wat met gesag kan leiding gee. Hulle reis selfs dae lank na Jerusalem om dan daar verder te praat.

So intens soos wat die emosies is, so intens is die gesprekke. Lank luister die mense na mekaar. 

Hulle praat.

Jy kan in jou emosies en seerkry vasbrand en vasval. Of jy kan ook vra hoe jy die ander persoon moet begryp in sy of haar ernstige emosies oor sake. En jy kan die saak op baie maniere hanteer – tot jou eie beswil, en as jy geestelik ingestel is, ook op die beswil van mense wat jou kwets.

In so ‘n situasie bly die belangrike om God se wil te herken. Die groepe kom bymekaar en hoor die apostels, die mense van wysheid praat oor wat gebeur het onder hulle: hoe hulle steeds weer in al die goeie dinge wat onder hulle gebeur het, God se teenwoordigheid raakgesien het.  Daar is steeds weer  ‘n sterk sensitiwiteit vir die geestelike dimensie. Daarom vra hulle waar hulle God se teenwoordigheid in hul lewens en situasie kan raaksien.

As dinge vasgeval het, word hierdie voortdurende gesprek en naenke oor God se wil deurslaggewend. ‘n Mens kom slegs op ‘n volwasse manier deur tye van konflik wanneer ‘n mens altyd op soek is na die leiding van God.  Hier gaan dit om God se wil vir ‘n mens se lewe te ontdek.

Niemand is so naïef om te dink dat daar nie spaninng onder glowigs is nie. Daar is. Erge spanning.

Dit is hoe ‘n mens die spanning hanteer en verwerk, wat tel. En ‘n mens kan dit alleen verwerk wanneer ‘n mens na ‘n situasie kyk in afwagting op God wat harte verander.

Uiteindelik bring hierdie perspektief egte eenheid - sodat 'n mens kan weet dat die Heilige Gees in die oplossing van die konflik aan die werk was. "Die Heilige Gees en ons het besluit..."  Dit is die uitkoms van al die intense gepraat.

Wednesday, August 22, 2012

Ryk by God

Vanaand, laat aand, ry ek by die vulstasie aan en maak tenk vol. 

Moeg na 'n taai dag van pak en aandra en aflaai en uitpak, spot ek so bietjie met die petroljoggie dat ek hoop hulle petrol is nie duurder as die ander vulstasies nie, want ek is 'n arm man.

Hy lag breed. Die tande is pêrelwit, die oë is vriendelik, die gelaatstrekke ontspanne.

Hy sê skielik uit die bloute ek moet onthou voor God is almal ryk.

Ek besef dit is 'n trooswoord. Hy sien my motor is nie meer so blink en flink nie.

Die trooswoord kom egter so spontaan en so natuurlik dat ek vir 'n oomblik terugstaan. 

Mooi, dink ek. Uit die hart, die warm hart, uit.

Hier laataand, aan die einde van die dag, op hierdie koue wintersdag, kom die woorde van een vreemdeling na 'n ander. Hy, 'n werker, aandskof, wat meeleef met ander. 

Ek preek heerlik saam: Ja, sê ek, en 'n mens het ook nie baie nodig om gelukkig te wees nie. 

Die petroljoggie beduie oorkant die pad na die rykmansbuurt: jy kan ryk wees, maar dan is jy nog nie gelukkig nie, sit hy sy trooswoord voort.

En op die manier maak ons vriende. Voor God. Ryk of arm. 

Hier by die vulstasie op 'n koue wintersaand het ek 'n medereisiger, 'n pelgrim, wat weet: geluk is binne, daar waar 'n mens voor God leef. 


Tuesday, August 21, 2012

Omgee as geestelike oefening


Wie ‘n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is. (Spreuke 11:25).

Weggesteek tussen al die Spreuke, sit hierdie merkwaardige stukkie lewensinsig.

Eeue lank het dit bewaar gebly: 'n simbool van wat mense se lewens mooi maak. 

Hierdie stukkie wysheid vertel hoe mense reeds in Bybelse tye die geestelike insig gehad het dat mens self geestelik kan groei deur jou inspanning vir ander.

Om om te gee vir ander, is 'n geestelike oefening. Dit kom nie sommer vanself nie. Jy span jou in daarvoor. 

Mense besef spoedig waarom dit 'n "geestelike" oefening is: As ‘n mens jou instel op ander se geestelike welsyn, bring dit verdieping, dankbaarheid, geluk en sin in jou lewe. Jou geestelike lewe word fundamenteel deur omgee gevorm.

Om jouself vir ander te gee, is ‘n waagstuk waarin jy jou moet oefen. ‘n Mens doen iets wat nie eintlik deel is van jou natuur nie.

Dit is eerder natuurlik om ingestel te wees op jouself.

Mense wat hul self vir ander gee, lewer aangrypende getuienisse oor die gevolge daarvan. Deur die geestelike oefening van omgee en uitreik na ander, ontdek ‘n mens dikwels heel verras totaal nuwe dinge van jouself. Jy tree op op manier wat jy voorheen gedink het nie moontlik is nie. Jy sien in jouself kragte raak waarvan jy voorheen nooit bewus was nie.

Ek het dikwels gesien hoedat groot, volwasse mense, gewoonlik hard en sterk, in staat is tot die mees sensitiewe optrede as hulle betrokke raak by die swaarkry en verlies van ander mense. Hulle ontdek 'n sagte deel van hulleself wat hul mens-wees mooier, dieper en ryker maak. 

‘n Pa wat sy seun deur die hel van dwelms moet bystaan, geteister deur die kind se kriminele optrede, kry wonderbaarlike krag om vol te hou, om by sy kind te bly, om hom ten spyte van teleurstellings en ondankbaarheid, te bly liefhê.

‘n Man wat sy sterwende pa tot die einde verpleeg, wat vir hom die mees intieme dinge moet doen omdat sy pa dit nie self meer kan doen nie, kry die innerlike krag om daarmee vol te hou.

Mense kry iewers van binne uit reserwe’s om uit hul pad te gaan om ander by te staan. Meer as een keer sê mense dat hulle die diepte en omvang van God se genade op ‘n aangrypende manier leer ken het toe hulle saam met ander ‘n pad van omgee geloop het.

Mense sê dikwels dat hulle eers begin verstaan het waarom die lewe gaan as hulle uitgereik het na ander en vir hulle versorg het.

Dit kan lewensveranderend wees: Soms kry mense dan ook vir die eerste keer nuwe insig oor wat God met hulle wil doen. Hulle besef hoe God hul gebruik om lyding te versag en genade te betoon. Vir die eerste keer word hul bewus van hoe God by hulle bly in die dor tye.

Dikwels sal jy mense ook hoor sê dat hulle nooit besef het hoe spesiaal iemand is by wie hulle betrokke geraak het nie. Eers toe hulle deel geword het van hulle lewens en na hulle uitgereik het, het hulle ook by sulke lydendes diep geestelike lesse geleer. Hulle ontdek hoe diep God kan woon in selfs die siekste, ellendigste van mense.

Soms sal mense sê dat hulle God se nabyheid ervaar het terwyl hulle by ander mense was om hulle moed in te praat en by te staan. Dankbaarheid en selfs blydskap het oor hulle gekom terwyl hulle ander bemoedig het.

Die Bybel vertel heel konkreet hiervan: die arm vrou wat ‘n penning in die skatkis by die tempel ingegooi het, was ‘n gelukkig mense. Haar lewe het sin by God gehad. Sy was nie te arm om weg te gee nie. Haar blydskap in God was so groot dat sy die bietjie wat sy nog gehad het kon weggee. 

Monday, August 20, 2012

Waarom 'n mens jou deur jou liggaam geestelik inoefen. Oor die doel van geestelike oefeninge.



Geestelike oefeninge is dikwels gewone, konkrete, liggaamlike dinge wat ‘n mens gedurig doen om geestelike verdieping te ervaar. 

Vele mens ken geestelike oefening op ‘n liggaamlike vlak. Vir hulle bestaan geestelike oefening veral uit oefeninge wat ‘n mens aan en met jou liggaam doen omdat dit jou geestelike welsyn aantas of beïnvloed.

Wat ‘n mens met jou liggaam doen kan jou hele mens-wees bepaal. Dit laat ‘n mens dink aan die Romeinse spreuk dat ‘n gesonde gees woon in ‘n gesonde liggaam. Mens sana in sano corpore.

Deur jou liggaam in te oefen, kan ‘n mens geestelik groei en volwasse raak. Liggaamlike oefening op sy eie kan ‘n mens doodgewoon gesonder laat voel. Hierin het dit ‘n transformerende effek: deur jou liggaam te oefen kan jy ‘n hele metamorfose ondergaan.

Die Sewendaagse Adventiste skryf byvoorbeeld voor dat hul lidmate nie koffie of tee drink omdat dit stimulante bevat. Maar daar is ander sulke voorbeelde in die Jodedom, die mormone, die Boeddisme en in Islam. In vele godsdienste word begryp dat mense wat nalatig oor hulle liggame is, ‘n hoë prys daarvoor betaal.

Maar geestelike oefening is meer as om net mooi na jou liggaam te kyk sodat jy gesond kan voel.

In Spiritualiteit gaan dit om oefeninge wat ‘n mens self doen om sodoende in liggaam en gees ontvanklike te word vir die teenwoordigheid van God.

Dit is die geheim van geestelike oefening: dit dien ‘n mens se geestelike lewe. Dit word gesoek om ‘n mens se geestelike verhouding met God sterker te maak.

Die bekendste van hiervan is onthouding van voedsel, afsondering van geraas, opgee van vleis of drank en weiering om skadelike stowwe soos alkohol en dwelms te gebruik. Ten nouste hang hiermee saam ‘n opoffering van jou eie belang: ‘n mens eet minder, slaap minder, soek stilte op, trek sober een eenvoudig aan, gee ‘n weelde-bestaan op, skeer jou hoof, deel jou besittings met ander, trek spesifieke soorte klere/linne/katoen aan. Daar is baie, baie verskillende manier om jou lyf te tem sodat ‘n mens geestelik sterker kan word.

Daar is nog iets diepers: die doel van al hierdie oefeninge draai nie om jouself nie. Trouens, dit is juis teen jou eie belang gemik Dit is om die oorheersing van jou eie-ek en die fokus op jou eie behoeftes te verminder: soos jy op die geestelike weg vorder, word jou eie geluk en vreugde minder belangrik.

Al hoe meer begryp jy dat dit die vreugde van ander mense is wat jou bly maak en jou lewe vul. Jy raak sensitief vir dinge wat werklik saak maak, vir die wêreld en vir allerhande realiteit wat wag op jou goedgesindheid en ontferming. Deur allerhande oefeninge waarin jy ontslae kan raak van jou eie belang, ontdek jy die weg na ander mense se harte en blydskap. Die groot realiteit van ‘n wêreld wat deur jou ontferming mooi moet word sodat jy ook goed kan leef, word vir ‘n mens al hoe sterker.

In al hierdie dinge word 'n mens dan beelddraer van God, wat deur self-prysgawe die heil van mense soek.

Deur jouself in te oefen, jou behoeftes reg te kanaliseer, jou liggaam in te perk en fiks te maak, word ‘n mens volwasse deurdat jy, soos die Skepper, ingestel is op ander, op hul behoeftes en op hul seënryke teenwoordigheid in jou lewe.

Al hoe meer besef jy hoe selfgesentreerd ‘n mens leef en hoe negatief dit op jou inwerk. Jy wil, selfsugtig, dinge na jou toe bring, onder jou beheer laat kom, domineer.

Hoe meer jy dit doen, hoe meer wil jy dit doen.

Deur geestelike oefening soek ‘n mens om hierdie selfsug te bestry. Al hoe meer begin jy besef: Wat baat dit ‘n mens dat jy ingestel is hierop? Wie sy siel soek, sal dit verloor.

Die Jesus-woord dat ‘n mens net wen as jy alles kwyt raak, is nog meer as ooit tevore vir ons waar. Wanneer ‘n mens op ander ingestel is, wanneer ‘n mens jouself vir ander gee, ontdek ‘n mens wat werklik saak maak.

Wanneer ‘n mens jouself uit die pad kry, is daar ‘n ryk, vol lewe en wêreld wat in al sy oorweldigende goedheid en mooiheid in jou lewe kan inkom.

Om soos God te wees, om soos God jouself te gee, om soos God 'n teenwoordigheid in ander sy lewens te wees - dit is waarheen geestelike oefening 'n mens wil lei.

Die pad na vervulling loop langs die pad van ‘n Ek wat verdwyn. “Hy moet meer word….” Dit, egter, kom maar net as ‘n mens jouself gedurig inoefen in jou geestelike weg. Elke dag weer, opnuut en opnuut, moet ‘n mens oefen sodat hierdie besef in jou ingeskerp kan bly.  




Sunday, August 19, 2012

Verwondering



Here, ons Here, die hele aarde skryf ‘n verhaal van U wonder-werking – ‘n liefdesroman, ‘n verhaal van hartstog, ‘n minne-verhaal.

U skenk op U Wêreld so veel skoonheid, Liefdevolle Skepper. Alles is deur U glansryk oor die hemelruimte uitgesprei.

Sterre skitter, sonstrale skyn, maanlig betower as tekens, simbole van U eindelose, gretige gawes van prag, van lig en van stil verborgenheid.



Geboeid sien ek sierlikheid, rykdom, ‘n liefdespel van rooi en goud en geel in U stil velde. Fyn, fyn speldepunte is ingeryg, as halssnoere, in fluweelsagte speldekoppe.

U dos uit, U berei die allerbeste, die allerskoonste. U naam is wonderbaar op die aarde.





In die dorheid van die wye, oop veld, beur bossiesvol geel sonnetjies, omring deur wolkewit stralekransies hemel toe: Son groet son, skepping buig voor Skepper. Selfs die dorre aarde word mooi, word die donker, stil, verborge teenpool, wat wit nog witter maak en lig nog ligter.

Soos ‘n kind in haar kinderspel, verloor ek my in U werke:

Dit is asof U nie kon ophou om soveel wonderskone kleure en vorme oor U aarde uit te strooi nie. In oorvloed stort U, Kunstenaar, op U wêreld Mooiheid uit. 

U, die Kunstige Maker, laat my swyg, U maak my stil, U laat my my verwonder aan U skepping.

O, Here, dat my lewe in al sy geringheid, dat my binneste in al sy feilbaarheid, dat my verwelkte geestelike reis so groot, so sierlik, so oneindig vars sal word soos U skone skepping!

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!




N.a.v. Psalm 8.



  

Saturday, August 18, 2012

Dit tel wat jy glo. Oor spiriutaliteit en teologie





Nigel Barker en Tintoretti se uitbeeldings van dieselfde tema: die Samaritaanse vrou van Johannes 4.


Die belangstelling in Spiritualiteit word dikwels gekoppel aan die huidige onvergenoegdheid van mense met dogmatiese haarklowery en teologiese binne-gevegte.

Daar word gesê dat dit nie regtig saak maak wat mens glo nie. Wat tel is dat geloof in die praktyk sigbaar is. Mense wil nie hoor wat ander glo nie.

Daar is teveel wat baie praat oor hul geloof, terwyl dit min verskil aan hul lewens maak. Mense wil aan mense se lewens sien dat hul gelowig is.

Dit is ‘n geldige punt. Jesus het hom sterk verset teen mense wat vroom oral rondloop en groot teologiese waarhede bepeins, maar die groot dade van ontferming en geregtigheid netjies systap.

Maar ‘n mens moet nie te gou die ander kant miskyk nie. Dit is seker waar dat godsdiens nie net om teologiese, intellektuele inhoude gaan nie. Dit aan ook om moment van heiligheid, om rituele, om spesiale ervarings by die prediking, die sakramente, die doop en die nagmaal. Al die kerklike rituele moet sinvol en eg belewe word. Geloof word gevoed en versterk deur sulke rituele.

In die Ou Testament is daar baie tekste wat vertel van die geloofslewe van die gelowiges. Vroom het hulle die een offerande na die ander gebring, die een geloofspraktyk na die ander beoefen, die een ritueel na die ander onderhou. Dit was mooi: hierdie praktyk van toewyding aan hul godsdiens.

Tog laat God weet: ook al hierdie vroomheid is hol as dit nie geknoop word aan ‘n lewe wat ingestel is op omgee vir ander en op geregtigheid vir almal nie.

Nie net ‘n vroom teologie nie, maar ook ‘n vroom lewe vol rituele kan leeg wees.

Die Samaritaanse vrou se verhaal word in Johannes 6 help ‘n mens hier met meer insig: Johannes wil vir sy lesers meer laat ervaar van God se intieme verhouding met mense van alle tye. Dit gaan om die volk van die verbond wat al vir eeue vir God in Jerusalem aanbid het. Daar het God trou aan hulle gesweer en het hulle telkens weer van God se liefde bewus geword. Net so het die Samaritane God in hul land op die berg Gerisim aanbid. Die berg was vir hulle die plek van seëninge, want dit is daar waar God hulle ontmoet het en die gebooie aan hulle gegee het (Deut. 11:29; 27:12; Jos. 8:33).

Mettertyd het die twee groepe aartsvyande geword in hul stryd oor waar die regte plek is om hul rituele uit te voer.

Hieroor praat Jesus en die Samaritaanse vrou. Hulle intense gesprek gaan oor hulle moeilike verlede, toe God hulle mense opgesoek het, maar toe hulle ook in ekstreme vyandskap teenoor mekaar verval het. Samaritane praat immers nie met Jode nie (Joh.6:9).

Heen en weer gaan die gesprek tussen Jesus en die vrou, gelaai met diep simboliese gedagtes. Jesus praat met haar oor wat sy glo.

Uiteindelik besef die vrou: nie die berge nie, nie die plekke van aanbidding nie, maar Jesus maak die verskil. Dit is wat ‘n mens moet glo – hierdie boodskap van die lewende water.

Getransformeerd, aangeraak, kom sy tot Jesus en ontstaan daar ‘n besondere nabye verhouding tussen hulle. Sy vertel van haar dorpsgenote van Jesus en word aldus die eerste sendeling namens Jesus  -  ‘n vroue-apostel. Sy het ‘n boodskap. Sy gaan uit na mense om vir hulle te vertel wat om te glo.

Die afloop van die verhaal van die Samaritaanse vrou toon hoe wyd haar metamorfose uitkring as haar dorpsgenote sê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie”. Hulle, geraak deur haar getuienis dat “Hy my alles vertel het wat ek gedoen het”, verander deur haar woorde oor Jesus, het “Self na Hom geluister”.  Hulle het in sy volle teenwoordigheid gekom. Dit weer bring hulle geloof tot ‘n nuwe vlak: “ons weet dat Hy waarlik die Verlosser van die wêreld is” (Joh.4:40).

Dit is geloof: geloof is ‘n verhouding met die lewende God, nie ‘n gesukkel oor allerhande slim strydvrae nie.

Die verhaal van die vrou vertel van ‘n ommekeer wat volg op ‘n intense teologiese gesprek. Die vrou, ingelig oor haar eie mense se geskiedenis en maar net te goed bewus van die verhoudinge van haar mense met die Jode, praat met Jesus oor diepsinninge dinge. Daarom kan sy aan haar gesprek sekere belangrike gedagtes koppel: Jesus is ‘n profeet, Hy is dalk die Messias. En uiteindelik die uitkoms: Hy is die Verlosser van die wêreld.

Sy weet Jesus is reg. Dit is belangrik wat jy glo en dat hierdie geloof gekoppel word aan die Een wat aan jou geloof skenk en die lewende water uitdeel.

Geloof het te doen met ‘n getransformeerde lewe wat steeds weer meer en meer soek om na God se wil te leef en God se beelddraers te wees. Hoe meer ‘n mens van God verstaan, hoe meer word ‘n mens se geloof verryk. Hoe meer ‘n mens verstaan dat God liefdevol vir mense tot vryheid lei, hoe sinvoller word geloof.

Maar al hierdie insigte word gedra en gedryf deur die een belangrike ding: om in die teenwoordigheid van die Lewende te wees, die Een wat die lewende water uitdeel.

Dit is ‘n mistieke band. Dit gaan om ‘n verhouding waarin die partye mekaar se teenwoordigheid ervaar. Dit is soos twee verliefdes: hoe meer hulle van mekaar leer ken, hoe dieper word hul liefde, hoe passievoller hul toewyding aan mekaar en hoe ryker hul verhouding.

Dit tel tog wat jy glo.

‘n Mens kan verstaan dat mense onvergenoegd is met al die teologiese binnegevegte. Sulke gevegte en slimmighede is al baie eeue by ons. Die Samaritane en die Jode het ook sulke gevegte geken – selfs oor waar die regte plek is om God te aanbid. Vasgeknoop aan die verlede en vasgevang in hul rituele, het hul die genesende verhouding met God kwytgeraak. Hulle het nie meer God self raakgesien nie. Berge in plaas van die Gees was hulle fokus.

Toe kom die Verlosser: wie na Hom self luister, die Een wat die Gees gee, die een wat ‘n mens leef om “in waarheid” te aanbid, ontdek egte geloof en word vry van al die stryd- en twisvrae wat mense van mekaar skei en hulle vyande van mekaar maak.


Friday, August 17, 2012

Die Boek van die Lewe maak 'n verskil tussen lewe en dood. Oor die Bybel en die geestelike lewe


Hoe lees ‘n mens die Bybel?

In vele huidige kommentare en Bybelstudies sal ‘n mens ‘n horde inligting kry oor die skrywer, ontstaanstyd, die konteks, die lesers, die inhoud en die vorm van Bybelboeke. Trouens, dit lyk asof daar nooit ‘n einde kom aan al die informasie wat in sulke tekste aan Bybellesers gegee word nie.

Die veronderstelling is dat ‘n mens die Bybel beter verstaan as jy soveel as moontlik inligting daaroor het.

Vir lang tye was Bybelkenners hierop ingestel: hulle wou veral informasie oor die Bybel meedeel.

Dit was belangrik om dit te doen. Daaraan moet nie getwyfel word nie. Want vroeër jare het mense die Bybel oopgeslaan en misbruik sonder om te besef dat in die proses word die boodskap van die Bybel verdraai deur dit uit konteks te lees.

Hoe meer inligting ‘n mens oor die Bybel het, hoe beter kan ‘n mens sulke foute vermy.

‘n Mens merk hierdie tendens ook in vele preke: baie aandag word bestee om ‘n goeie uitleg te gee van die Bybelboek in sy tyd.

Maar hierdie informatiewe lees van die Bybel is net die halwe waarheid en net die begin van die proses van verstaan.

Die Bybel self wil nie bloot inligting meedeel nie. Dit is in die eerste plek en veral ‘n boek wat ‘n verskil wil maak.

‘n Mens kan alles oor die  Bybel se uitsprake weet en baie inligting daaroor kry sonder dat dit iets aan jou doen.

Die Bybel wil juis iets aan mense doen: dit is ‘n boek wat op metamorfose ingestel is – op ‘n gedaanteverwisseling, op ‘n oorgang van die tydperk van die vlees na ‘n lewe in die Gees, van ‘n lewe wat op oppervlakkige dinge ingestel is na ‘n lewe wat dieper soek, wat verlang na die Verborge dinge van God. ‘n Mens het nie met ‘n geskiedenis of met inligting te doen nie, maar met die Waarheid.  

 Om die Bybel op die manier te verstaan, verander ‘n mens se lees daarvan. ‘n Mens se lees van die Bybel is dan nie bloot net op feite ingestel nie, om meer van dinge in daardie tyd te leer nie.

Dan lees ‘n mens die Bybel om agter te kom watter verandering dit in jou lewe as leser bewerkstellig.

‘n Mens lees die Bybel steeds weer op soek na dieper dinge: wat is die verandering wat in ‘n Bybelteks van my gevra word? Hoe werk die Bybelteks en die wêreld waarvoor dit geskryf is, in op my wêreld en op my plek in daardie wêreld.

Op die manier stel jy jou oop om meer te word as wat jy is. Daarom kan die Bybel alleen vrugbaar wees vir mense wat weet hulle is maar net mense, hulle weet ook maar net tot op ‘n punt, hulle het leiding nodig, hulle moet uitvind wat die lewe die moeite werd maak want hulle weet dit nog nie regtig nie.

Die Bybel is nie geskryf vir mense wat wil uitblink in Bybelvasvrae nie.

Dit is verskriklik dat die oersonde juis is dat mense dink hulle weet alles. Ongehoorsaamheid aan die verborge betekenis van die lewe word dan dodelik.

Ons lewe is ‘n gedurige soeke en verlange om meer te weet. Ons bestaan is deurtrek met antwoorde wat ons elke dag vind op dinge wat ons konfronteer.

Te min gaan sit ons terug en vra: maar hoe behoort ek te verstaan? Wat is op die spel in my soektog na ‘n lewe vol sinvolle antwoorde? Hoe ken ek op ‘n goeie manier hierdie wêreld en my plek daarin begryp?

Dit is waarom epistemologie gaan: die vraag na ons kennis. En dan word dit ook ‘n vraag na die rol van die Bybel in ons soeke na sin. Gou-gou kan die Bybel te intellektueel, te eensydig, bloot as ‘n inligtingsboek gesien word = ‘n boek wat ons nuuskierigheid bevredig.  

Die Bybel is ‘n boek vol geestelike reisverhale van vele helde van die geloof wat oor eeue heen geworstel het om die sin van die lewe in die lig van hul verhouding tot God te verstaan. Elke keer weer moes hulle ontdek hoedat God hulle lewens getransformeer het en gestuur het in rigtings wat hulle nooit kon voorsien nie. Abraham, Moses, Jona, Jesus, Petrus, Johannes en vele ander is deur God op ‘n lewensavontuur geneem.

Die egte geloofshelde was altyd oop vir wat God wou doen, vir die dieper dinge. En hierin het hulle uitgeblink. Daarom is hulle verhale in die Bybel opgeneem en het hulle vir ons ‘n voorbeeld geword van ons eie geestelike reis: Ons pak die reis aan met die gesindheid wat na vore gebring is in die outydse woord van ootmoed: ons weet, maar ons weet ook nie. Laat die Gees ons neem, vir ons intree, dinge vir ons duidelik maak en vir ons rigting gee. Want dit is die weg na die Waarheid en die Lewe, hoe steil, moeilik en gevaarlik ook al. Dit is die weg van die groot lewensavontuur.

Die Bybel is nie ‘n nuttige ensiklopedie nie. Dit is die Woord van God, die Woord van die Lewe wat die verskil tussen lewe en dood maak. 

Thursday, August 16, 2012

Om 'n mens se lewe deur God te laat toets.


Transformasie is ‘n sleutelwoord in Spiritualiteit.

Die Bybel vertel dikwels dat God steeds weer soek dat die mens hartgrondiglik tot ‘n lewe van sin en vreugde gevorm sal word.

Dit gaan om die mens se metamorfose.

Woorde soos bekering, wedergeboorte, hoop, geloof, regverdigmaking, genade vertel dat God nie opgee nie, dat situasies nie verlore is nie, dat ‘n mens nie sonder hoop leef nie.



God sien dus in elke vaal papie die vlinder raak en verlang daarna dat hierdie vlinder vry sal kan vlieg en fladder.

In Spiritualiteit is daar dus ‘n sterk bewussyn van wat die mens is teenoor wat die mens kan wees. Daarom word die mens gedurig getoets: sy/haar huidige situasie word bekyk en geweeg vir wat dit eintlik kan wees.

God wil skil - die oue wegskil, die nuwe as die verskil laat uitbot: God wil die mens tot volwassenheid bring.

Dit alles beteken dat ‘n mens op pad is na ‘n bestemming wat God vir jou vasgelê het.

God onderskei daarom wat werklik saak maak.

Dit is waarom die geestelike lewe gaan: om in God se wil bevind te word. Dit bring die hoogste vervulling.

Van God vertel Psalm 7:10 dat God die een is “wat die mens deur en deur toets”.  Versigtig, deeglik weeg God, ondersoek en meet God wat in die mens se lewe aangaan.

In Jeremia 12:3 word uitgeroep: “U ken my, Here, U sien my en toets my gesindheid teenoor U.” (Kyk ook Jer.6:27-30).

Hierna verlang die mens. Die Psalmis se gebed in Psalm 139:23 is vol gevoel: “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie. Lei my op die beproefde pad!” 

Daar is by mense hierdie wete: ‘n mens vind rus net wanneer ‘n mens die diepste bedoeling van jou lewe ontdek het en daarin tot rus kom. Dit word 'n verlange dat God die oue sal wegskil en die nuwe sal laat uitbot.

Dan kom daar hierdie gebed van iemand wat weet dat sy of haar lewe ‘n goddelike sin het en wat smag om dit met God se hulp te ontdek.

Dit is nie altyd maklik nie. Omstandighede kan ‘n mens desperaat na God laat roep. Wanneer alles om jou jou lewe ontwrig en jou uitsig op God verduister, kan dit pynlik word. In so ‘n situasie van swaarkry en vervolging kan die soeker uitroep oor sy of haar eie onskuld:  “As U my sou toets, my selfs in my slaap ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerd in my vind nie” (Ps. 17:3).

Die toetsing is ander kere nie ‘n maklike proses nie. Dit word ‘n loutering. In Spreuke 17:3 gebruik die skrywer ‘n bekende beeld om die proses van toetsing te beskryf: “Silwer word in ‘n smeltkroes gelouter en goud in ‘n oond, maar dit is die Here wat die gesindheid toets.”

Dit is ‘n proses wat die mens deur vuur neem: “Ek sal die derde met vuur louter soos silwer gelouter word” (Sag.13:9).

God maak skoon, soms deur vuur heen. En uit die as verrys die nuwe, die Skone. 

Dit alles beteken dat ‘n mens gedurig na jou eie lewe moet bly kyk met God se oë: wat is daar wat in die pad staan van wat God wil? Hoe kan ek bewus bly van dinge wat my geluk in die pad staan? Wat keer die metamorfose in my lewe, hou my vas aan die donkerte, ketting my vas in ou boeie van slawerny?

Deur sulke toetsvrae leer ‘n mens om met God se oë na jou lewe te kyk, om God toe te laat, soms baie pynlik, om jou na die waarheid oor jou lewe te bring.

As ‘n mens dit biddend doen, in afwagting, in vertroue, in oorgawe, sal die vryheid nie wegbly nie. En dit bring ‘n mens tot volle vreugde. 

Wednesday, August 15, 2012

Die Super Seun sonder Selfoon








Gistermiddag luister ek toevallig oor die Engelse sender na ‘n lang onderhoud met Chad le Clos.

Hy vertel tydens die onderhoud dat die beroemde gesprek met sy pa op die BBC na hy die goue medalje gewen het, tipies is van sy pa. So liefdevol is sy pa nog van kindsbeen af teenoor hom.

“Kyk daar! Kyk na my seun! Is hy nie pragtig nie! Wat ‘n mooi kind! Ek was nog nooit so gelukkig in my lewe nie. Dis asof ek dood is en hemel toe gegaan het. Van nou af is my lewe net ‘n plesier.” Oor en oor, terwyl pa Le Clos, gebore in Mauritius, maar van ouderdom 7 al in Suid-Afrika, bars van trots en vreugde en liefde, praat die pa oor sy seun.

Terwyl ons in Nederland en België was, is hierdie onderhoud met die pa telkens uitgesend. Die kommentators het geskater van lekkerkry oor Chad se pa wat onkeerbaar die seun se lof besing.

Vele mense dink die onderhoud met Chad se pa was die media-moment van die Olimpiese Spele (sien die berig hieronder).

Ek wonder of pa en seun werklik besef met watter absolute genot mense oor die hele wêreld die liefde van ‘n pa vir ‘n seun bewonder het.

Tydens die onderhoud vertel hy van hul groot familie, hul gereelde byeenkomste met die groot gesin, van sy lang oefenure, van die ondersteuning van sy ouers en van sy afrigter, van sy gevoelens toe hy sien hy het gewen en van sy verhouding met Phelps.

Twintig jaar oud, vertel hy van sy kant af met waardering en erkenning hoe sy afrigter vir drie maande saam met hom deurgebring het om hom voor te berei vir die Olimpiese Spele en vir drie maande lank nie sy gesin gesien het nie. So erg was dit dat die afrigter se dogter naderhand geweier het om met haar pa oor Skype te praat omdat sy hom gemis het en kwalik geneem het dat hy nie by haar was nie. Chad, die super-atleet, sien dit raak, waardeer dit en gee erkenning daarvoor.

Oor en oor kom ‘n mens agter hoeveel opofferings hierdie superatlete bring. En hoeveel mense saam met hulle net soveel opofferinge maak.

Tydens die onderhoud bel matriekmeisietjies na die ateljee en nooi vir Chad uit om saam met hulle na hul matriekafskeid te gaan. En, seker nog te vars om te besef hoe wêreldberoemd hy is, sit hy en werk uit of die datums in sy program gaan inpas. Hy oorweeg sowaar om te gaan….  Toe die tweede uitnodiging oor die lug kom, gryp die afrigter darem in en vertel dat hulle op die datum nie in die land sal wees nie.

Ongekunsteld, nog salig onbewus van sy superstatus, nog onaangetas deur sy roem. Dit is mooi.

Maar, sê een inbeller, nadat hy vertel het dat hy Chad ontmoet het en sy spontaneïteit geniet het, hy wil net vra dat hy moet bly soos hy is: ‘n seun met ‘n nugtere, mooi geaardheid.

Sal dit ooit so bly? Want, om roem te dra, moet ‘n mens supersterk wees – in jou karakter. Roem, soos mag, korrupteer.

Die lang, lang onderhoud is boeiend. Dit is ‘n studie in karakterbou, ‘n onthulling van iemand se innerlike.

Wat onthou ek die meeste van al die interessanthede, vra ek myself na die tyd af? Daar is pragtige momente as hy oor sy pa en ma praat, oor sy opofferinge, oor sy liefde vir sy land, dat hy graag Pres. Zuma en Oud Pres Mandela wil ontmoet, as mense inbel en vertel hoe hy hulle lewens raak en hulle inspireer en as hy elke keer weer heel spontaan vir ‘n ieder en ‘n elk bedank – duidelik eg dankbaar.

Vreemd genoeg, is dit iets wat die afrigter, wat ook aan die onderhoud deelneem, vertel, wat my veral bybly:

Hy praat oor Chad se absolute toewyding en hoeveel hy bereid was om prys te gee. Maar, sê hy, hy het ook altyd weer die leiding van mense om hom aanvaar en op goeie raad gereageer. Kyk, vertel hy, die seun is 20 jaar oud, maar hy kon net op ‘n Saterdagaand ‘n selfoon kry wat hy weer op ‘n Sondag moes inhandig. En hy het dit heel gewillig gedoen. Vir die res van die week was hy daarsonder.

Stel jou voor.

‘n Twintigjarige seun sonder ‘n selfoon?

Geen wonder hy het ‘n goue medalje gewen nie.

As ‘n mens ‘n doel voor oë het, is jy op pad om te presteer. Jou lewe is gerig, jy werk aan wat jy graag wil bereik. Jy is op pad om resultate te behaal.

Dit is lank nie genoeg nie. Jy moet ook nog hard, hard werk. En jy moet kan vasbyt en deurdruk en opoffer. En jy moet na raad kan luister. Jy moet mense om jou hê wat dinge nie noodwendig vir jou makliker maak nie, maar wat van jou dinge vra wat belangrik is om jou doel te bereik.

Iewers moet jy ook bereid wees om anders as ander mense te wees. Om die “normale” dinge prys te gee, ter wille van die groter doel. Om sonder ‘n selfoon te wees.

Kyk na die seun! Kyk hoe pragtig is hy! Is hy nie mooi nie! Dit is my seun. Hy is ‘n wonderlike kind!

Klink bietjie na die Evangelie van die groot offer, van die Seun in wie die Vader ‘n groot vreugde, welbehae gehad het.

Mooi stof vir ‘n kinderpreek. So word ons geïnspireer. 

Die ander Seun, die een wat sy lewe afgelê het, besef ‘n mens, is ook so – net veel meer. As ‘n swemmer ‘n mens soveel kan inspireer, des te meer doen Hy dit…



While watching his son walk around the pool after the medal ceremony, Bert shouts: "Look at him, he's beautiful, I love you!"I have never been so happy in my life ... It's like I have died and gone to heaven. Whatever happens in my life from now on, it is plain sailing." Getting a fright when he sees his own large figure on one of the TV monitors, Bert asks Balding if the interview is live and then apologises saying: “Sorry, sorry. I'm ugly, I know!” Bert's endearing interview has gone viral, even leading to the hashtag “ChadsDad” on Twitter. Hailed by some as the media moment of the London 2012 games so far, the tweets have been pouring in: “Sport is the greatest thing! Us mortals can't win Olympic medals, but we can still feel it (almost!!) like #chadsdad #london2012 legend #SA” “The best thing about the Olympics so far = #ChadsDad” “I want Chad Le Clos to win so I can see his dad again! #chadsdad” “Dear BBC, can we please have Chad's Dad on again tonight?” “Fine work from the BBC there getting #chadsdad on. That is what the Olympics are about and what they mean to people” “Chad, your old man rocks. I have just looked in the dictionary at the word 'proud' and this is what I found. #ChadsDad” Chad Le Clos won the race in 1min 52.96sec, swimming alongside his long-time hero, Michael Phelps (who finished just 0.05sec after Le Clos). Japan's Takeshi Matsuda took third position. Bert could be seen wildly waving the South African flag in the audience as he watched his son take the gold medal.

Tuesday, August 14, 2012

Wanneer mans die swakker geslag is...


In vanoggend se Trouw is daar ‘n boeiende berig oor ortodokse Jode in Israel wat nou brille dra om hulle te help om nie vroue raak te sien nie sodat hulle nie onsedelike gedagtes kry nie.

‘n Mens kan hieroor spot. Dit vertel egter ook van hul religieuse ywer en hul begeerte om nie pervers te word nie. En dit wys ook weer hoe sensitief mense is vir hoe ander lyk, hoe hulle hul voorkoms versorg en hoe hulle aantrek.

En tog, tog, kry 'n mens 'n gevoel van onbehaaglikheid.

Met sulke berigte oor mense se ekstreme optrede, is ek altyd nuuskierig om lesers se kommentaar te lees. En in die reaksies sien 'n mens raak wat dit is wat jou pla omtrent sulke optredes.

Onder die reaksies op die berig was daar ‘n paar wat die Nederlandse skerpsinnigheid waardig was.

Die lesers skryf dat hierdie gebrildraery wys dat mans eintlik die swakker geslag moet wees. Hulle kan nie eers teen vroue staande bly nie.

Die ander reaksie het my nogal gehelp om ‘n besondere woord van Jesus te verstaan:

“Uiterlike” dinge is wat hierdie mans se lewe jaag. Hulle gedrag word deur ander mense en deur indrukke van buite bepaal. Jesus, sê die skerpsinnige reaksie, het juis vertel dat ‘n mens onrein word deur wat van binne, uit jou hart, kom. Vanuit ‘n rein hart, ‘n hart wat God lief het, kan ‘n mens, daarenteen, sterk, rein en gelukkig leef.

Sowaar, besef ek by die lees van die reaksie, bring so ‘n berig soos hierdie jou tot die punt om na te dink oor wat in jou hart leef, om verantwoordelikheid vir jou lewe en jou optredes te aanvaar en om volwasse te leef. 

Jy kan van binne, in jou hart, iemand wees wat na vroue kyk as mense en mooi vroue bewonder vir hul skoonheid sonder om na hulle as seksobjekte te kyk. 

Of ‘n mens kan ook in jou hart, in jou binneste, erotiek vier as ‘n gawe van God wat nie vuil of skandalig hoef te wees nie. Die liggaam, kan jy weet, is mooi en goed en ‘n gawe om voluit te geniet.

Die geestelike lewe is immers nie gnosties nie, dit vlug nie weg van die liggaamlike nie en dit beskou die fisieke dinge nie as ‘n bedreiging nie. Die liggaam, skryf Paulus juis, is ‘n tempel van God.

Aldus kyk ‘n mens na mooi vroue en na skoonheid in terme van jou verhouding tot God:

Altyd weer vier ‘n mens die liggaamlike op so ‘n manier dat dit jou en jou partner mooier mense maak, wat vreugde aan mekaar gee, ook liggaamlik en wat die ander een en ander mense nooit afbreek of as objekte mishandel nie. 

Die liggaamlike as gawe van God moet intimiteit en liefde bevorder. Dit maak juis die liggaamlike soveel mooier en erotieser.

Hier is die berig en onderaan drie reaksies daarop:

De aanblik van een aantrekkelijke vrouw is onweerstaanbaar, zo vinden veel mannen. Maar een misstap is zo gezet en daarom hebben ultraorthodoxe joodse mannen sinds kort een nieuw gadget. In Israël zijn speciale brillen op de markt gekomen die het zicht niet verbeteren, maar juist belemmeren. Voordeel: de kans op feminiene verleidingen wordt drastisch gereduceerd.

De glazen van het hulpmiddel zijn beplakt met twee halfdoorzichtige stickers. De brillenstickers voor de zeer gelovige mannen, die op straat te herkennen zijn aan hun pijpekrullen, hoofddeksels en lange zwarte jassen, zijn zo gemaakt, dat het zicht vanaf ongeveer drie meter vertroebelt. Wandelen kan dus wel min of meer veilig, maar autorijden is niet mogelijk met het geval. Een complete set (inclusief montuur, glazen en velletje met twee stickers) is voor een bedrag van omgerekend vijf euro te verkrijgen.

Lustgevoel
Ultra-orthodoxe joden, die momenteel zo'n tien procent uitmaken van de bevolking in Israël, dringen aan op een zeer strikte naleving van de joodse religieuze wetten. Inperking van het contact tussen mannen en (ongetrouwde) vrouwen hoort daarbij. Vrouwen, zo is de redenering, zetten mannen aan tot begeerte. In sommige bussen moeten vrouwen daarom achterin plaatsnemen, apart van mannen. Op die manier, is de achterliggende gedachte, blijft het lustgevoel van godsvruchtige gelovigen op een acceptabel niveau.

Expansiedrift
Afgelopen tijd kwamen de orthodoxen geregeld in het nieuws. Telkens was de boodschap van conservatieve aard. Posters met afbeeldingen van vrouwen werden geweerd uit orthodoxe wijken. Eerder dosten orthodoxe demonstranten zich uit met Holocaust-symbolen, zoals gevangenisuniformen en Jodensterren, omdat de regering hun niet zou toestaan strikte religieuze regels na te leven. Bij veel seculiere joden en gematigd religieuze gelovigen groeit het onbehagen. Niet in de laatste plaats vanwege de expansiedrift van de orthodoxen. Hun geboortecijfers zijn hoog - in de kleuterklassen zijn de orthodoxen al in de meerderheid.

Groei of niet - het 'vrouwenprobleem' voor de orthodoxe man blijft nog wel even bestaan. Om onnodig ongerief te voorkomen, heeft de firma die de brillen verkoopt een scala aan andere hulpmiddelen. Zo zijn er schermen die orthodoxe mannen naast hun hoofd kunnen plaatsen. Vooral tijdens vliegreizen is dat handig. Op die manier worden vliegende gelovigen niet geconfronteerd met een vrouwelijk lijf.


Eerste reaksie:
"Vrouwen, zo is de redenering, zetten mannen aan tot begeerte" . . Dus net als bij de moslims worden de joodse vrouwen ook gediscrimeerd omdat die mannen hun rits niet dicht kunnen houden?  Als die mannen zo veel beter zijn dan vrouwen, jullie woorden - niet de mijne, dan zijn ze toch ook in staat zich boven begeerte te verheffen ? Of is de man toch het zwakke geslacht?

Tweede reaksie:
Wat een sadomasochisme leggen deze engerds aan de dag zeg. Blijkbaar vertrouwen ze niet op de eigen ethische vaardigheden en zijn ze bang dat ze hun hitsige oprispingen niet kunnen weerstaan. Dus worden externe hulpmiddelen aangewend om zichzelf in het morele gareel te houden. Al lezende ontstaat hier toch echt het beeld van ongeleide en hoogst explosieve projectielen die je maar beter uit de maatschappij kunt houden.

Derde reaksie
Wat kan een gelovig en verstandig mens hier nog op zeggen? Blijkbaar zijn er overal mensen te vinden voor wie geloof geen zaak van het hart is maar eerst en vooral bepaald wordt door de uiterlijkheid van de dingen. Toch werd al heel lang geleden door de Jood Jezus gezegd dat niet wat van buiten de mens komt hem omrein maakt maar dat wat uit zijn hart voortkomt. Deze rechtzinnige mensen hebben dit in al hun geloofsijver blijkbaar nog steeds niet door.


Blog Archive