Thursday, July 19, 2012

'n Gebed oor die liefde


U liefde het by my kom woon, so naby aan my, in die diepste, mees weggesteekte  deel van my bestaan.

U het in my hart ingekom; my met die hartstog van U liefde oorweldig.

Waar niemand anders kan kyk nie en waar geen menseblik kan sien nie, daar het U my kom opsoek:  U, die verborgene, het U aan my bekend gemaak. 

U, die Ontoeganklike,  het in my verganklike bestaan ingekom en by my, in my, so naby aan my,  kom woon as die Een wat omgee, die Een wat liefhet. 

So groot, so sterk, het die Liefde van U, o God, in my, klein, swak, liefdeloos, kom skuil.

U liefde, roemryk, hoor ek van hulle wat oor eeue heen daardeur aangeraak is, sien ek in die lewens van mense om my, U liefde verander grondiglik. Wie U aanraking van omgee eens ervaar het, is nuut, anders, en word steeds meer nuut  gemaak.

U liefde laat my ‘n nuwe vryheid ervaar.  Dit maak my vry. Ek is gedring om in die oopheid en wydsheid van hierdie Liefde te bly leef, weg van my eie, sielige en selfsugtige obsessies. U liefde laat my vry uit die gevangenis van my bekrompenheid, van my angstige soeke na selfbehoud. 

Deur U liefde het ek ryk geword. Ek het al die armoede en leegheid van my ou bestaan oorleef. 

U liefde het my immers nadergetrek na U, die goeie, getroue en genadige God. U is die vuur by Wie ek in die wintertye wil gaan skuil, die poel in die koel rivier waar ek in die snikhete somerdae verfris word. U is die een Wie se liefde my verwonder laat soos by vroeë lentebloeisels. In die herfs van verganklikheid en sterflikheid herinner U liefde my aan die ewige.

Toe U, my God my die Liefde gegee het, my omhels het, het U my die Lewe geskenk.  Die ewige lewe.

En, singend van hierdie Liefde, weet ek gedurigdeur, is daar die donker ondertoon van my eie liefdeloosheid, my herhaalde verraad teenoor U, die Liefdevolle. 

Laat my o God, nie van U liefde wegval nie. Laat my by U bly, by die Liefde.

( n a v 'n gebed van Rahner)

Blog Archive