Psalm 25:4-6. Here maak my u weë bekend; leer my u paaie. Lei my in u waarheid en
leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag.
Daar is ‘n boeiende mistieke kwaliteit aan
hierdie verse: die Psalmis is in ‘n intieme gesprek met God gewikkel.
Verlangend, oratief, appelleer hy, soekend
na die voortgaande teenwoordigheid van God in sy lewe. “Wees by my soos ek met
my lewe aangaan,” is sy werklike versmagting met hierdie beeld. Hy is eensaam,
leer ons uit Psalm 25:16. In hierdie eensaamheid, weet hy, vind hy alleen
uitkoms as God hom “in genade” aansien (vers 16).
“Maar my u weë bekend”: Die nuwe vertaling van
vers 4 herinterpreteer die baie ou metafoor van die “weg” wat ‘n mens in die
geloof loop as volg: Here, maak my u
“wil” bekend. Dit is ‘n vreemde weergawe, omdat daar in hierdie vers soveel
meer op die spel is as bloot om God se “wil” te “ken” (Maar, gelukkig, darem,
behou die nuwe vertaling dan tog in die res van die vers die parallelisme wat
in die Hebreeus onmiskenbaar ingebou is, wanneer dit byvoeg: leer my u “paaie”).
Die ou vertaling lui, in ooreenstemming met
die ryke beeldspraak in die teks: Maak
my u weë bekend.” Laat, is hierdie versugting, ek tog ontdek wat die pad is wat
na U toe lei, waar U teenwoordig is, waarop ek in U geselskap sal wees.” Die
beeld gaan om veel meer as net om God se “wil” te ken.
Dit is om by God, in Volheid, in Verborge
Veiligheid, te kan reis.
Kyk tog na die laaste frase in vers 5: Die ou vertaling lui: “U verwag ek die hele
dag.” Die nuwe vertaling is: “In U stel ek elke dag my verwagting.” Die nuwe
vertaling, voel dit vir my, laat die klem val op die mens wat God verwag. Die
ou vertaling laat die klem val op God vir wie die mens verwag. U – in ‘n
sinsinisiële posisie geplaas, U verwag ek.
Wat ‘n verskil: uiteindelik gaan dit nie om my verwagting
nie, maar om die voorwerp van my verlange en verwagting: dit gaan om God wat by
my is en saam met my reis.
Veel mooier, dus, is hierdie ouer weergawe:
“U verwag ek die hele dag.”
Die rede hiervoor is duidelik uit wat volg
wanneer ander gedagtes in hierdie drie verse wys hoe die klem op God is: die
gelowige loop “u” weg, “u” paaie.
Maar nou kan ‘n mens ook nie miskyk dat die
Psalmis alle kwalifiseer met die frase “die hele dag” nie. Die lewensreis is
heeltemal ingestel, die hele tyd heen, om by God te wees.
Daarmee kom nuwe kwaliteite in spel. Die
gelowige se gebed is gelaai met geduld en vertroue. ‘n Mens verlang gedurig om
met God op reis te wees omdat dit soveel vreugde bring. ‘n Mens wag met ‘n
geduldig, vertrouende houding op God om jou op die reis te bly vergesel.
Want waar God is, is dinge so anders as die
eensame plek waar ‘n mens jou bevind. Die lewenspad swenk dikwels af na en oor
rowwe, teisterende terrein. ‘n Mens bevind jou alleen, dikwels in die donkerte,
in die versluiering van sekerhede en sekuriteite. Dit is anders waar God is. Want
volgens vers 6 roep die Psalmis uit: “Dink aan die liefde en trou wat U van
altyd af betoon het.” In die donkerte, in die modder van die varkhokke, is daar
die herinneringe aan die liefdesaanraking van die Vader. So wil God onthou
word. Dit is waarna die bidder smag: na die liefde en die trou.
Veilig, veilig in die Vaderhuis. Vandaar die geduld, die volharding en die smagting.
In die afwagting op die koms van ‘n
liefdevolle, getroue God loop die gelowige die lewenspad. U verwag ek elke dag.
Alleen in U teenwoordigheid kom my rustelose hart uiteindelik tuis. Dit is ‘n
mistieke vereniging wat alle ander dinge nietig laat lyk teenoor wat ‘n mens
het wat in die Liefde woon.
Dikwels praat ons van spiritualiteit as ‘n
proses. Dit is belangrik om die kwaliteit van hierdie proses te bedink: dit is
‘n proses gelaai met geduld, met afwagting, met deursettingsvermoë. Maar dit is
‘n proses wat ‘n mens nie los nie, omdat dit uit jou hart kom. Dit kom uit ‘n
hart wat die Liefde ontmoet het en smag om nie sonder die Liefde te leef nie.
Hier word nie oor die “wil” van God
“gepraat” nie. Veel ryker word in die Psalm na God uitgereik om God se genadige
Liefde en Trou te ervaar. Dit is ‘n intieme, smagtende U-ek oomblik wat elke
oomblik van ‘n mens se lewe omtower wanneer God dan inderdaad, in die
kontemplatiewe moment, die gebed verhoor en die kind tuis omhels.