Tuesday, July 03, 2012

Geloof en lyding


Mense wat teenspoed kry, vra dikwels die vraag wat hulle verkeerd gedoen het dat God hulle op die manier straf.

Lyding word dus nie as ‘n geloofsuitdaging beskou nie.

Lyding is in hierdie voorbeeld ‘n teken dat geloof misluk het, gefaal het of te swak was.

In sekere opsigte sou ‘n mens miskien met so ‘n standpunt simpatie kan hê. ‘n Mens moet die gevolge van sy/haar dade dra. Wie kwaad doen, gaan onder die negatiewe gevolge daarvan ly.

Dikwels bring lyding ‘n mens ook by ‘n punt uit dat jy met skok jouself herken soos ander mense jou sien. Jy begryp skielik dat jy onbewus was van ‘n lewensstyl wat mense aanstoot gee. Wanneer hulle jou dan hieroor aanvat, kan ‘n mens inderdaad seerkry.

Maar lyding is lank nie die gevolg van dinge wat ‘n mens verkeerd doen nie. Neem maar die lewe van die toegewyde Job as voorbeeld. Job wys juis dat geloof soms met onverklaarbare ellende te doen kry. Dan is dit ‘n uitdaging om in die teenwoordigheid van sulke lyding gelowig te bly.

Geloof word iets besonders wanneer mense lyding nie op ‘n bonatuurlike manier ontvlug nie, maar ‘n bonatuurlike gebruik daarvan maak.

Dit, het Weil geskryf, is die groot uitdaging. Lyding kan nie uitgeroei word nie. Dit is in die gene van ons verworde bestaan gegee. Wie glo word nie van lyding gevrywaar nie.

Die groot toets vir geloof is nie of ‘n mens ly of nie.

Die belangrike toets vir geloof is wat ‘n mens met lyding doen. Die Heilige Gees, die krag van God wat in ons uitgegiet word, stel ons in staat, teen ons natuur in, om te ervaar dat die liefdesverhouding met God deur geen lyding tot niet gemaak kan word nie. So naby bly God aan die mens, ook in ekstreme lyding, dat lyding geen houvas meer het nie. Altyd weer kan ‘n mens lyding oorkom met die wete dat daar iets groters, Iemand liefdevoller as lyding is.  

Wie uit die wete leef, kry krag om lyding in die oë te kyk en op 'n bonatuurlike manier te gebruik. Dit kan self gebeur, dan, dat lyding 'n mens se lewe sterker, selfs ryker maak. Dit is immers die strekking van Hebreërs 11.  







Blog Archive