Transformasie is ‘n
sleutelwoord in Spiritualiteit.
Die Bybel vertel dikwels
dat God steeds weer soek dat die mens hartgrondiglik tot ‘n lewe van sin en
vreugde gevorm sal word.
Dit gaan om die
mens se metamorfose.
Woorde soos
bekering, wedergeboorte, hoop, geloof, regverdigmaking, genade vertel dat God
nie opgee nie, dat situasies nie verlore is nie, dat ‘n mens nie sonder hoop
leef nie.
God sien dus in
elke vaal papie die vlinder raak en verlang daarna dat hierdie vlinder vry sal kan vlieg en fladder.
In Spiritualiteit
is daar dus ‘n sterk bewussyn van wat die mens is teenoor wat die mens kan
wees. Daarom word die mens gedurig getoets: sy/haar huidige situasie word bekyk
en geweeg vir wat dit eintlik kan wees.
God wil skil - die oue wegskil, die nuwe as die verskil laat uitbot: God
wil die mens tot volwassenheid bring.
Dit alles beteken
dat ‘n mens op pad is na ‘n bestemming wat God vir jou vasgelê het.
God onderskei daarom
wat werklik saak maak.
Dit is waarom die
geestelike lewe gaan: om in God se wil bevind te word. Dit bring die hoogste
vervulling.
Van God vertel
Psalm 7:10 dat God die een is “wat die mens deur en deur toets”. Versigtig, deeglik weeg God, ondersoek en
meet God wat in die mens se lewe aangaan.
In Jeremia 12:3
word uitgeroep: “U ken my, Here, U sien my en toets my gesindheid teenoor U.”
(Kyk ook Jer.6:27-30).
Hierna verlang die
mens. Die Psalmis se gebed in Psalm 139:23 is vol gevoel: “Deurgrond my, o God,
deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die
verkeerde pad is nie. Lei my op die beproefde pad!”
Daar is by mense hierdie
wete: ‘n mens vind rus net wanneer ‘n mens die diepste bedoeling van jou lewe
ontdek het en daarin tot rus kom. Dit word 'n verlange dat God die oue sal wegskil en die nuwe sal laat uitbot.
Dan kom daar
hierdie gebed van iemand wat weet dat sy of haar lewe ‘n goddelike sin het en
wat smag om dit met God se hulp te ontdek.
Dit is nie altyd
maklik nie. Omstandighede kan ‘n mens desperaat na God laat roep. Wanneer alles
om jou jou lewe ontwrig en jou uitsig op God verduister, kan dit pynlik word.
In so ‘n situasie van swaarkry en vervolging kan die soeker uitroep oor sy of
haar eie onskuld: “As U my sou toets, my
selfs in my slaap ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerd in my
vind nie” (Ps. 17:3).
Die toetsing is ander
kere nie ‘n maklike proses nie. Dit word ‘n loutering. In Spreuke 17:3 gebruik
die skrywer ‘n bekende beeld om die proses van toetsing te beskryf: “Silwer
word in ‘n smeltkroes gelouter en goud in ‘n oond, maar dit is die Here wat die
gesindheid toets.”
Dit is ‘n proses
wat die mens deur vuur neem: “Ek sal die derde met vuur louter soos silwer
gelouter word” (Sag.13:9).
God maak skoon, soms deur vuur heen. En uit die as verrys die nuwe, die Skone.
Dit alles beteken
dat ‘n mens gedurig na jou eie lewe moet bly kyk met God se oë: wat is daar wat in die pad
staan van wat God wil? Hoe kan ek bewus bly van dinge wat my geluk in die pad
staan? Wat keer die metamorfose in my lewe, hou my vas aan die donkerte,
ketting my vas in ou boeie van slawerny?
Deur sulke
toetsvrae leer ‘n mens om met God se oë na jou lewe te kyk, om God toe te laat,
soms baie pynlik, om jou na die waarheid oor jou lewe te bring.
As ‘n mens dit
biddend doen, in afwagting, in vertroue, in oorgawe, sal die vryheid nie wegbly
nie. En dit bring ‘n mens tot volle vreugde.