Saturday, July 21, 2012

Skaam oor gebed

Driskill vertel in die inleiding tot sy Protestant Spiritual Exercises van sy besoek en preek in 'n gemeente wat tot 'n spesiale oomblik in sy lewe gelei het. 'n Vrou vertel vir hom hoe sy vir 25 jaar elke nag moes opstaan om haar siek seun te versorg. Dan het sy in die donker nagtelike ure lank moes wakker bly. Later het sy die tyd begin gebruik om te bid. Mettertyd ontdek sy toe hoedat hierdie gebedstye 'n spesiale plek in haar geestelike lewe ingeneem het. Dit was tye dat sy by God deurgebring het en van God krag ontvang het om haarlas te dra. Sy eindig haar verhaal met die opmerking dat sy nog nooit vir iemand van haar gebedstyd vertel het nie omdat sy bang was haar mede-gelowiges dink sy is ongebalanseerd en dweperig. Driskill was aangedaan omdat sy die verhaal met hom wou deel. Maar hy was ook geraak deur die pyn dat spesiale, diep geestelike ervaringe uit vrees vir veroordeling nie in 'n geloofsgemeenskap gedeel kan word nie. Hoe gebeur dit dat mense ongemaklik word wanneer hulle hoor van ander se spesiale oomblikke in hul verhouing met God? En dit terwyl mense 'n behoefte het om 'n geloofservaring met God te voed en te laat groei. En hoeveel verloor 'n geloofsgroep wanneer hulle nie weet van of blootgestel word aan geestelike oefeninge en praktyke wat hul persoonlike verhouding met God kan laat groei nie. Driskill se boek is al in 1999 geskryf. Dit gaan oor 'n deurslaggewende tema in spiritualiteit en godsdiens. Geestelike oefeninge is 'n groot tema in vele van die bekendste geestelike denkers. Geestelike oefeninge? Vra maar hoeveel protestante weet hiervan...

Blog Archive