Op ons pad vir ‘n paar laaste reëlings voor ons reis volgende week, ry
ons by een van ons geliefde stilhouplekke aan.
Ons koop altyd daar ‘n paar lekkernye, vars van die
plaas.
Na al die goedjies in die motor gepak is, val ons, anders
as gewoonlik, nie summier in die pad nie.
Ons raak aan die gesels met mekaar oor die omgewing
waaraan ons almal al baie jare gewoond is, maar nooit genoeg van kry nie.
Trouens, elke keer as ek die bekende paadjie ry, van
kindsbeen af in my geheue ingebrand, deel van my onderbewussyn, word die pad en
die plekkie vir my mooier.
Die toetsteen van liefde: ‘n mens bly geboeid.
Langs die hange van die berge, aan alle kante van die
rivier, ‘n immervloeiende, stil, roerend-rustige stroom waters, groei die
fynbos-struike sommer net so onbedinkt oral waar hulle ‘n plekkie vir hul fyn
wortelvoete vind – ‘n menigte, elkeen op sy eie ‘n kroontjie in die skepping.
Vet beeste lê lui en wellwillend rond in die goedversorge lande. Ystermasjiene
loop met uitgestrekte arendsarms op hul dun wiel-pootjies en sprei lewenswater oor
die jong, groen, welig-wilde koringlande. Melkhout-bome, daardie stadige,
geduldige groeiers, sommige al dekades oud, oorleef nog hier en daar die
aanslag van meer en beter landbou en maak, so statig en wys-oud, vragte vol
vreugdes wakker in die oog van die een wat nog kyk.
Ons praat oor al die dinge, sommer daar langs die motor met al ons gekoopte goedjies in die kattebak weggesit.
En dit is asof iets begin losraak in ons gespreksgenoot,
die boer van baie jare, die plaasman deur sy hele lewe heen, se binneste.
Ek sien sy oë word lig, ligter.
Hy is weg van ons. Diep in sy gedagtes en herinneringe
in. Op ‘n dag, vertel hy, het hy op sy plaas besig geraak terwyl die wolke oral
saamgepak het. ‘n Gewone dag, soos vele ander, oor baie jare heen, met al die gewone dinge van die plaaswerkies.
En toe, soek hy na woorde, toe, op ‘n oomblik breek ‘n
streep, heldergeel sonlig die grysheid iewers op die horizon oop. Dit is, vertel hy, asof hy in die hemel
opgeneem word.
Die natuur in ‘n visioen van paradys.
En, gedryf deur die mistiekheid van daardie oomblikke,
vertel ons gespreksgenoot, ywerig om oor die groot dinge in sy lewe te praat,
het, op ‘n ander keer, ewe merkwaardig, ‘n volkleur-reënboog skielik om die
groot wildevyboom op sy werf ‘n halwe sirkel gemaak. ‘n Reënboog wat net die gelukkigste
kinders van God gegun word om te sien, hoor ek sy woorde aan my sê. Soos hy
nader stap, het die boog so volmaak rond geraak dat dit gelyk het of dit ‘n
sirkel vorm.
Ek sien die verinnerliking van daardie verborge
belewenisse, van daardie unieke oomblikke: hy struikel-soek oor gepaste woorde om daaroor te
praat.
Die woorde kom nie maklik nie. Want, duidelik, die oomblikke kom maar een keer, miskien nog 'n keer oor jou lewenspad. En hoe praat die man van die plaas oor dinge wat digters van faam en woord-dadigheid nie kan verwoord nie?
Net daar, vertel hy wat die oomblikke regtig aan hom gedoen het, het hy in
aanbidding voor God neergeval.
Ek verstaan: hierdie aarde kan verruklik, goddelik mooi
wees. En ‘n mens op jou knieë bring.
Hy weet, so mooi dat dit net die Diepste verteenwoordig.
Hy weet, so mooi dat dit net die Diepste verteenwoordig.
Jy weet, jy weet te goed wanneer jy in aanbidding
wegsink: as die kleed so wonderskoon is, hoe dan te meer die Een wat so bekleed
is…