In ons tradisie
word nie veel gemaak van jou gewete nie. Ook nie as ‘n geestelike dimensie van ‘n
mens se geestelike reis nie.
‘n Belangrike
geestelike oefening is om bewus te wees van en ingestel te wees op die stem van
jou gewete.
‘n Mens, skryf
Johannes Klimakos, moet begin wonder wanneer jou gewete jou nie meer pla nie.
Wanneer jy nie
meer die stem van jou gewete hoor soos dit jou aankla nie, kan jy maklik onder
die waan leef dat jou gewete “skoon” is. Jou gewete is stil.
Met so ‘n “stil”
gewete dink jy dat alles in orde is en word jy deur niks gekwel nie.
Hier moet ‘n mens
oplet: ‘n Gewete kan stil wees wanneer dit stilgemaak is deur ‘n oordaad van
kwaad en van sonde. So hard kan ‘n kors om ‘n mens se gewete raak dat ‘n mens
nie hoor wanneer dit jou aankla nie.
Wees dus nie te
gerus wanneer jou gewete gesus is nie. Inteendeel.
Iewers ander skryf
Johannes: ‘n Goeie gewete is ‘n gewete wat steeds weer reg is om ‘n mens vinnig
te veroordeel wanneer ‘n mens skuldig is.
‘n Goeie gewete is
‘n gewete wat altyd weer aktief beoordeel of ‘n mens se dade “goed” is.
‘n Stil gewete is
iets anders as ‘n goeie gewete. ‘n Stil gewete kan dood wees. Of dit kan ‘n
gewete wees wat ‘n mens onder die verkeerde indruk bring dat alles in jou lewe
netjies in orde is.