Sunday, July 22, 2012

Hy sal groter dinge doen...


God ken ons as God die Vader, God die Gees en God die Seun.

Die Seun is naby aan ons deur die bekende geskiedenis van sy geboorte, sy getuienis en veral sy dood en opstanding. Steeds weer luister ons na sy woorde en sy wysheid. Ons volg sy pad van self-prysgawe en opoffering. Ons is steeds weer verwonderd oor sy goedheid, sy egtheid, sy ontferming en sy volharding.

Baie dinge van Jesus bly ons by.

In die sakramente van die doop en die nagmaal hou ons Hom in ons herinnering.

Maar Jesus het telkens weer vir sy volgelinge herinner dat Hy aan hulle die Gees sal skenk. Die Heilige Gees sal oor mense uitgestort word en hul lewens omkeer en vernuwe.

Hoeveel voorbeelde is daar van die teenwoordigheid en werking van die Gees in mense! Oneindig is die verhale van mense wat bewus raak dat hulle deur die Gees aangeraak is.

Maar hiervoor moet ‘n mens ingestel wees: Die Heilige Gees bly by ons en is teenwoordig in ons. Steeds weer moet ‘n mens dit kan raaksien en herken dat God op ‘n onpeilbare, maar werklike manier in ons lewens inkom. Krag kom van buite ons. Die wete en die ervaring van die Heilige oorweldig ons.

Iets Groters as onsself, Iemand van oneindige Liefde, woon by ons in. God se verhouding met ons kom nie tot stand bloot deur historiese kennis van wie Jesus was nie.

Dit is ‘n belangrike aspek van geestelike oefeninge dat ons ingestel is daarop dat God onvoorwaardelik, direk, intiem met ons ‘n verhouding aanknoop. Hierdie verhouding, die teenwoordigheid van God in ons, is ‘n kosbare kleinnood wat gesoek en bewaar moet word.

Blog Archive