Friday, August 03, 2012

Die verwaarlosing van geestelike oefening onder Protestante (5)


In sy boek oor Protestantse geestelik oefeninge, skryf Joe Driskill dat die hoofstroom Protestantse kerke die geestelike versorging van hul lidmate verwaarloos het.  Natuurlik preek hulle oor baie dinge – oor die regte leer, oor sosiale geregtigheid, oor ‘n mens se verantwoordelikheid teenoor jou gesin, die kerk en die samelewing. Maar daardie instelling op die mens se innerlike geestelike behoeftes bly agter.

Hy dink dit het veroorsaak dat lidmate geestelike onvolwasse gebly het: hul geestelike ontwikkeling strek nie verder as kinderlike opvattings oor die Bybel en oor sulke geestelike tema’s soos gebed nie. Dit sien ‘n mens raak in die naïewe manier van bid by mense wat in alle ander opsigte ‘n volwasse, gesoute en gevorderde lewenswyse het. In werklikheid, skryf hy, sou ‘n mens hul geestelike ontwikkeling selfs as kinderagtig kon beskryf. Net so het mense ‘n naïewe manier van met die Bybel omgaan. Hulle kan nie oor hul innerlike ervaringe praat nie en dinge soos stiltetyd, afsondering, toewyding, vas, vorme van gebed en ander geestelike oefening is vir hulle onbekend of onbelangrik.

Die verwaarlosing van mense se geestelike vorming en die gebrek aan geestelike oefeninge om dieper te groei in die geloof, kan volgens Driskill nadelige gevolge hê. Wanneer ‘n mens allerhande onopgeloste geestelike kwessies het, kan dit hom op vele manier wreek. Mense met ‘n swak gevormde geestelike lewe kan selfs fisiek aangetas word. Hulle kan letterlik siek raak, fisiek aangetas deur diepe geestelike ontnugteringe of teleurstellings. Of mense kan allerhande sielkundige kwale ontwikkel. Wanneer ernstige geestelike krisisse oor hul pad kom, kan hulle dit nie hanteer nie. Hulle loop met opgekropte woede, of met angs, of met skuldgevoelens rond .

Ek is geboei deur ‘n ander voorbeeld wat hy noem:  mense kan geestelik so onvolwasse wees dat hulle nie eers agterkom hoe sleg dit met hulle geestelike lewe gaan nie.

Die gevolge van so ‘n onversorgde geestelike lewe is dat mense tevrede is met goedkoop antwoorde. Hulle het nie die innerlike rypheid om te sien dat hulle nie ver met sulke antwoorde gaan kom nie. Hulle besef nie hoeveel geestelike oefeninge nodig is om die geestelike pad te kan loop nie.


Die situasie wreek hom op die kerk self: mense met swak gevorderde geestelike instellings en houdings, tree kinderagtig op. Hoe dikwels sien 'n mens dit nie dat mense ontnugter en ontevrede buite die kerk na geestelike voedsel gaan soek omdat hulle aan 'n hongerdieet blootgestel word.

Paulus het hierdie probleem goed geken. Hy skryf in 1 Korintiërs 3:1-2 oor die gelowiges in Korinte wat nie verder as die eerste fase van die geloofsreis gevorder het nie. Hulle leef nog van die melk waarmee Paulus hulle gevoed het. Daar het in hulle lewe iets gebeur en die evangelie het tot hulle harte deurgedring. Dit was die tyd dat hulle gulsig soos honger kleintjies die melk opgeslurp het. En dit is sover as wat dit gekom het. Wanneer dit tyd geword het vir die “vaste kos,” kon hulle dit nie verteer nie.

Gelowige mense wat nie die kinderskoene van die geloof ontgroei nie, ly onder die ongeestelike gedrag wat die gevolg is van so ‘n lewe. Hulle is jaloes en twissoekerig. Hulle vorm groepies in ‘n gemeente wat mekaar ondermyn en beveg. Hulle kan nie hul eie tekortkominge raaksien en aanspreek nie. Hulle het nie die geestelike krag om die groot uitdagings wat gelowiges in die oë staar, aan te pak nie.

Paulus som dit raak op: mense wat nog geloofsmelk drink, is op wêreldse dinge ingestel. Hulle is nie op die geestelike dinge, op God ingestel nie.

Daarmee kom ‘n mens weer uit by die vraag watter aandag geestelike oefening in die kerk kry. Dit is nodig om hieroor diep na te dink.

Dit is teen hierdie agtergrond dat dit sinvol is om die bydraes oor herinnering as ‘n geestelike oefening te bedink. Maar dit is net ‘n eerste stap in ‘n lang proses van afsondering met vele ander geestelike oefeninge wat ek in die volgende tye wil bespreek.

Blog Archive