Sunday, August 19, 2012

Verwondering



Here, ons Here, die hele aarde skryf ‘n verhaal van U wonder-werking – ‘n liefdesroman, ‘n verhaal van hartstog, ‘n minne-verhaal.

U skenk op U Wêreld so veel skoonheid, Liefdevolle Skepper. Alles is deur U glansryk oor die hemelruimte uitgesprei.

Sterre skitter, sonstrale skyn, maanlig betower as tekens, simbole van U eindelose, gretige gawes van prag, van lig en van stil verborgenheid.



Geboeid sien ek sierlikheid, rykdom, ‘n liefdespel van rooi en goud en geel in U stil velde. Fyn, fyn speldepunte is ingeryg, as halssnoere, in fluweelsagte speldekoppe.

U dos uit, U berei die allerbeste, die allerskoonste. U naam is wonderbaar op die aarde.





In die dorheid van die wye, oop veld, beur bossiesvol geel sonnetjies, omring deur wolkewit stralekransies hemel toe: Son groet son, skepping buig voor Skepper. Selfs die dorre aarde word mooi, word die donker, stil, verborge teenpool, wat wit nog witter maak en lig nog ligter.

Soos ‘n kind in haar kinderspel, verloor ek my in U werke:

Dit is asof U nie kon ophou om soveel wonderskone kleure en vorme oor U aarde uit te strooi nie. In oorvloed stort U, Kunstenaar, op U wêreld Mooiheid uit. 

U, die Kunstige Maker, laat my swyg, U maak my stil, U laat my my verwonder aan U skepping.

O, Here, dat my lewe in al sy geringheid, dat my binneste in al sy feilbaarheid, dat my verwelkte geestelike reis so groot, so sierlik, so oneindig vars sal word soos U skone skepping!

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!




N.a.v. Psalm 8.



  

Blog Archive