Geestelike groei is een van die drie belangrike pilare van spiritualiteit. Dit is byna vanselfsprekend mooi: ‘n mens soek immers gedurig daarna om meer volwasse te raak. Die verlange om mens te word wat met ewewig, balans, rypheid en insig die geestelike weg te loop, is sterk.
In werklikheid is die proses ‘n uitdaging. Want dit is ‘n proses wat inspanning en toewyding vra. Daarom is dit ‘n saak van geestelike oefening.
Maar waar sal ‘n mens aan hierdie proses begin?
In die tradisie van spiritualiteit wil vele mense die proses by ‘n mens self laat begin.
Daarom wil vele mense begin by herinneringe. Dit word dan ‘n eerste geestelike oefening, aan die begin van die geestelike reis, dat ‘n mens jou gedagtes op ‘n rytjie sit.
Dit kan ‘n ryk ervaring word om vir ‘n paar dae lank net na te dink oor ‘n mens se lewe van die vroegse tye af en vandaar al die belangrike lewensfases wat ‘n mens deurloop het. Sekere dinge sal onmiddellik na vore kom as groot, belangrike momente en draaipunte. Party hiervan sal wonderlike gevoelens by ‘n mens wakker maak. Ander sal dalk pyn en seerkry, selfs verwyte na vore laat kom. Sommige mense vertel dat hulle soms min van sekere tye in hul verlede kan onthou. Maar steeds weer sal ‘n mens kan terugkyk op ‘n lewenspad met verbasend baie ervaringe.
Soms is dit goed om hierdie oefening skriftelik te doen. Dan word dit byna ‘n dagboek waarin ‘n mens eie, intieme ervarings te boek stel. Dan kan ‘n mens stadiger, deegliker en van alle kante af hierdie dinge uit die verlede bedink.
Dit is nie iets wat ‘n mens sommer in ‘n uurtjie doen nie. Stadig, versigtig, nadenkend en eerlik doen ‘n mens hierdie oefening oor verskeie dae heen. Sommige mense dink dit is iets wat ‘n mens oor ‘n week moet doen.
Dit word ‘n tyd dat ‘n mens patrone herken, sien hoeveel mense jou lewe beïnvloed en verryk het en, veral, waar in ‘n mens se lewe die Here aan die werk was of ‘n mens se eiewilligheid jou lewe vervorm het. Dit word ‘n tyd waarin ‘n mens bereken wat alles in jou lewe jou gevorm het. Die lewensreis kan met groter volwassenheid afgelê word wanneer ‘n mens ‘n deeglike insig in jouself het.
Waar ‘n mens met hierdie geestelike oefening besig is, gebeur dit nie altyd noodwendig dat ‘n mens dankbaarheid ervaar nie. Maar dankbaarheid is ook nie iets wat vanself kom nie. Dit moet soms gesoek word. En waar meer gepas as by die oorskouing van ‘n mens se lewe?
Daarom is dit ‘n deel van hierdie geestelike oefening om dankbaar teenoor die Gewer en Behoeder van ons lewe te wees. Doelbewus en berekend, aan die einde van elke dag, nadat ‘n mens bestek opgeneem het van jou lewenspad, bring ‘n mens dankbaar hulde aan God wat saam met ‘n mens die pad geloop het.
Om terug te kyk, oor die pad waarlangs ‘n mens se lewe geloop het, word dan ‘n geleetheid tot ‘n lewensles: met dieper insig in ‘n mens se eie lewe, met nuwe oordeel oor wie ‘n mens is en waarvandaan ‘n mens gekom het, kan die pad vorentoe aangepak word.