Saturday, August 25, 2012

Vanuit God se perspektief


Konfrontasies kan dikwels heel intense, emosionele debatte veroorsaak.

Dit geld ook vir gelowige mense.

Handelinge 15 gee ‘n voorbeeld van hoogs emosionele en intense debate binne die kerk. Dit is nie altyd ‘n mooi prentjie nie. Dit is ‘n groot baklei oor een van die belangrikste aspekte van die Joodse geloofstradisie.

Ernstige, vroom mense wat God met toewyding dien, reis al die pad uit Judea na Antiogië om die gemeente daar voor te sê dat hulle die nuwe bekeerlinge in hul midde moet laat besny. Wat vir God se uitverkore volk vir eeue gegeld het, geld, volgens hulle, ook vir volgelinge van Jesus, die Jood uit Galilea.  

Lang afstande lê hulle af om te sorg dat die wet van Moses onderhou word. Dit is hulle erns. Hulle is volgelinge van Jesus, maar wil ook nie vir Moses laat vaar nie.

Die dispuut is so erg dat hulle nie tot ‘n vergelyk kom wanneer Paulus en Barnabas met hulle slaags raak oor die kwessie nie. Albei partye klou vas aan hulle waarheid en aan hulle idee van wat die wil van God is. Daar in Antiogië, ‘n belangrike sentrum van die vroeë kerk, word hewig gedebatteer.

Omdat hulle nie tot ‘n vergelyk kan kom nie, verplaas hulle die gesprek na Jerusalem. En ook daar breek die twis uit.

Hoe leef sulke uiteenlopende groepe in een beweging saam? Hoe reageer ‘n mens teenoor ander groepe en mense wat fanaties is, wat naby aan jou leef, vir wie jy elke dag sien en met wie jy gereeld aanbid?

Agter Lukas se sober verhaal kan ‘n mens sekerlik intense emosies raaksien. Hier is baie op die spel.  Hier word mense in hul mees intieme geloofsoortuiginge geraak en selfs seergemaak.

Die oplossing in Handelinge 15 is duidelik: die emosies is intens. Die resultate bly uit. En tog val dinge nie vas nie. Die groepe vra raad van ander. Hulle soek mense op wat met gesag kan leiding gee. Hulle reis selfs dae lank na Jerusalem om dan daar verder te praat.

So intens soos wat die emosies is, so intens is die gesprekke. Lank luister die mense na mekaar. 

Hulle praat.

Jy kan in jou emosies en seerkry vasbrand en vasval. Of jy kan ook vra hoe jy die ander persoon moet begryp in sy of haar ernstige emosies oor sake. En jy kan die saak op baie maniere hanteer – tot jou eie beswil, en as jy geestelik ingestel is, ook op die beswil van mense wat jou kwets.

In so ‘n situasie bly die belangrike om God se wil te herken. Die groepe kom bymekaar en hoor die apostels, die mense van wysheid praat oor wat gebeur het onder hulle: hoe hulle steeds weer in al die goeie dinge wat onder hulle gebeur het, God se teenwoordigheid raakgesien het.  Daar is steeds weer  ‘n sterk sensitiwiteit vir die geestelike dimensie. Daarom vra hulle waar hulle God se teenwoordigheid in hul lewens en situasie kan raaksien.

As dinge vasgeval het, word hierdie voortdurende gesprek en naenke oor God se wil deurslaggewend. ‘n Mens kom slegs op ‘n volwasse manier deur tye van konflik wanneer ‘n mens altyd op soek is na die leiding van God.  Hier gaan dit om God se wil vir ‘n mens se lewe te ontdek.

Niemand is so naïef om te dink dat daar nie spaninng onder glowigs is nie. Daar is. Erge spanning.

Dit is hoe ‘n mens die spanning hanteer en verwerk, wat tel. En ‘n mens kan dit alleen verwerk wanneer ‘n mens na ‘n situasie kyk in afwagting op God wat harte verander.

Uiteindelik bring hierdie perspektief egte eenheid - sodat 'n mens kan weet dat die Heilige Gees in die oplossing van die konflik aan die werk was. "Die Heilige Gees en ons het besluit..."  Dit is die uitkoms van al die intense gepraat.

Blog Archive