Ons is meestal vreemdelinge in ons plek en in ons tyd. Ons kuier by ‘n plek
sonder om regtig die plek te ervaar.
Eintlik is ons nog waar ons die vorige
paar uur was, vasgevang in die verlede. Of ons is al weer op pad na die
volgende plek.
Op die manier is ons
gedurig afwesig van waar ons eintlik is. Ons leef nie voluit vir die oomblik van die hier en nou nie.
Ons is nie regtig aanwesig in die hede nie.Tyd glip deur ons vingers en die lewe word 'n blikkerige geraas.
Dit vra van ons
opoffering om voluit te kan leef: ons moet al die gedagtes wat ons dryf en
voortjaag eenvoudig afsny sodat dit nie ons ervaring van die oomblik vernietig
nie. En ons moet ook die suigkrag van ons kommer oor die toekoms kan teenstaan
sodat dit ons nie uit die hede wegvat nie.
Jesus het ons geleer
hoe futiel bekommernis is. Die dag van môre het genoeg aan sy eie kwaad. Die
voëltjies rinkink en fluit en vlieg rond om kos te kry en nessies te maak.
Hulle het geen sorge nie. Hulle word versorg.
Dit vra alles van ons
om te kan aandag gee: nie aan die verlede nie, ook nie aan môre se dinge nie.
Die dag, die uur, die minuut waarin ons nou is, is kosbaar, onvervangbaar, kom
nooit weer terug nie – en met daarom geproe word soos wat ‘n mens ‘n kosbare
stukkie sjokolade op jou tong laat wegsmelt.
Dit is ‘n lewenskuns:
om vir elke oomblik voluit te leef.