Sunday, July 08, 2012

Die eerste sagte bloeiselknoppies...




Eergister was my aandag by ons gedurige gerondvallery onder die baie lewenskeuses waarmee ons ons lewe tevergeefs “vul”. 

Ons lewe is “ryk” en “besig”, maar die onbehae lê nogtans diep.

‘n Eerste stap, vertel spiritualiteit, is bloot om hieruit weg te kom: deur stil te raak. Dit word die oomblik dat 'n mens afstand skep.

Dit is die oomblik dat ‘n mens die knaende gevoel van onbehae moet toelaat om na die oppervlakte te kom sodat ‘n mens dit vierkant in die oë kan kyk. Dit is die proses van bewuswording wat ‘n mens se lewe omkeer en nuwe rigting aan jou lewensreis kan gee. 

Hierdie is die een oomblik van herkenning, van die lig wat deurbreek: die wete wat by mens na vore kom dat dinge anders moet word.

‘n Beslissende oomblik in hierdie bewuswordingsproses is nou die vraag waar die behoefte na ‘n dieper, ryker lewe vandaan kom. Op 'n afstand, met die besig-wees op elmboog-lengte, delf 'n mens.

Iewers moet ‘n mens die ruimte skep vir die sterk moontlikheid dat dit God is wat in ‘n mens se innerlike aan die werk is. Dit is 'n gawe, hierdie afstand-oomblik. Dit kom van Buite. 

Dit is die Laodicea-klop aan die deur. Dit is die oomblik dat ‘n mens met ‘n vreemde gevoel van verligting die armoede, die ellendigheid en die beklaenswaardigheid van jou eie lewe herken.

Ek besef: ek verlang na meer. 

Hier breek die lig van herkenning deur. In ‘n oomblik van nuwe, genadige sig ontdek ‘n mens die muwwigheid van skewe prioriteite, leë gejaag en pynlike oppervlakkigheid.

Die oomblik van stil-word word ‘n oomblik van verstaan, van self-ondersoek, van die biddende verlange. 

Al hierdie dinge van vroeër, van die besige tye, is tog nie eg nie - dit is nie waarna my hart verlang nie. Dit is nie regtig ek nie. Dit is nie die ware lewe nie.

 Dit word die oomblik waarin ‘n mens verby die oppervlakte begin delf. Dit is die eerste, sagte bloeiselknoppies...  In die deurbeur deur die wintertakkie, is die Lente al teenwoordig.

Blog Archive