Thursday, August 30, 2012

Nagmaalsgebed.






Hoe anders, meteens, Here, kyk ek vandag na brood.

Ek neem dit, byna met verwondering. Ek voel dit, lig, in my hand. Ek kyk daarna asof ek dit vir die eerste keer sien.

Skielik, vandag, sny ek dit versigtig, berekend.

Anders as altyd sien ek dit, hierdie brood met sny na sny, as ‘n geskenk aan my.

Ek besef: ek sal hierdie gawe nie vermorsd kan laat nie. Ek sal dit nie kan laat oud word nie of laat verdor nie.

Want, bedink ek, hierdie brood, so eenvoudig, is kosbaar. Dit stil honger, voed liggame en word dankbaar, in vreugde, geniet.

Dit vertel immers ‘n lang verhaal: dit kom uit die grond van U aarde. Dit vertel van U mense wat saai en plant en geduldig, toegewyd en dankbaar oes.

Ek besef nou: ek hou in my hand die vrug van vele dae toe wind reënwolke aangedryf het, toe swaar druppels van U goeie water op die lande uitgestort is en koringare laat uitbot het.

Hoe mooi is brood nie. ‘n Gawe van en voedsel tot die lewe. ‘n Teken van U troue sorg.

Maar hierdie brood waaraan ek vandag so anders kan raak, wat ek met nuwe oë bekyk, neem my na die diepere, verborge dinge. Vanoggend, by die herdenking van die laaste maal, toe U so spesiaal in ons midde was, het ek dit besef: elke dag wat ek summier brood gesny en geëet het, sommer so, onnadenkend, selfs ondankbaar, het ek geëet sonder om gevoed te word. Ek het geneem sonder om te ontvang. Ek was ‘n dooie by die Lewe. Ek het oë gehad wat nie gesien het nie. Ek het met ore geluister wat nie gehoor het nie. Ek het met my mond geproe wat ek nie gesmaak het nie.

In een helder oomblik, by die breek van die brood, by die brandende herinnering aan daardie laaste, goddelike maal, het die wonder van brood my lewe omgekeer.

Dit was U, dit was U hande, dring dit tot my deur, wat die brood opgeneem het, dit stil gebreek het, en toe uitgedeel het aan elkeen wat daar by U was, daardie aand voordat U liggaam gebreek sou word. Een vir een het hulle ontvang sonder om te begryp, geneem sonder om te ontvang en verteer sonder om verkwik te word.

Net soos ek, al die jare.

En tog het U wat alle harte ken, in die groot, stil oomblik, by die herdenking van U lewe, in die aanskyn van die dood, daardie ongerekende brood met ‘n kruis geseën. Die brood, so onnadenkend, so argeloos en begriploos gevat, het U nogtans geseën en dit gegee, geskenk en uitgedeel.

Versigtig, selfs huiwerig neem ek nou brood. Want daarin sien ek seëninge wat sonder verwyt uitgedeel word. Daarin herken ek lewe wat vrylik, ondanks onsself, gegee word.

Ek weet, al is dit hoe voorlopig, hoe vlak, dat hierdie brood, lig, eenvoudig, ongerekend, die teken is van die groot verhaal van U sorg, U liefde. Dit herinner my aan wat dit beteken om in U teenwoordigheid te wees.

Hoe kosbaar is brood, Here. Hoe kosbaar is brood wat deur U hand gebreek word.

Hoe spesiaal is brood, want U deel dit uit.


Blog Archive