Wanneer ‘n mens
geestelik oefen, maak ‘n mens se instelling ‘n beslissende verskil:
Die bedoeling
met geestelike oefeninge is om ryker in ‘n
mens se geloofslewe te word.
Maar hier is
wysheid nodig: wanneer ‘n mens geestelike oefeninge doen, vra ‘n mens nie groei
nie. Dit is nie waarvoor ‘n mens jou inoefen in die dinge van God nie. Jy is nie ingestel daarop om te laat
groei nie.
‘n Mens verloor
jouself eerder in die oefening self. Jy gee volhardend dinge prys wat jou
terughou of belemmer en stel jouself in op die dissipline van toewyding.
Wat saak maak
is om te oefen. Dit is hierdie oefening wat tel.
In al die
toewyding vertrou ‘n mens dat God die groei sal gee.
Paulus het dit
in 1 Korintiërs 3:6 uitgespel: “Ek het geplant, Apollos
het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het.”
Paulus het al
sy dae met die Korintiërs gehad. Hulle was ‘n rowwe, bakleierige klomp mense. As
hulle pastor het hy veel tyd in hulle belê. Hy vertel in die brief spesifiek
van sy groot opofferings. Sy plantwerk was veeleisend. Maar steeds weer het hy
daarin volhard. Dit was deel van sy toewyding aan die evangelie. Hy het nie, aanstellerig, gedink dat hy kan laat groei nie.
Uiteindelik,
egter, het hy besef, kom die groei alleen maar van God. Alles wat ‘n mens doen,
hoe toegewyd ook al, is futiel, voorlopig, totdat God die groei skenk.
Daarom soek ‘n
mens nie groei nie. 'n Mens is eerder op die oefening as op groei ingestel. Dit, die groei, kan alleen van Bo kom. Van die mens se kant
soek jy om te bly plant, om nat te maak, om in die lande te ploeg en te saai.
Dit is al beloning genoeg.
Die res is in
God se hande.