Daar is goeie rede’s
waarom enige tyd van stilte en afsondering sinvol by herinneringe en nadenke
oor ‘n mens se lewe begin.
‘n Tyd van innerlike
vernuwing word dikwels geblokkeer deur pynlike herinneringe wat bewustelik of
onbewustelik by ‘n mens bly leef. Herinneringe aan slegte tye, teenspoed,
mishandeling, vernedering, swaarkry of siekte kan ‘n mens se verhouding met God
aantas sonder dat ‘n mens dit besef.
Dikwels begin ‘n mens ‘n
nuwe pad loop deur juis sulke herinneringe doelbewus op te roep, te konfronteer
en dan te verwerk. Deur oor die verlede na te dink kry sommige mense ‘n
spesiale gawe om te besef dat God in alles wat met hulle gebeur het, tog
teenwoordig was en uitkoms gebied het.
Soms laat ‘n mens se gedagtes
oor die verlede jou besef hoe jou geskiedenis gevul is met ‘n magdom van mense
wat jou lewe ryk gelaat het. En, as ‘n
mens skerper daaroor nadink, kan ‘n mens byvoorbeeld besef hoedat jou lewe te
veel beïnvloed is deur wat ander mense van jou gesê het. Of ‘n mens kan tot die
insig kom dat jy te min aandag aan jouself gegee het en jou geestelike
behoeftes verwaarloos het.
Nog ‘n moontlike reaksie
by herinneringe oor die velede is dat ‘n mens kan besef hoe vinnig alles
verbygaan, hoe kort en verganklik die lewe is. Dit weer, kan ‘n mens opnuut
laat insien hoe kosbaar dit is om oor die belangriker, ewige dinge na te dink.
Of iemand anders kan by
die refleksie oor sy of haar lewensloop skielik begryp hoe wonderlik dit is om
gesond te kan wees, om aktief te kan wees, om aan sport deel te neem, om nie
siek te wees nie en om te kan reis na mooi en interessante plekke.
Nog ‘n respons is dat ‘n
mens verstaan dat sekere dinge onherroeplik verby is, dat jy niks daaraan kan
verander nie en dat ‘n mens genade moet kry om sulke finale, onomkeerbare
momente uit jou lewe aan God op te dra en nie as ‘n las met jou saam te dra
nie.
Op baie manier kan ‘n
mens oor die lewe nadink. Daarom is ‘n eerste, belangrike stap in die proses
van stil-word om vir ‘n paar dae lank oor jou geestelike reis in die verlede na
te dink en te bly delf om te kan ervaar wat die gang van jou lewe was. Hierdie
eerste, belangrike stap stel ‘n mens in op die dieper, belangriker dinge: op
die geestelike dimensie van jou gewone lewe.