Wednesday, July 04, 2012

Een goeie gedagte is meer werd as vele gebede





Kolossense 3 het ‘n spesiale opdrag: “As julle dan saam met Christus opgewek is, soek die dinge daarbo waar Christus is en aan die regterhand van God is. Bedink die dinge daarbo, nie wat op die aarde is nie.”

Die fokus op die “hemelse” dinge kan ‘n mens se lewe radikaal transformeer.

Hieraan dink ek toe ek vandag die verhaal van die bekende Oudste Paisios (20e eeu) lees. Hy, wyd geëer vir sy wysheid, het gedurig herhaal dat ‘n mens donker, negatiewe, agterdogtige denke moet vermy. ‘n Enkele goeie gedagte, het hy vertel, is meer werd as ‘n lang gebed of ‘n nagwaak wanneer ‘n mens in afsondering is.

Vele mense het gereeld by hom opgedaag om met hom te kan praat oor die dieper dinge wat hulle besig gehou het.

Hy het die volgende verhaal vertel om die waarde van goeie gedagtes te illustreer.

Op ‘n keer het iemand sy pakkie sigarette per ongeluk vergeet in die kapel waar hy gewag het om Oudste Paisios te sien. Die besoeker is weg na sy afspraak met Paisios sonder om sy sigarette te gaan haal.

Later het ‘n ander besoeker opgedaag en ook in die kapel gewag vir sy afspraak met Paisios. Toe Paisios hom ontvang, vra die man vir Paisios of hy rook. Paisios moes toe vir hom verduidelik dat iemand anders daardie sigarette in die kapel vergeet het.

Paisios vertel verder dat ‘n kind daarna opgedaag het om hom te sien. Toe Paisios die deur vir die kind oopmaak, vra die kind om Paisios te sien. Toe antwoord Paisios: “Hy is nie hier nie, hy het gaan sigarette koop.” Ewe onskuldig reageer die kind: “Dis goed so, Vader, ek sal wag tot hy terugkom.”

Paisios gebruik die verhaal om te verduidelik dat die eerste mens negatiewe en agterdogtige gedagtes gehad het: hy het Paisios verdink dat hy rook toe hy die sigarette in die kapel sien. Die kind, daarenteen, het presies die teenoorgestelde reaksie gehad. Hy het bloot gesê dat hy sal wag, sonder om te vra of Paisios dan rook of waarom hy dan sigarette nodig het.

Een van die mooiste mense wat ek ken, is so: sonder agterdog, nooit op soek na verborge motiewe nie, altyd eerlik. Die persoon se hart, besef ek elke keer as ek by die persoon is, is in die hemel, daarbo, by die goeie dinge. Daar is nie baie sulke mense onder ons nie. Daarom is dit kosbaar om by hulle te kan wees. En leersaam. En transformatief.


Blog Archive