Nigel Barker en Tintoretti se uitbeeldings van dieselfde tema: die Samaritaanse vrou van Johannes 4.
Die
belangstelling in Spiritualiteit word dikwels gekoppel aan die huidige
onvergenoegdheid van mense met dogmatiese haarklowery en teologiese
binne-gevegte.
Daar word gesê
dat dit nie regtig saak maak wat mens glo nie. Wat tel is dat geloof in die
praktyk sigbaar is. Mense wil nie hoor wat ander glo nie.
Daar is teveel
wat baie praat oor hul geloof, terwyl dit min verskil aan hul lewens maak.
Mense wil aan mense se lewens sien dat hul gelowig is.
Dit is ‘n geldige
punt. Jesus het hom sterk verset teen mense wat vroom oral rondloop en groot
teologiese waarhede bepeins, maar die groot dade van ontferming en geregtigheid
netjies systap.
Maar ‘n mens moet
nie te gou die ander kant miskyk nie. Dit is seker waar dat godsdiens nie
net om teologiese, intellektuele inhoude gaan nie. Dit aan ook om moment van
heiligheid, om rituele, om spesiale ervarings by die prediking, die sakramente,
die doop en die nagmaal. Al die kerklike rituele moet sinvol en eg belewe word. Geloof word gevoed en versterk deur sulke rituele.
In die Ou
Testament is daar baie tekste wat vertel van die geloofslewe van die gelowiges.
Vroom het hulle die een offerande na die ander gebring, die een geloofspraktyk
na die ander beoefen, die een ritueel na die ander onderhou. Dit was mooi:
hierdie praktyk van toewyding aan hul godsdiens.
Tog laat God
weet: ook al hierdie vroomheid is hol as dit nie geknoop word aan ‘n lewe wat
ingestel is op omgee vir ander en op geregtigheid vir almal nie.
Nie net ‘n vroom
teologie nie, maar ook ‘n vroom lewe vol rituele kan leeg wees.
Die Samaritaanse
vrou se verhaal word in Johannes 6 help ‘n mens hier met meer insig: Johannes
wil vir sy lesers meer laat ervaar van God se intieme verhouding met mense van
alle tye. Dit gaan om die volk van die verbond wat al vir eeue vir God in
Jerusalem aanbid het. Daar het God trou aan hulle gesweer en het hulle telkens
weer van God se liefde bewus geword. Net so het die Samaritane God in hul land
op die berg Gerisim aanbid. Die berg was vir hulle die plek van seëninge, want
dit is daar waar God hulle ontmoet het en die gebooie aan hulle gegee het (Deut. 11:29; 27:12; Jos. 8:33).
Mettertyd het
die twee groepe aartsvyande geword in hul stryd oor waar die regte plek is om
hul rituele uit te voer.
Hieroor praat
Jesus en die Samaritaanse vrou. Hulle intense gesprek gaan oor hulle moeilike
verlede, toe God hulle mense opgesoek het, maar toe hulle ook in ekstreme
vyandskap teenoor mekaar verval het. Samaritane praat immers nie met Jode nie
(Joh.6:9).
Heen en weer
gaan die gesprek tussen Jesus en die vrou, gelaai met diep simboliese gedagtes.
Jesus praat met haar oor wat sy glo.
Uiteindelik
besef die vrou: nie die berge nie, nie die plekke van aanbidding nie, maar
Jesus maak die verskil. Dit is wat ‘n mens moet glo – hierdie boodskap van die
lewende water.
Getransformeerd,
aangeraak, kom sy tot Jesus en ontstaan daar ‘n besondere nabye verhouding
tussen hulle. Sy vertel van haar dorpsgenote van Jesus en word aldus die eerste
sendeling namens Jesus - ‘n vroue-apostel. Sy het ‘n boodskap. Sy gaan
uit na mense om vir hulle te vertel wat om te glo.
Die afloop van
die verhaal van die Samaritaanse vrou toon hoe wyd haar metamorfose uitkring as
haar dorpsgenote sê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie”.
Hulle, geraak deur haar getuienis dat “Hy my alles vertel het wat ek gedoen
het”, verander deur haar woorde oor Jesus, het “Self na Hom geluister”. Hulle het in sy volle teenwoordigheid gekom.
Dit weer bring hulle geloof tot ‘n nuwe vlak: “ons weet dat Hy waarlik die
Verlosser van die wêreld is” (Joh.4:40).
Dit is geloof:
geloof is ‘n verhouding met die lewende God, nie ‘n gesukkel oor allerhande
slim strydvrae nie.
Die verhaal van
die vrou vertel van ‘n ommekeer wat volg op ‘n intense teologiese gesprek. Die
vrou, ingelig oor haar eie mense se geskiedenis en maar net te goed bewus van
die verhoudinge van haar mense met die Jode, praat met Jesus oor diepsinninge
dinge. Daarom kan sy aan haar gesprek sekere belangrike gedagtes koppel: Jesus
is ‘n profeet, Hy is dalk die Messias. En uiteindelik die uitkoms: Hy is die
Verlosser van die wêreld.
Sy weet Jesus is
reg. Dit is belangrik wat jy glo en dat hierdie geloof gekoppel word aan die
Een wat aan jou geloof skenk en die lewende water uitdeel.
Geloof het te
doen met ‘n getransformeerde lewe wat steeds weer meer en meer soek om na God
se wil te leef en God se beelddraers te wees. Hoe meer ‘n mens van God
verstaan, hoe meer word ‘n mens se geloof verryk. Hoe meer ‘n mens verstaan dat
God liefdevol vir mense tot vryheid lei, hoe sinvoller word geloof.
Maar al hierdie
insigte word gedra en gedryf deur die een belangrike ding: om in die
teenwoordigheid van die Lewende te wees, die Een wat die lewende water uitdeel.
Dit is ‘n
mistieke band. Dit gaan om ‘n verhouding waarin die partye mekaar se
teenwoordigheid ervaar. Dit is soos twee verliefdes: hoe meer hulle van mekaar
leer ken, hoe dieper word hul liefde, hoe passievoller hul toewyding aan mekaar
en hoe ryker hul verhouding.
Dit tel tog wat
jy glo.
‘n Mens kan
verstaan dat mense onvergenoegd is met al die teologiese binnegevegte. Sulke
gevegte en slimmighede is al baie eeue by ons. Die Samaritane en die Jode het
ook sulke gevegte geken – selfs oor waar die regte plek is om God te aanbid.
Vasgeknoop aan die verlede en vasgevang in hul rituele, het hul die genesende
verhouding met God kwytgeraak. Hulle het nie meer God self raakgesien nie.
Berge in plaas van die Gees was hulle fokus.
Toe kom die
Verlosser: wie na Hom self luister, die Een wat die Gees gee, die een wat ‘n
mens leef om “in waarheid” te aanbid, ontdek egte geloof en word vry van al die
stryd- en twisvrae wat mense van mekaar skei en hulle vyande van mekaar maak.