Sunday, August 05, 2012

Oor die dieper betekenis van herinnering as ‘n geestelike oefening.



 
‘n Goeie geestelike oefening, het ons gesien, is om ‘n mens se lewensreis in herinnering te roep.

Hieroor het ‘n paar van die vorige blogs gegaan.

Maar om werklik sinvol hiermee om te gaan, moet ‘n mens die eerste nadenke dieper bedink. Onder die oppervlakte van herinneringe, moet ‘n mens soek na die geestelike prosesse wat besig was om voltrek te word. Daarom behoort ‘n mens hierdie herinneringe verder te weeg in die lig van hul geestelike karakter en implikasies. Wat sê ‘n mens se verlede aan jou oor jou geestelike lewe en wat doen ‘n mens se herinnering aan jou geestelike lewensreis?

‘n Mens kan as eerste belangrike perspektief  nadink oor ‘n mens se ervaring van God in jou herinneringe. Hierin bly ‘n mens uitdruklik, as ‘n eerste fase, besig met waar God in jou herinneringe aan die werk was. ‘n Mens sou jou lewe kon beoordeel in terme van die tye wat jy op n spesiale manier gevoel het dat God in jou lewe teenwoordig was. Sekere fase’s van ‘n mens se lewe, besef ‘n mens tydens die oefening van herinnering, beleef jy as tye van seëninge waarin jy voel dat jou lewe ‘n geskenk uit die hand van God is. Die gedagtes maak ‘n mens dankbaar en versterk ‘n mens se geloof in God se goedheid in ‘n mens se geestelike lewe.

Maar dan, weer, is daar tye dat ‘n mens die Prediker-oomblik het: tye waarin ‘n mens voel asof alles sinloos is, asof God afwesig is en asof die lewe saai, ongenaakbaar of selfs ondraaglik word.  Dit is tye wat vir ‘n mens pynlik is om te onthou.  Maar ook hieroor moet ‘n mens eerlik wees en weeg wat ‘n mens daaraan doen. Dit is een van die groter uitdagings om die dor tye waaraan ‘n mens gedink het, te ondersoek en te vra waarom dit so sleg was en wat ‘n mens kan doen om vrede met daardie pynlike, dodelike tye om te gaan.

Ander kere weer, veral as ‘n mens eerlik is, is daar aspekte van jou lewe wat jy nie graag weer wil oproep nie of waaraan jy nie regtig wil dink nie, want ‘n mens voel dat dit plekke is waar God nie saam met ‘n mens wil wees nie. By sulke herinneringe moet ‘n mens besluite kan neem of en hoe lank ‘n mens nog sulke tye in jou lewe kan duld.

Aan die einde van hierdie geestelike oefening van herinnering en nadenke oor jou lewensreis, moet ‘n mens jouself afvra wat dit aan jou gedoen het en hoe dit jou lewe beïnvloed het. Vir sommige mense sal dit ‘n lastige oefening wees, iets wat hulle liewer nie weer wil doen nie. Dit is vir hulle eenvoudig nie goed of lekker of sinvol om so ‘n geestelike oefening aan te pak nie. In so ‘n geval moet ‘n mens nadink waarom vele wyse geestelike leiers soveel waarde heg aan die geestelike oefening van nadenke en herinnering. Doen ek die oefening in die sin waarin dit bedoel is? Waarom vind ek die oefening saai of onbelangrik?

Ander sal voel dat hulle deur die oefening uitgedaag word, of gemotiveer word om ‘n nuwe rigting in te slaan. Hulle sal sekere dinge wat hulle in hul lewe as spesiaal bedink het, opnuut weer wil ervaar en daarom uitsien om dit weer te beleef. Hieruit kan selfs ‘n spesiale patroon ontwikkel deurdat ‘n mens ‘n hele rits van ervarings kan lys wat ‘n mens deur die geestelike oefening van herinnering leer ken as dinge wat ‘n mens se lewe ryker gemaak het en daarom ‘n groter rol by jou behoort te speel. Die geestelike oefening van herinnering help dus om ‘n mens meer bewus te maak van wat in jou lewe transformatief werk en jou opbou. Hierdeur leer ‘n mens wat dit was wat hulle lewe op ‘n nuwe spoor geplaas het.

Soms kan die geestelike oefening ‘n mens op ‘n spesiale manier help om negatiewe ervarings te herken wat jou lewe ontspoor het. As ‘n mens op die manier oor jou herinneringe nadink, kan jy juis hierdie ervarings leer vermy.  

In Spiritualiteit gaan dit steeds weer om geestelike volwassenheid en ‘n goeie selfbeeld. Daarom moet ‘n mens steeds weer in jou nadenke oor jou lewe jouself afvra hoe jy oor jouself voel in die lig van die geestelike oefening van herinneringe. Wys jou herinneringe dat jy volwasse geraak het? Toon jou gedagtes dat jy gesonder, heler en meer volwasse word? Kan ‘n mens steeds weer by al die herinneringe dankbaar wees teenoor God vir jou lewensreis? Op watter manier, sou ‘n mens kon sê, help my gedagtes oor my lewensloop my om meer getrou, meer opreg, meer liefdevol, meer diensbaar te word.


Blog Archive