Hoe
lees ‘n mens die Bybel?
In
vele huidige kommentare en Bybelstudies sal ‘n mens ‘n horde inligting kry oor
die skrywer, ontstaanstyd, die konteks, die lesers, die inhoud en die vorm van
Bybelboeke. Trouens, dit lyk asof daar nooit ‘n einde kom aan al die informasie
wat in sulke tekste aan Bybellesers gegee word nie.
Die
veronderstelling is dat ‘n mens die Bybel beter verstaan as jy soveel as
moontlik inligting daaroor het.
Vir
lang tye was Bybelkenners hierop ingestel: hulle wou veral informasie oor die
Bybel meedeel.
Dit
was belangrik om dit te doen. Daaraan moet nie getwyfel word nie. Want vroeër
jare het mense die Bybel oopgeslaan en misbruik sonder om te besef dat in die
proses word die boodskap van die Bybel verdraai deur dit uit konteks te lees.
Hoe
meer inligting ‘n mens oor die Bybel het, hoe beter kan ‘n mens sulke foute
vermy.
‘n
Mens merk hierdie tendens ook in vele preke: baie aandag word bestee om ‘n
goeie uitleg te gee van die Bybelboek in sy tyd.
Maar
hierdie informatiewe lees van die Bybel is net die halwe waarheid en net die
begin van die proses van verstaan.
Die
Bybel self wil nie bloot inligting meedeel nie. Dit is in die eerste plek en
veral ‘n boek wat ‘n verskil wil maak.
‘n
Mens kan alles oor die Bybel se
uitsprake weet en baie inligting daaroor kry sonder dat dit iets aan jou doen.
Die
Bybel wil juis iets aan mense doen: dit is ‘n boek wat op metamorfose ingestel
is – op ‘n gedaanteverwisseling, op ‘n oorgang van die tydperk van die vlees na
‘n lewe in die Gees, van ‘n lewe wat op oppervlakkige dinge ingestel is na ‘n
lewe wat dieper soek, wat verlang na die Verborge dinge van God. ‘n Mens het
nie met ‘n geskiedenis of met inligting te doen nie, maar met die Waarheid.
Om die Bybel op die manier te verstaan,
verander ‘n mens se lees daarvan. ‘n Mens se lees van die Bybel is dan nie
bloot net op feite ingestel nie, om meer van dinge in daardie tyd te leer nie.
Dan
lees ‘n mens die Bybel om agter te kom watter verandering dit in jou lewe as
leser bewerkstellig.
‘n
Mens lees die Bybel steeds weer op soek na dieper dinge: wat is die verandering
wat in ‘n Bybelteks van my gevra word? Hoe werk die Bybelteks en die wêreld
waarvoor dit geskryf is, in op my wêreld en op my plek in daardie wêreld.
Op
die manier stel jy jou oop om meer te word as wat jy is. Daarom kan die Bybel
alleen vrugbaar wees vir mense wat weet hulle is maar net mense, hulle weet ook
maar net tot op ‘n punt, hulle het leiding nodig, hulle moet uitvind wat die
lewe die moeite werd maak want hulle weet dit nog nie regtig nie.
Die
Bybel is nie geskryf vir mense wat wil uitblink in Bybelvasvrae nie.
Dit
is verskriklik dat die oersonde juis is dat mense dink hulle weet alles.
Ongehoorsaamheid aan die verborge betekenis van die lewe word dan dodelik.
Ons
lewe is ‘n gedurige soeke en verlange om meer te weet. Ons bestaan is deurtrek
met antwoorde wat ons elke dag vind op dinge wat ons konfronteer.
Te
min gaan sit ons terug en vra: maar hoe behoort ek te verstaan? Wat is op die
spel in my soektog na ‘n lewe vol sinvolle antwoorde? Hoe ken ek op ‘n goeie
manier hierdie wêreld en my plek daarin begryp?
Dit
is waarom epistemologie gaan: die vraag na ons kennis. En dan word dit ook ‘n
vraag na die rol van die Bybel in ons soeke na sin. Gou-gou kan die Bybel te
intellektueel, te eensydig, bloot as ‘n inligtingsboek gesien word = ‘n boek
wat ons nuuskierigheid bevredig.
Die
Bybel is ‘n boek vol geestelike reisverhale van vele helde van die geloof wat
oor eeue heen geworstel het om die sin van die lewe in die lig van hul
verhouding tot God te verstaan. Elke keer weer moes hulle ontdek hoedat God
hulle lewens getransformeer het en gestuur het in rigtings wat hulle nooit kon
voorsien nie. Abraham, Moses, Jona, Jesus, Petrus, Johannes en vele ander is
deur God op ‘n lewensavontuur geneem.
Die
egte geloofshelde was altyd oop vir wat God wou doen, vir die dieper dinge. En
hierin het hulle uitgeblink. Daarom is hulle verhale in die Bybel opgeneem en
het hulle vir ons ‘n voorbeeld geword van ons eie geestelike reis: Ons pak die
reis aan met die gesindheid wat na vore gebring is in die outydse woord van
ootmoed: ons weet, maar ons weet ook nie. Laat die Gees ons neem, vir ons
intree, dinge vir ons duidelik maak en vir ons rigting gee. Want dit is die weg
na die Waarheid en die Lewe, hoe steil, moeilik en gevaarlik ook al. Dit is die
weg van die groot lewensavontuur.
Die
Bybel is nie ‘n nuttige ensiklopedie nie. Dit is die Woord van God, die Woord
van die Lewe wat die verskil tussen lewe en dood maak.