Herinneringe aan 'n mens se geestelike lewenspad kan ‘n belangrike eerste geestelike oefening word waardeur ‘n mens se verhouding met God verdiep word.
Deur herinneringe raak ‘n
mens bewus van hoe ‘n mens se lewe gevorm word deur alles wat oor jou lewenspad
kom.
‘n Mens ontdek hoedat jou
verlede steeds weer ‘n blywende invloed het op wie jy is, op wat jy doen en op
hoe jy jou lewe deurbring.
Deur spesifiek vir ‘n
paar dae na te dink oor ‘n mens se lewensloop kan ‘n mens geestelike groei.
Maar hiervoor is dissipline nodig: oor die tydperk van dae lank, dink ‘n mens
na oor wat met jou in verskillende tye van jou lewe gebeur het. Dit word ‘n
nadenke oor ‘n mens se kinderdae, jou kleutertyd, tienertyd, tyd van jong
volwassenheid en latere fases.
Dit is nadenke waarmee ‘n
mens bewustelik besig is: elke oggend of aand met stiltetyd, of sekere tye van
die dag, kan ‘n mens aandag hieraan gee. Dit is goed om selfs nota’s te maak en
‘n mens se gevoelens te beskryf. Dikwels
gebeur dit dat ‘n mens se herinneringe aan sekere tye verder geprikkel word
wanneer ‘n mens iets onthou en dat dit weer ander gedagtes na vore bring. Al
hierdie herinneringe word bewustelik
onthou en verwerk.
Soms sal dit moeiliker as
ander tye wees om deur sekere herinneringe te werk. Maar dissipline vra dat ‘n
mens die waagstuk moet aanpak. Waar die proses te intens word of waar
herinneringe ‘n mens depressief maak, is dit belangrik om hulp te soek en die ervaringe
met ‘n professionele persoon te deel. Die geestelike oefening van herinneringe
wil egter nie met sulke ekstreme herinneringe werk nie. Dit is ‘n rustige,
versigtige omgaan met daardie momente in ‘n mens se lewe wat ‘n mens op jou
geestelike weg beïnvloed en wat ‘n mens geestelik sal laat vorder deur op ‘n
volwasse manier daardeur te werk.
Die dissipline het te
doen met meer as net ‘n klomp feite in jou gedagtes opnoem. ‘n Mens bedink
steeds weer hoe jou lewensloop jou beïnvloed het, hoe dit jou geraak het en hoe
dit jou lewe verander het.
Dit beteken weer dat ‘n
mens steeds die pad van herinneringe met God moet loop: want per slot van sake
vra ons geloof dat ons iewers die dinge van ons lewe vanuit die hoek van God
moet bedink. Hoe, sou ‘n mens kon vra, sien ‘n mens God se hand raak in die
ervarings van die lewe?
En dit weer, sê die wyses
in spitiruele tekste oor geestelike oefeninge, beteken ook dat ‘n mens jouself
instel om God se genade te herken in wat jy onthou. Daardeur kom dankbaarheid oor
jou lewenspad in jou innerlike op.
In hierdie tyd van
afsondering met my herinneringe, kan dit gebeur dat ek vir God dankbaar is
selfs oor die negatiewe dinge in my verlede. Die slegte dinge in my verlede bring my byvoorbeeld
om dankbaar te wees dat ek daardeur kon kom, of dat dit my geleer het om nie
dieselfde foute te maak nie, of dat dit my nader aan God gebring het of dat dit
my bewus gemaak het hoe feilbaar ek is en hoe nodig ek God het. Op baie
verskillende maniere sal mense hul verlede dan verwerk, as iets wat ons in ons
geestelike lewe laat groei het.
Die geestelike oefening
wat begin met herinneringe aan ‘n mens se verlede, kan ‘n eerste stap in
genesing of in die proses van geestelike volwassewording word.