Augustinus beskryf een van die oomblikke waarin hy ‘n
geestelike verdieping ondergaan het.
Hy was besig om ‘n boek van Cicero te lees. Hy was
bewus daarvan dat dit nie ‘n Christelike werk was nie en dat Cicero nie na
Christus verwys nie.
Tog, skryf Augustinus, het Cicero iets kwytgeraak
wat hom diep geraak het. Uit die lees van 'n sekulêre teks, word 'n geestelike verdieping gebore.
Cicero gee naamlik raad aan iemand dat ‘n mens nie
maar net die groot redenaars oor wysheid moet bewonder nie.
Dit gebeur naamlik wanneer
die wysgere van verskillende skole in debat met mekaar tree te maklik dat ‘n
mens onder die indruk van hulle wysheid of van hulle wysheidstradisies kom.
Wat nodig is, is eerder dat ‘n mens die wysheid
self moet liefhê. Dit is waarna ‘n mens moet soek, waarna ‘n mens moet jaag,
wat ‘n mens moet vashou en jou eie moet maak.
Wat my laat dink: die bewondering vir sekere
teologieë, teoloë, predikante, van wyse mense wat ook in ons tyd voorkom.
Dit word ‘n ervaring wanneer ‘n mens verby al die
menings en slimmighede kan kyk en fokus op die Wysheid self, dit wat
mense-menings voorafgaan en waarop die wyses hul slim uitsprake grond.
Nie gepraat oor wysheid nie, maar Wysheid self: dit
maak saak.
Dan ontstaan 'n liefdesverhouding, word die Wysheid deel van 'n mens se eie bestaan en woon dit in jou innerlike. Dit is nie iets wat op 'n afstand in ander mense se lewens voorkom nie.
Dit word joune.
Dit is transformatief.