Op my rak het ek al lank Eugene Peterson se boek oor watter kuns dit is om die Bybel geestelik te lees. (Eat this book, noem hy dit).
Hy gebruik daarin ook die model van lectio divina om oor ons omgang met die Bybel te praat.
Ek was bly toe ek dit sien, want hy, as Protestant, help daarmee dat ons ‘n baie waardevolle ou tradisie vir ons tyd herwin.
En tog: Daar is baie maniere om die lectio divina te verstaan. Omdat dit in Protestantse kontekste nog ‘n redelike nuutjie is, is daar nog meer menings te hoor.
Ek onthou dat ek Peterson se boek neergesit het met die reaksie dat dit net nog ‘n variasie van lectio divina byvoeg en omdat dit die hart daarvan misverstaan. Daarmee is ‘n deurslaggewende insig in die model misverstaan.
Tereg wil Peterson in die boek beklemtoon dat ‘n mens se lees van die Bybel transformatief moet wees. Die Bybel vra veel meer as net verstaan. Dit vra ook uitlewing. Wat ‘n mens lees, moet ‘n mens leef.
Eintlik is dit om iets vanselfsprekends te sê.
Vreemd genoeg gebruik Peterson hiervoor die begrip kontemplasie. Kontemplasie is vir hom om ‘n mens se lees van die Bybel in jou lewe in te trek en uit te leef. Dit is ‘n gawe wat aan ‘n mens geskenk word. Hy skryf, “Contemplation means living what we read, not wasting any of it or hoarding any of it, but using it up in living. It is life formed by God’s revealing word. God’s word read and heard, meditated and prayed. The contemplative life is not a special kind of life; it is the Christian life, nothing more but also nothing less. But lived.”
‘n Mens sou hierop net amen kan sê: die lees en leef van die Bybel hoort bymekaar.
Maar dit is nie kontemplasie nie. Lectio divina, as model, gaan om die lees van die Bybel, die nadenke daaroor, die biddende reaksie daarop en die kontemplatiewe bewuswording van God se teenwoordigheid in die omgang met die Skrif. Waar dit gebeur, verander dit mense se lewens, leef hulle ‘n lewe op God gerig, het die Woord ‘n uitwerking. Maar die uitwerking is iets anders as kontemplasie.
Peterson het ‘n goeie rede waarom hy kontemplasie so wil verstaan, want hy wil keer dat mense daaronder iets wêreldvreemds sien. Hy wil daarom uitdruklik die woord kontemplasie skei van ‘n kloosterbestaan, asof kontemplasie beteken dat ‘n mens in ‘n klooster ‘n lewe van stilte moet gaan lei: Kontemplasie “doesn’t mean quiet, withdrawn, secluded, serene, or benign.”
En hy het sekerlik ‘n bietjie gelyk, want kontemplasie gaan oor iets veel groters as stilte, afsondering of kalmte. Peterson, dink ek, trouens, verstaan die kloosterlewe bietjie sleg as hy dink dit gaan maar daarin om ‘n gevoel van kalmte en sereniteit. Hoe waar dit ook al van aspekte van die kloosterlewe is, sal vele kloosterlinge sekerlik verontwaardig voel om so beskryf te word. Maar dit is ‘n ander saak.
Kontempasie wil iets anders sê. Dit gaan oor die serene bewuswording van God se werking in ‘n mens se lewe. Dit is gerig op wat van buite af tot jou kom. Dit is ‘n oopheid na en bewuswording van die genade wat in ‘n mens se lewe instroom.
Elkeen wat iewers op ‘n dag van God se liefdesaanraking bewus geword het, het met die kontemplatiewe te doen gekry.
Ruusbroec skryf hieroor ongeveer die volgende:
Die innerlike mens kom in kontemplasie tot hom/haarself op ‘n heel eenvoudig manier, verby alle aktiwiteite en alle waardes heen, om bewus te raak dat ‘n mens heel eenvoudig die ontwaking van die liefde aanskou. Daar, al skouende, ontmoet die mens vir God, direk, sonder dat enige iets tussenbeide kom. Wie dan in hierdie eenheid met God deel, ontvang in hom ‘n eenvoudige lig. Dit is ‘n lig van donkerte, naaktheid en niksheid. In hierdie oomblik, verlore in totale donkerte, sien ‘n mens niks nie. Al die gewone manier van bestaan verduister. Alles wat ‘n mens gewoonlik besig hou, ontgaan jou sodat jy in naaktheid blootgestel is aan alleen maar die ontmoeting met God. ‘n Mens is by God, bewus alleen maar van die deurdringende lig. In niksheid sien ‘n mens hoe al jou mooi werke nietig is. ‘n Mens word oorweldig deur God se enorme liefde. Deur die Gees wat in die mens werk, word ‘n mens een gees met God.
Ruusbroec het onder woorde gebring wat ‘n mens nêrens anders ervaar nie en wat lank voor jou uitlewing van die Skrif en jou gehoorsaamheid aan die Bybel met jou gebeur. Dit is kontemplasie.
No comments:
Post a Comment
Note: Only a member of this blog may post a comment.