Wie ‘n ander voorspoed gun, sal
self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is. (Spreuke 11:25).
Weggesteek tussen al die Spreuke, sit hierdie merkwaardige stukkie lewensinsig.
Eeue lank het dit bewaar gebly: 'n simbool van wat mense se lewens mooi maak.
Hierdie
stukkie wysheid vertel hoe mense reeds in Bybelse tye die geestelike insig
gehad het dat mens self geestelik kan groei deur jou inspanning vir ander.
Mense besef spoedig waarom dit 'n "geestelike" oefening is: As
‘n mens jou instel op ander se geestelike welsyn, bring dit verdieping,
dankbaarheid, geluk en sin in jou lewe. Jou geestelike lewe word fundamenteel deur omgee gevorm.
Om
jouself vir ander te gee, is ‘n waagstuk waarin jy jou moet oefen.
‘n Mens doen iets wat nie eintlik deel is van jou natuur nie.
Dit
is eerder natuurlik om ingestel te wees op jouself.
Mense
wat hul self vir ander gee, lewer aangrypende getuienisse oor die gevolge
daarvan. Deur die geestelike oefening van omgee en uitreik na ander, ontdek ‘n
mens dikwels heel verras totaal nuwe dinge van jouself. Jy tree op op manier
wat jy voorheen gedink het nie moontlik is nie. Jy sien in jouself kragte raak
waarvan jy voorheen nooit bewus was nie.
Ek
het dikwels gesien hoedat groot, volwasse mense, gewoonlik hard en sterk, in
staat is tot die mees sensitiewe optrede as hulle betrokke raak by die swaarkry
en verlies van ander mense. Hulle ontdek 'n sagte deel van hulleself wat hul mens-wees mooier, dieper en ryker maak.
‘n
Pa wat sy seun deur die hel van dwelms moet bystaan, geteister deur die kind se
kriminele optrede, kry wonderbaarlike krag om vol te hou, om by sy kind te bly,
om hom ten spyte van teleurstellings en ondankbaarheid, te bly liefhê.
‘n
Man wat sy sterwende pa tot die einde verpleeg, wat vir hom die mees intieme
dinge moet doen omdat sy pa dit nie self meer kan doen nie, kry die innerlike
krag om daarmee vol te hou.
Mense
kry iewers van binne uit reserwe’s om uit hul pad te gaan om ander by te staan.
Meer as een keer sê mense dat hulle die diepte en omvang van God se genade op
‘n aangrypende manier leer ken het toe hulle saam met ander ‘n pad van omgee
geloop het.
Mense
sê dikwels dat hulle eers begin verstaan het waarom die lewe gaan as hulle
uitgereik het na ander en vir hulle versorg het.
Dit
kan lewensveranderend wees: Soms kry mense dan ook vir die eerste keer nuwe
insig oor wat God met hulle wil doen. Hulle besef hoe God hul gebruik om lyding
te versag en genade te betoon. Vir die eerste keer word hul bewus van hoe God
by hulle bly in die dor tye.
Dikwels
sal jy mense ook hoor sê dat hulle nooit besef het hoe spesiaal iemand is by
wie hulle betrokke geraak het nie. Eers toe hulle deel geword het van hulle
lewens en na hulle uitgereik het, het hulle ook by sulke lydendes diep
geestelike lesse geleer. Hulle ontdek hoe diep God kan woon in selfs die
siekste, ellendigste van mense.
Soms
sal mense sê dat hulle God se nabyheid ervaar het terwyl hulle by ander mense
was om hulle moed in te praat en by te staan. Dankbaarheid en selfs blydskap
het oor hulle gekom terwyl hulle ander bemoedig het.
Die
Bybel vertel heel konkreet hiervan: die arm vrou wat ‘n penning in die skatkis
by die tempel ingegooi het, was ‘n gelukkig mense. Haar lewe het sin by God
gehad. Sy was nie te arm om weg te gee nie. Haar blydskap in God was so groot
dat sy die bietjie wat sy nog gehad het kon weggee.