Onbevredigd, bedink ek in die vorige blogs, word ons gelaat deur al die
moontlikhede en keuses waaroor ons ons so druk maak, waarmee ons dae so besig en vol
gemaak word en waaroor ons so gedrewe moet besluit.
Dan kom daar die oomblik wat ons tot stilstand gebring word: So, besef ons, kan die lewe tog nie wees nie.
En dit is ‘n
oomblik wat ons moet koester: ons moet dit nie deur ons vingers laat glip nie. Stilstand en stilte kom bymekaar uit.
Want dit, moet ons bewustelik besef en deurdink, kan die kans wees wat ons
gegun word om uiteindelik die greep van die gedrewenheid te ontvlug. Dit is
dalk die goue geleentheid om uiteindelik vry te kan word.
Ons moet daarmee besig bly,
hierdie insig wat soms vlietend oor ons pad kom en wat ons, patykeer, maklik by ons laat
verbygaan.
Die mens wat deur die Gees-moment aangeraak word, sal wyselik die oomblik wil vasgryp. Die
klop, soms so liggies, word gehoor en die deur uiteindelik oopgemaak. Dit is immers die sin van die Openbaring-teks aan Laodicea: julle, die rykes en invloedrykes, hoor tog dat daar geklop word. Verby al julle groot woorde en groot dink/dunk, is daar 'n ander stem wat agter 'n toe deur roep.
Ons, wat
met spiritualiteit besig is, raak sensitief vir een van die groot aspekte
daarvan: wie op die lewensreis onderweg is, is deel van ‘n proses. ‘n Proses
kom soms moeisaam aan die gang en ‘n mens moet ingestel wees daarop om hierdie
moeisame wegspring te kan aanvat.
Dit vra toewyding...
Daarmee vorder ‘n mens al ‘n hele ent: want toewyding, het die wyses oor
baie eeue heen besef, kom deur innerlike en uiterlike dissipline. “Geestelike
oefeninge”, het hulle dit genoem. Paulus het dit reeds uitgespel in Filippense
3:14: “Maar een
ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my
uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys
te verkry van die hoë roeping van God in Christus.” Dit is gelaaide begrippe:
om jou uit te strek, om te jaag na die doel. Dit is inspanning – atletiek-taal,
woorde so reg uit die Olimpiese Spele, wat vertel van uiterste toewyding en
ingesteldheid op wat werklik saak maak.
Deur die
eeue heen het mense hulle hiervoor ingestel.
Soms het dit ontaard in ‘n stuk negatiwiteit.
Luther, soos vertel word, wat kruipend teen die trappe op, homself inspan om
die genade te verdien.
Maar in
spiritualiteit is daar altyd die wete: die inspanning is ‘n resultaat van die
genade-oomblik en nie die voorspel daartoe nie. ‘n Mens ontvang immers daardie een helder wete dat dinge nie so kan
aangaan nie. Die bloeisel weet van die Lente, ruik al die Lentegeure, koester
al die vriendelike Lente-son, al beurend deur die dor tak. Wie die genade
ontvang het, wie weet van die Vaderhuis, wil dit voluit geniet, wil terugkeer
na waar die Vader wag. Biddend, verlangend op wat ‘n mens intuïtief weet die
werklike lewe is, ver verby al ons onbevredigende gejaag verby.
Hierdie
verlange, vertel Jesus in die gelykenis van die Saaier, is soms daar vir ‘n
oomblik, vir ‘n vlietende moment. Soms word die verlange gekoester, ontwaak
dit, om dan deur die ou begeertes verdring te word. En daar is menige ander dinge wat die saad smoor en onontkiemd, of vroeg-vernietigd laat.
Daarom is
geestelike oefening nodig: innerlik en uiterlik.
Soveel vorme het hierdie oefeninge: Sommige mense ken hulself goed
genoeg om radikaal te kies teen al die oppervlakkige gejaag. Hulle breek
heeltemal weg. Franciskus van Assissi gaan gee sy erfgoed weg. Moeder Teresa pak haar tas
en stap die groot, wilde Kalkutta mens-alleen binne.
Dit het nie sommer
gebeur nie. Die radikale ommekeer het gekom deur dae-lange, weke-lange,
maande-lange se worsteling, inspanning en toewyding – aangevuur deur die wete
wat ‘n mens op ‘n dag binnedring: so kan dinge nie aangaan nie. Dit is nie wat
my lewe die moeite werd maak nie. Daar is ander, groter dinge wat my lewe moet
volmaak.
Geestelike
oefening is een van die belangrike aspekte van die geloofsreis as proses. Van
die begin af tot vandag toe het Ignatius se boek hieroor ‘n klassieke reus
geword: vele mense kon daarin ‘n wyse mede-reisiger hoor praat oor hoe ‘n mens,
stil en gereed om dieper te delf, die lewensreis kan aflê.
In die Protestantse
tradisie, soms maar neus-optrekkerig vir Ignatius, was geestelike oefening egter ook ‘n goue motief, maar in plaas van geestelike oefening is
eerder van heiligmaking gepraat.
Tradisioneel 'n goue motief. Vandag, merkwaardig, uit die mode en die pre-okkupasie, word gesê, van die oor-vromes.
Uiteindelik
is die besef onstuitbaar: wanneer ‘n mens tot stilstand kom, in die boom inklim
en jou naam hoor, is jou lewe nie weer dieselfde nie. Jy klim af. Gaan met jou
Gasheer tuis en maak dan alles goed wat so skeefgeloop het. Meervoudiglik doen
jy dit. Oorvloediglik. Jou lewe word heilig gemaak, want, die Stem van die Seun
het in jou lewe ingekom, bo die gedruis van die groot skare en as ‘n stille
krag alles vir altyd omgekeer.
Vandaar
Paulus se opmerking: alles waarvoor ‘n mens jou inspan, is uiteindelik God se
werk.
Maar
sekerlik, sekerlik is dit inspanning, oefening, heiliging.