Monday, August 06, 2012

Bewus van God se skeppingsliefde en ons rol daarin: oor 'n tweede geestelike oefening (7)



  ‘n Tyd van afsondering is ‘n geestelike oefening wat  ‘n mens vanuit baie perspektiewe kan benader. Elke mens sal so ‘n tyd en so ‘n oefening op ‘n unieke manier beleef. Dit is ook die rede waarom ‘n mens dit oor en oor doen: gereelde tye van afsondering sal elke keer weer deur dieselfde mens anders en nuut beleef word. En elke keer as ‘n mens die oefening herhaal, sal ‘n mens nuwe dinge daarin raaksien. Daarom doen ‘n mens byvoorbeeld hierdie oefening vir ‘n paar dae lank.

In ‘n protestantse konteks ken ‘n mens so ‘n tyd van afsonderig in die gewoonte van stiltetyd. In stiltetyd sonder ‘n mens jou af om aan jou geestelike behoeftes aandag te geen en jou verhouding met God te verdiep. ‘n Tyd van afsondering is iets soortgelyks, al duur dit gewoonlik langer en al onttrek ‘n mens jou uit jou normale, alledaagse omgewing. Die geestelike oefening waarmee ons hier besig is, kan egter aangepas word om op ‘n mens se eie in jou stiltetyd oor verskeie dae lank te doen.

Die afgelope paar blogs het ons nagedink oor hoe ‘n mens so ‘n tyd van afsondering – individueel of as groep – kan begin met herinneringe oor ‘n mens se geestelike lewenspad. Hierdie oefening in herinneringe het steeds weer as doel om dankbaar uit te kom by ‘n dieper verstaan van God se teenwoordigheid in jou lewe.

In hierdie blog gaan dit om die rol van ‘n gelowige in die groter verband van God se skepping. ‘n Mens is  nie net ‘n individu wat op jou eie geestelike groei ingestel is nie, maar ‘n mens se geestelike groei raak baie dinge en mense. Wat ‘n mens doen, is dus deel van God se skepping en beïnvloed al God se skepsels.

Maar ons geestelike oefening gaan ten diepste om God as die Een wat alle skepsels gemaak het. In Johannes 15 praat Jesus met sy dissipels oor sy verhouding met God en met hulle as sy volgelinge. Jesus moedig hulle aan om in Hom “te bly”. Die intieme verhouding met Jesus beteken dat hul lewens meer en oorvloediglik vrug sal dra.

Die intieme verhouding kom tot stand daar waar mense na Jesus luister (Joh. 15:5-8). Tog gaan die vir Jesus nie net om die vrug dra en die luister na sy gebode nie. Soos geblyk het aan die einde van die vorige blog, sien Jesus in alle geestelike oefeninge en in alle toewyding iets dieper. Daarom sê hy in Johannes 15:8: “My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

 Jesus bring sy dissipels tot die punt dat hulle verstaan hoedat hulle moet vrug dra in al hulle verhoudinge met almal en dat alles uiteindelik verbind is aan God. Hulle word as volgelinge opgeneem in die groot versameling en is deel van die skepping wat God se naam verheerlik. God wil die wêreld lig gee. God het die wêreld uit liefde geskep en verlang dat almal vrygemaak sal word tot die liefde. Hierdie bedoeling van God met ons en die wêreld is wat ons bestaan sinvol en tevrede maak.

As ‘n geestelike oefening kan ‘n mens jou dus daarop instel om God se skeppingsbedoeling in ons lewe met ons almal te ontdek. Elke dag kan ‘n mens tyd neem om na te dink wat dit is wat God deur ‘n mens se lewe in jou omgewing en teenoor alle mense wil bereik en hoe dit tot eer van God kan dien. Daarmee kan ons antwoord op die vraag wat ons deur ons lewe kan doen sodat God se liefdeswerk in die skepping gedien kan word.  

Daar is ‘n belangrike winspunt in hierdie nadenke oor die manier waarop ‘n mens se lewe God se skeppingsliefde kan dien: ‘n mens besef daarmee dat alles nie om jouself draai nie. ‘n Mens is werklik gelukkig ook as ‘n mens ingestel is op ander mense en op die wêreld. Wanneer ek soek na die unieke bydrae wat net ek in God se skepping kan lewer, is ek sensitief vir wat om my omgaan en hoe ander mense tot volwassenheid gebring kan word deur die dinge wat ek kan doen.

Uiteindelik is die beste en diepste deel van hierdie oefening dat ‘n mens nader aan God kom: ‘n mens is oop vir wat God wil doen en ‘n mens begin ervaar wat dit is wat vir God belangrik is.

Dit maak dus sin om ‘n hele week lank jouself in ‘n tyd van geestelike oefening en afsondering in te stel op God se begeerte vir ons wêreld en vir ons lewens. Dit is ‘n oefening wat ‘n mens kan bring tot ‘n gevoel van vervulling en blydskap.  Hiermee is die agtergrond van die geestelike inoefening in God se skeppingsliefde geteken. Dit skep die raamwerk waarin ‘n mens nou prakties te werk kan gaan met hierdie oefening. Later meer oor die praktiese kant van hierdie geestelike oefening.

Blog Archive