Saturday, May 08, 2010

Wanneer 'n mens skaam is om 'n Bybel te koop...

Met die terugreis vandag kon ek weer met die aan boord gaan in Schiphol ‘n paar Nederlandse koerante optel en na die vroeë opstaan (4 vm.) en gehardloop om vlugte uit Heathrow te haal, kon ek eers net rustig die Hollanders se nuutste nuus op die vliegtuig lees.

In een van hulle word vertel hoe ‘n redakteur van ‘n belangrike tydskrif in 1993 onder hipnose ‘n gesig weer gesien het van ‘n berghelling waar hy as kind vakansie gehou het. Dit het hom geboei. Hy het toe teruggegaan na die plek en dit na ‘n lang gesoek weer opgespoor. Op die plek het hy tussen die rotse gaan sit en geweet hy is in die teenwoordigheid van God.

Dit nadat hy vir jare nie meer kerk toe gegaan het nie. En as joernalis nie tyd vir die dinge gehad het nie.

Sewentien jaar na hierdie ervaring is hierdie voormalige joernalis tans besig om hom as ‘n geestelike te bekwaam. Hy wil bediening toe en studeer dus teologie aan ‘n seminarie.

Dit alles het nie sommer net met hom gebeur nie. Hy het op ‘n stadium in die vorige jaar of wat tydens ‘n redaksie-vergadering vir sy stomgeslaande redaksie vertel hy is gelowig en gaan in die bediening. As hy geduldig bly werk het, sou hy die hoogste pos in sy bedryf bereik het. Wat hy bereik het en sou kon bereik het, is iets waarvan joernaliste net kan droom.

Maar, het hy hulle laat weet, hy gaan eenvoudig alles opgee, sy besittings verkoop en in die bediening gaan.

“Vreemd genoeg,” haal hulle hom in die onderhoud aan, “vind ek die opgee van al my besittings en beroep nie eens so moeilik nie. Om van jou besittings afstand te doen, maak die lewe ‘n bietjie ligter. As geestelike verbind jy jou met die bo-wêreld. Besit is net ‘n stuk gewig wat jou na onder trek.”

Wat laat hom so verander? Sy roeping, antwoord hy. En roeping is ‘n woord wat moeilik uitgelê kan word: ‘n mens kan dit met verliefdheid vergelyk. Mense sal berge versit en alles prysgee omdat hulle verlief is. So het dit ook met hom gegaan. En dit het ook nie sommer net in ‘n oomblik gebeur nie. Dit was geen emosionele trip nie. Oor dertien jaar lank het hy in hierdie roeping in gegroei.

Roeping is ‘n verliefdheid. Dit is nie iets, dink ek hieroor na, waaraan jy swaar dra of waaroor jy karring nie. Dit maak van jou ‘n mens wat verlief is op die pad wat God met jou loop.

Die roeping het nie uit die lug geval nie. En het oor jare gegroei. Hy het in die dertien jaar na sy ervaring in Frankryk weer ‘n spesiale ervaring gehad. Nadat hy ‘n lank tyd in New York gewerk het, het hy na Nederland teruggekeer en op ‘n dag ‘n kerk besoek. Daar het hy gevoel asof iets soos ‘n ligstraal op hom neerdaal. En ‘n kort rukkie later het hy besef dat die kerk die plek is waar hy wou wees.

Hy het nooit met iemand hieroor gepraat nie. “Ek het dit self nie begryp nie.” En boonop is ‘n mens half verleë – dit is nie sommer iets wat ‘n mens maklik aan jou kollegas vertel nie – veral nie in die harde media-wêreld nie. Dink net aan daardie opgetrekte wenkbroue....

Dit is op hierdie punt van die berig dat ek besef hoe drasties hierdie man se omwenteling vir hom en in Nederland is. Vir ons klink dit miskien alles nie te vreemd nie. Maar in die hoogs gesekulariseerde Nederland en veral in die joernalistieke wêreld gebeur dit nie aldag nie. Dit besef ek toe ek sien hoe hy vertel hy het op ‘n dag in ‘n boekwinkel ‘n Bybel gaan koop. En toe dink hy by homself hy sal maar sê dat hy dit as ‘n present vir iemand koop!

Jy kan in hierdie land eintlik nie meer sonder ‘n goeie verskoning ‘n Bybel koop nie. En dan ook nie vir jouself nie.

Ek het dit in meer as een opsig in Europa waargeneem. Ek het dit ook tydens ons konferensie weer ervaar. En ek dink nie ons moet te gou vinger wys nie. 'n Mens sal gou iets hiervan in ons eie land herken.

Ons glo skamerig teen ons omgewing in...

Die berig sluit af: Schilder het geluk gevind. Dit is nie vir hom altyd maklik nie want op die ouderdom van 53 studeer hy teologie nou soms met moeite. Maar hy wat voorheen sy lewe so netjies in sy eie hand gehou het, het dit nou opgegee en oorgegee. Hy het geen ambisies meer nie. Hy streef na niks. “Maar dit is eintlik tog ‘n lekker gevoel.”

Ek bly egter dink: Dat ‘n mens verskonings maak as jy die Bybel in ‘n winkel wil gaan koop! Hoe vreemd is geloof tog nie! Dit bly iets waartoe jy geroep word.

God se weë is nie ons s’n nie. En die indrukwekkende is dat die Een wat roep, getrou is om die pad saam met die geroepene te loop.

Dit was 'n lekker berig om te lees - hierdie onderhoud met 'n man wat so radikaal gehoorsaamheid leer aan die pad waartoe God hom roep.

Friday, May 07, 2010

Ouderdom sit in die kop. Oor 'n mede-treinreisiger.

Op pad van die konferensie kom sit 'n man langs ons in die trein. Hy is duidelik in 'n bui vir 'n geselsie, het ek gesien - want hy groet my al op 'n afstand as hy met die paadjie aankom. Ek ken hom van g'n kant af nie, maar dit is duidelik vir hom geen probleem nie.

Ek sit terug en val by die ritueel van kennis maak in. Maar hy vra nie die gewone vrae van kennis-maak nie - hy stel nie belang in wie jy is en waarvandaan jy kom nie.

Hy wil net praat.

Hy is 'n afgetrede argitek, vir die naweek op pad na Frankryk waar hy aan 'n formule 3 motor-resies gaan deelneem. So tussen-deur sy praat kom ek agter hy was twee keer 'n Britse amateur-kampioen in 'n sekere kategorie motorwedrenne. Nou help hy die jonger mense wat aan sulke resies deelneem.

Hy, lyk my, is 'n soort mentor vir 'n kampioen wat in Frankryk aan die wedren gaan deelneem.

Hy spot hieroor.Hy vertel dat hy altyd vir ander mense antwoord dat sy rol is om warm spykers op die sitplek van die bestuurder te sit.

Hy lag as hy dit oorvertel.

Maar dan raak hy spraaksamiger: Hy is eintlik 'n spy. Wat hy doen, vertel hy gemoedelik vir my in antwoord op my vraende blik, is blykbaar om onder andere te kyk hoe die teenstanders se motors vir die ren voorberei word of lyk. Sy argiteksoog tel dadelik allerhande detail op - en sy eie ervaring van jare se wedrenne help hom om die inligting te verwerk. As so 'n motor byvoorbeeld sy vinne op 'n sekere hoek ingestel het, raak dit die motor se performance om die hoeke van die renbaan. Dit is of vinniger of stadiger. En so verduidelik hy vir my verskillende detail waarvan ek geen kop of stert uitmaak nie, maar wat vir my wys hy ken sy verhaal. Die strategie van die span kom 'n mens agter bloot uit hoe hulle die motor of watter motor hulle nadertrek vir die betrokke resies.

Die uur in die trein gaan so vinnig verby soos sy motor om die draaie van die renbaan. Ons praat oor alles en nog wat. Hy ken die geskiedenis van die Cottswold as streek en weet van elke hoek en draai. Dit is die pragtige gebied waardeur ons met die trein terug ry London toe na die week se konferensie. Ons praat oor skole, verkiesing, politiek, immigrante, sy reise, ook na Suid-Afrika en sommer 'n klomp dinge.

Twee vreemdelinge wat uit twee heeltemal verskillende werelde kom, maar nie 'n oomblik vir stilte oorlaat nie.

Hoe klein is ons aardbol en hoe is mense maar oral dieselfde.

Maar wat ek nou veral onthou is sy trotse vertelling oor sy mentee: die outjie wat hy nou bystaan, het onlangs 30 geword en begin wonder oor sy potensiaal om nog aan wedstryde deel te neem. My reisgenoot het by die boekwinkel Martina Navratilova se boekie van beroemde quotes gekoop waarin hy een ding gesien het wat by hom bly: as jy 'n tennisbal slaan, sien die bal nie jou ouderdom raak nie.

Dus, dit is nie ouderdom wat tel nie, maar wat in jou kop aangaan.

Ek stem met hom hartlik saam, terwyl ek dink aan so baie ou, ou mense wat jonk, jonk van gees en selfs liggaam is. Dit sit in die kop.

Hy het die boekie van Martina gekoop, vertel hy, en sonder enige kommentaar vir die jongman gegee. Hy het doelbewus niks van die spesifieke aanhaling vir die outjie vertel nie. Hy is nie die prekerige soort nie.

Maar hy het geweet wat hy doen, want op 'n dag kom die outjie toe terug na hom en vertel vir hom hy het iets ouliks in die boek gelees - naamlik dat as 'n mens 'n tennisbal slaan, die bal nie jou ouderdom sien nie.

Daar straal 'n salige en tevrede glimlag oor sy gesig as my reisgenoot vir my hierdie deel van die verhaal vertel.

Wysheid wat ontdek word waar iemand dit onopsigtelik vir jou gelos het, tref die hart die diepste.

Hy is 'n leermeester wat weet, besef ek.

Wat my reisgenoot egter nie besef nie, en nie oor praat nie, is dat hy self, seker al in sy sewentigs (hy het 'n seun van 50), lyk asof hy 'n jong man is en praat met 'n rype lewenswysheid.

Ek kan sien hoe sport hom gevorm het. En hoe dit hom jonk hou. En vir hom wysheid gegee het.

Op 'n mens se lewensreis ontmoet jy vir 'n uurtjie mense wat 'n stuk rykheid in jou lewe inbring. Jy sien hulle nooit weer nie. Maar hulle woorde bly jou by. Veral wanneer dit woorde is wat saak maak. En wat wys is.

'n Lang week in die vreemde. In 'n lang konferensie. Maar op hierdie reis het iemand oor my pad gekom wat in 'n uurtjie vir my baie oor die lewe geleer het. Ek is bevoorreg.

Jonatan en die heuning.

Vanmiddag lees Jos Huls saam met ons ‘n preek van Konrad van Sint George oor 1 Samuel 14. Ek het die verhaal lanklaas gelees. Die herlees daarvan is betowerend mooi vir my: die verhaal van Jonatan wat teen die Filistyne veg. Hy oortree onwetend sy pa se verbod wanneer hy heuning eet.

Konrad fokus sterk op 'n skynbare heel onskuldige opmerking oor Jonatan wat heuning vind en dit eet.

Maar - skryf hy, moenie te gou lees nie. Want Jonatan se oë word “verlig” deur wat hy eet.

Konrad lees dit as volg:

'n Mens moet ondeskei tussen die nagmaal en gemeenskap wat deur die nagmaal tot stand kom. Ons kan die nagmaal gebruik sonder dat dit iets aan ons doen. Ons kan alleen God ontmoet as ons ‘n verlange na hierdie ontmoeting het. Hoe meer ons ons instel op God se teenwoordigheid in ons lewens, hoe meer sal ons verlang na die “soet heuning” van die nagmaal.

Nou hoe stel ‘n mens jou op God in? Vir Konrad gebeur dit wanneer ‘n mens jou uitsluitlik op God fokus. Alleen God kan ‘n mens aansê om iets te doen. Alle ander stemme, selfs van jou vader (Jonatan se pa, die koning) is ondergeskik aan die goddelike opdrag. Wanneer Jonatan die Filistyne oorwin is dit ‘n verhaal van geloof. Jonatan waag ‘n avontuur met God. Sy reis word nie deur menslike oorwegings bepaal nie. Hy vertrou totaal en alleen op God se vrymakende krag.

Maar waar vra God dan van hom iets in hierdie verhaal? Jonatan sou nooit die heuning kon geproe het as God nie ‘n verborge pad met hom geloop het nie. Deur die aanval van die Filistyne loop hy ‘n weg wat hom in aanraking met die soete heuning bring. God stuur dus sy pad en hy gehoorsaam deur daardie pad ondanks alle teenkanting van sy pa te loop.

Wat ‘n interpretasie!

Jonatan se eet van die heuning vertel ons meer van sy geloofsreis?

Môre meer oor die kat wat hierdie uitleg in die hoenderhok losgelaat het.

Thursday, May 06, 2010

Lank voor ons weet en verstaan, is God daar....

As Maria in die tuin is, treurig, is Jesus by haar. Maar sy herken hom nie. Sy dink dit is die tuinier.

En sy vra vir hom of hy weet waar Jesus is. Wêrelde skei haar van Jesus, van God se Woord vir mense. Daar is afgronde tussen haar en Hom.

Jesus antwoord haar nie. Hy noem haar bloot op haar naam – “Maria.”

En : Sy herken sy stem. Sy weet op daardie oomblik wie dit is wat met haar praat. En haar reaksie is onmiddellik en direk: sy noem hom “rabboeni.” Daar is toe-eiening.

Ons praat hieroor n.a.v. Waaijman se inleiding oor die manier waarop Spiritualiteit die Woord van God lees.

Die Bybel is God wat met ons praat. Ons hoor God se stem. En dit bring ons direk in die verhouding met God en neem ons op in ‘n liefdesrelasie.

Toe vertel Waaijman vir my iets verrassends. Maria was nie voorbereid vir hierdie aanraking van God nie. Dit kom tot haar uit die bloute. Dikwels, in die mistiek, sê hy, lees ons hoe die mistici deur God aangeraak word en vir jare nie weet wat dit beteken nie. Eers baie later begin hulle agterkom wat beteken die aanraking.

Ons verstaan dikwels nie wat met ons aan die gang is nie. Ons weet net daar het iets nuuts met ons gebeur. En met tyd kom die insig, die verstaan, die helderheid, die wete waaroor alles gaan.

Hoe klein is ons brein nie. Hoe groot, oorweldigend is God se aanraking nie.

Sunday, May 02, 2010

'n Week van praat in Engeland...



Dis lente in Engeland. In Ely is die bome swaar in die blom. Ons geniet Vrydag die pragtige lente tonele uit die trein soos ons reis vanaf Heathrow.

Maar Saterdag is dit 8 grade buite met veel buie. Ons kon net sowel in ons lekker warm gesellige herfsweer in Stellenbosch gebly het.

April hier in Engeland, hoor ons, was darem die sonnigste in die afgelope 100 jaar.

Vanoggend, oor BBC 1 luister ek vroeg-oggend na die diens uit 'n United Reformed Church wat 350 jaar oud is en wat 'n lang en traumatiese geskiedenis het. Selfs in hierdie land is daar genoeg tyd op die openbare sender vir 'n ordentlike kerkdiens.

Vir eeue lank was dit 'n kerk wat in konflik met ander kerke bedryf is, word met die inleiding van die diens vertel. Die kerk kan egter nie meer bekostig om die ou konflikte van die verlede oor te baklei nie. Daarvoor is die rol van die kerk te veel in die openbare oog en die sinisme van 'n kerk-lose publiek te sterk.

Die plaaslike dominee vertel skalks dat hulle kerk deesdae darem 'n baie beter verhouding met die ander kerke het! Dit is 'n opmerking wat boek-dele vertel.

Vanoggend word die diens deur die Moderator van die kerk gelei. Dit is 'n treffende diens gelei deur iemand wat duidelik belese is, maar ook goed kan kommunikeer. Haar preek reflekteer sonder meer die gesekulariseerde samelewing van die kerk in hierdie land. Sy praat oor die kerk wat nie meer ekslusief kan wees nie - 'n warm broeiplek van mense wat dieselfde dink nie. Die kerk moet in ontferming kan uitreik na buite en 'n teken van liefde wees.

Dit is duidelik 'n preek wat 'n bloedarmoedige, self-gerigte instelling van die kerk wil bevraagteken.

Dis mooi.

Sekularisering kan in sommige opsigte net gesond wees. Dit maak die kerk bewus van wat werklik saak maak. Die dae dat die kerk baas speel in plaas van dien, is verby.

En tog, wonder ek daarna, wat maak die kerk anders as organisasies wat opheffingswerk doen en uitreik na ander?

Wat is die identiteit van die kerk wat die kerk onder andere ook inspireer om in ontferming uit te reik na ander? Maar wat is daar in die kerk naas 'n meelewing teenoor ander?

Dinsdag begin ons met ons simposium oor Bybelse Spiritualiteit in Gloucestershire. Een van die referate gaan juis oor Bybelse Spiritualiteit in 'n gesekulariseerde konteks. Ook in Spiritualiteit sal 'n mens moet vra na dit wat in ons tyd eie aan die Bybelse teks en die kerk is en behoue kan bly.

Drie universiteite uit S.A. en twee uit Europa vergader in 'n geslote konteks om te luister na 'n tiental referate oor Bybelse Spiritualiteit met hierdie simposium. Ons gaan die aard en parameters van die dissipline bespreek, maar dan ook heel spesifiek kyk na spesifieke Bybelse tekste. Ons wil veral kyk watter verskil maak Bybelse Spiritualiteit aan die lees van die Bybel.

Die referate is voor die tyd gesirkuleer sodat daar genoeg tyd is vir bespreking. Ons gaan ook kyk na die pad vorentoe: ons hoop om 'n netwerk aan die gang te kry wat samewerking op internasionale vlak kan voortsit.

Thursday, April 29, 2010

Vroomheid en heiligheid - 'n vergelyking

Om die twee kernwoorde van vroomheid en heiligheid verder te verstaan en om die rykheid van spiritualiteit te illustreer, is dit goed om hulle met mekaar te vergelyk:

Vroomheid het te doen met ontsag vir God wanneer God ‘n mens aanraak. ‘n Mens staan terug, maar is terselfdertyd ook geboeid deur God se ontsaglikheid. Deur hierdie ontsaglike aanraking ontvang ‘n mens nuwe lewe. Hierdie nuwe lewe kom na vore in allerhande deugde wat ‘n mens uit eerbied vir God uitleef. Om ‘n vroom mens te wees is om ‘n deugsame mens te wees. wat ‘n lewe vol positiewe waardes najaag in eerbied vir God as die skepper van die lewe en die heelal.

Heiliging het ook te doen met God wat ‘n mens aanraak. ‘n Mens word verteer en deursuur deur God se heiligheid. In die Ou Testament het dit te doen met allerhande rituele en veral met die tempel as plek van God se heilige teenwoordigheid. Soos Moses sy skoene moet uittrek wanneer hy in God se heilige teenwoordigheid kom (Ex.3:5), moet iemand wat na die tempel gaan, gereinig word en offer (bv. Mt.8:4). Deur heiliging word ‘n mens losgemaak van die sfeer van die onreinheid en oorgeplaas in die ruimte van heiligheid. In hierdie proses is God dinamies aan die werk op al die lewensterreine van die mens: die sosiale, liggaamlike, kulturele, etiese en godsdienstige. ‘n Heilige is iemand wat aangetrokke voel tot God se heiligheid, deur God gesuiwer word van die kwaad en wat gelei word tot, soos Waaijman dit stel, ontoeganklike lig.

In die een geval is dit God se ontsaglikheid wat vir ‘n mens aantrek tot ‘n nuwe lewe. In die ander geval is dit God se heiligheid wat ‘n mens intrek in ‘n sfeer van reinheid en skoonheid. Wie deur God aangeraak word, ontwaak tot ‘n nuwe bestaan en staan verstelpt voor die lewe as ‘n kosbare gawe. As God ‘n mens aanraak wil ‘n mens nuut leef, anders wees. En wie deur God in heiligheid aangeraak word, word weggeneem in ‘n ruimte van donkerte, onreinheid, lelikheid, onheiligheid en word aangevuur om in reinheid te leef.

In albei gevalle word die mens weggeneem uit sy ou lewe en getransformeer om met God in ‘n nuwe verhouding te leef. In albei gevalle is dit die karakter van God as die Ontsaglike en as die Heilige wat die aard van die transformasie bepaal.

Die geestelike mens is die mens wat nuut en anders leef. In die lewe van die geestelike mens sien ‘n mens die ontsaglike krag van God raak. Maar die geestelike mens is ook die mens wat heilig en rein leef. In die lewe van die geestelike mens sien ‘n mens die enorme gloed van heiligheid wat die mens afsonder van al die vaal verdrietighede en onreinhede van die ruimte buite God.

Wednesday, April 28, 2010

Verlangend om by die Heilige te kan skuil



Net Chagall kan die brandende braambos so uitbeeld. Rooi liefdesbloeisels.


Ek word al meer weggevoer deur die gedagte dat spiritualiteit gaan om ‘n verhouding wat God met die mens aanknoop wat die mens voortdurend nader aan God bring.

Ons sê spiritualiteit gaan om transformasie – of omvorming. Dit beteken dat ons verby ons huidige bestaansvorm verander word sodat ons al hoe meer God se beeld vertoon. Ons neem die vorm van God aan – en word daardeur al hoe intiemer en liefdevoller deur God nader getrek. Een van die soorte van transformasie, soos Waaijman die beskryf, is juis ‘n transformasie in heerlikheid: Daardie groot, finale transformasie wat vorentoe ten volle met ons sal plaasvind wanneer ons uiteindelik in God se heerlikheid opgeneem sal word. Uiteindelik. Dan sal ons hartsverlange hartsaanskouing word.

Hoe ingrypend hierdie groeiende eenwording met God is, word duidelik wanneer ons dink aan God as die heilige en aan ons heiligmaking.

Heiligmaking, het ons gesien, word dikwels verbind met die gedagte dat die mens ontslae raak van sekere sondes en dus ‘n moreel skoon lewe lei. Ons dink daarom aan “heiliges” as mense wat ‘n besonder vroom lewe lei. En meestal is ons naby daaraan om hierdie soort van heiligheid te bedink as skynheiligheid.

Heiligmaking is deesdae nie ‘n in-ding nie. Trouens, dit kan vir baie ‘n lastige iets wees en raak. Ons dink aan heiligmaking as iets wat ‘n mens doen met traagheid en met allerhande opofferinge.

Maar in die Bybel is die mens se heiligmaking lank nie in die fokus nie. Wanneer ‘n mens oor heiligheid praat, is nie die mens nie, maar God onmiddellik in die middelpunt.

Heiligmaking is iets wat in die lewe van mense gebeur omdat God met hulle in ‘n verhouding tree. En dit is iets ontsagliks: Wanneer God ‘n mens nader roep, is dit tyd om jou skoene uit te trek – soos Moses voor die brandende braambos (Ex.3:5).

Daar is dus iets ontsagwekkends aan God se teenwoordigheid. Moses het sy gesig toegemaak omdat hy bang was vir wat met hom gebeur het as God in sy lewe inkom (Ex.3:5-6). Omdat God op die berg Sinai in heiigheid woon, moet Moses ‘n grens om die berg trek (Ex.19:10-24). Jesaja is so oorweldig deur God se heiligheid as die Here hom tot profeet roep, dat hy sê: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is.” Hy word eers gereinig van sy sonde as ‘n seraf sy mond aanraak met ‘n gloeiende kool van die altaar.

God is dus die heilige by uitnemendheid voor wie die skepping in ontsag staan.

Maar as iets ontsagwekkends is, is dit nog lank nie angswekkend nie. Trouens, daar is iets boeiends en aantreklik aan ontsag. As die mens heiligmaking nastreef en heiligmaking geskenk word, word die mens uiteindelik soos God wat self die Heilige is. In jou lewe kom daar iets merkwaardig “anders” aan die gang. ‘n Mens begin op ‘n ander, diep bevredigende en belonende manier lewe.

Hieligheid is juis om “anders”, “afgesonder” te wees.

Sekere die mees opvallende boek in die Nuwe Testament as dit kom by heiligheid, is Openbaring. In hierdie boek is God by uitstek die Heilige, die waaragtige (3:7; 6:10) wat, soos in Jesaja 6 drie maal as heilig besing word (4:8). God alleen is heilig (15:4). Maria sing selfs oor God: “Heilig is Sy Naam” (Lk.1:49). Daarmee word die skoonheid en suiwerheid van God besing.

Om by die Heilige te wees, is om in suiwerheid, in reinheid, in helder lig te woon.

By die boom van die lewe wat heel jaar soet, sappige vrugte dra. Weg van die moordenaars, die afgodsdienaars en almal wat valsheid liefhet en doen (Open.22:15!).

Trouens, die bekendste woord oor heiligmaking kom uit 1 Petrus 1:16 waar die lesers opgeroep word om heilig te wees omdat God heilig is – en daarmee die bekende Levitikus 11:44 oorneem. “Net soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig wees.”

Met hierdie uitsprake word die Ou Testament se beskrywing van God as die Heilige oorgeneem. God die Heilige woon in die heiligdom – en dit oorheers die Ou Testament as boek van die tempel. Jesaja praat 25 keer van God as die Heilige van Israel. En die trishagion, die drie maal herhaalde uitroep oor God as heilig wat in Openbaring voorkom (4:8), kom juis uit Jesaja 6:3. Pragtige verse beskryf God se heiligheid as die profeet sê dat die Here vra: “Met wie kan julle My dan vergelyk? wie is soos Ek? vra die Heilige.”

Maar daar is meer as net iets ontsagliks aan God se heiligheid. Dit is boeiend om te sien hoe reik God juis in God se heiligheid uit na die mens. Die heiligheid van God is vir gelowiges in die Bybel ‘n sterk vertroostende boodskap. God wil heiligheid deel. Dit is nie iets wat God alleen besit nie. En God wil dit graag, ten alle koste deel. Een van die mooiste tekste in die Bybel is Hosea 11:8-9 waar God se intieme verhouding met Israel uitgespel word:

“Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ‘n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.”

Die Heilige is “by” die gelowige. Daar is ‘n noue, intieme band tussen God en die mens.

In sy heiligheid is God die God van liefde!

Dit is vir my asof God na die mens uitreik juis omdat God so heilig is en omdat God weet dat ons egte vrede sal vind alleen wanneer ons in God se heiligheid ingroei en skuil. Dit is vir my asof God uitreik omdat God weet dat ons nooit innerlik tot rus sal kom nie, behalwe as ons in God se suiwerheid en reinheid woon.

Nog mooier is Jesaja 57:15:

“So sê Hy wat hoog en verhewe is, Hy wat ewig leef en wie se Naam die Heilige is: Ek woon in ‘n hoë en heilige plek en Ek is by hom wat verdruk en nederig is. Ek gee nuwe krag aan die nederiges, Ek gee nuwe krag aan die verdruktes. Ek reken nie vir altyd sondes toe nie, Ek bly nie vir altyd toornig nie....”

Juis as die Heilige is God ook die liefdevolle. Juis as die verhewene is God ook die verdrukte en nederige!

Hoe kan ons dan ooit vir ‘n oomblik droom om heiligmaking as ‘n plig, as ons sware taak en as ons dure verantwoordelikheid te sien?

As ‘n mens die dag met iemand trou en jy sien jou bruid of jou bruidegom, voel dit vir jou op daardie oomblik, in die roes van soveel skoonheid en liefde, asof jy jou hele lewe lank aan daardie een getrou sal bly. In die teenwoordigheid van die een vir wie jy lief is, volg heiligheid spontaan.

Heiligheid is om by God te wees, sonder enige onreinheid. Dit is om werklik vry te wees van alles wat ‘n mens skei van God, van wat werklik saak maak.

Wanneer God ‘n verhouding met ons aanknoop, word ons opgeneem in God se suiwere teenwoordigheid. Heiligmaking volg as ‘n spontane liefdesaksie – om by God in absolute reinheid te wil woon.

Dit is boeiend om na te dink oor God as die heilige wat heiligmaking as ‘n liefdesgawe skenk.


Tuesday, April 27, 2010

Familie...














Die familie het 'n nuwe gier: hulle is gedurig op die webwerf:

http://awkwardfamilyphotos.com


Dis meestal Amerikaanse foto's.

Hier is 'n paar pragtige voorbeelde. Die kommentaar op die foto's is soms snaakser as die foto's self.


Een van my gunstelinge is die volgende een - veral oor die onderskrif - "Hy kon nie wegsteek dat hy 'n oogappel het nie."!





en die volgende een - van 'n iesegrimmige hond wat duidelik nie in dieselfde tedere stemming as sy opgedressde base is nie:




Nou wonder ek watter foto's uit ons land sou kon kom.

Monday, April 26, 2010

Heiliging

As ‘n mens oor spiritualiteit praat, is heiligmaking een van die eerste dinge waaraan ‘n mens dink. In ons eie tradisie speel hierdie motief ‘n groot rol. Ons praat graag van ons lewensreis as die pad van heiligmaking wat ons moet loop.

Gewoonlik verstaan ons dan daaronder dat ‘n mens teen die sonde stry en soek om goeie dinge te doen.

Heiligmaking is egter ‘n baie ryk tema met vele dimensies. Dit moenie moralisties gesien word as iets wat swaar op my inwerk en waarvoor ek my teensinnig en met teensin inspan nie.

Heiligmaking is immers glad nie net iets wat die mens doen nie. In ons heiligmaking gebeur daar iets met ons wat ver verby ons menslike inspanning en dade is. Anders as wat ons dikwels losweg dink, is heiligmaking nie iets wat die mens “moet doen” nie. “Heiligmaking” beteken eintlik dat ‘n mens heilig gemaak word. Hier word duidelik bedoel dat ons groei weg van die sonde iets is wat God vir ons doen. Ons “word” eintlik geheilig – ons is daarmee passief en God is die Een wat ons heilig. Dit is juis die spontane en die inspirerende: wanneer God ‘n mens aanraak – soos vuur – dan ontvang ons heiligmaking as ‘n gawe. In Galasiërs is al die heiligmakende dinge “vrug” van die Gees. Wanneer God die Gees in ons werk, bot die siervolle vrug in ons lewens uit. Daar is iets onwillekeurigs aan ons heiligmaking. Dit is iets wat eenvoudig net gebeur waar God in mense se lewens woon.

Maar aan die ander kant ken ons ook heiligmaking darem ook as ‘n aktiewe poging van ons kant. In 1 Tessalonisense 4 word telkens gevra dat Christene heilig moet lewe. Volgens Filippense 2:12-13 leef ons as verlostes volgens God se wil – maar ook hier “maak God ons gewillig en bekwaam om God se wil uit te voer.”

Daar is dus twee kante aan heiliging: Heiligmaking as iets wat God vir ons doen en selfheiliging as ons soeke na ‘n heilige lewe.

Maar heiliging het ook ‘n duidelike spanning. Iewers het heiliging met inspanning te doen want ons word getransformeer uit ‘n onheilige, onrein, verganklike bestaan tot ‘n heilige, rein en onverganklike lewe. In die sin beteken heiligmaking dat ons moet weg beweeg van dit wat die Gees van God bedroef en die werking van die Gees weerstaan. Dit word dan inderdaad tog ook ‘n inspanning.

En hierdie inspanning tot heiliging, skryf Waaijman, raak baie kante van ons lewe: ons liggaam, ons gees, ons doen en late, ons verhoudinge met ander en ons verhouding met God word alles geheilig.

Dit is ook boeiend om te sien hoe heiliging oral in ons lewens saad skiet. As ‘n mens by God is, skyn die helder lig van God se teenwoordigheid in die donkerste hoekies van ons lewe. Ons kan nie met heiliging halfhartig omgaan nie. Dit verteer ons ten volle. In heiliging gaan dit eintlik daarom dat God alles in ons word en dat ons God se beeld spontaan uitleef. Dit is nie ‘n dwang nie, maar dit word ‘n innerlik drang – dit is nie iets wat halfpad gebeur nie, dit raak alles in ons aan.

Heiligmaking het te doen met die hart van spiritualiteit. Dit is iets wat God van ons vra omdat God heilig is en omdat God heilig maak.

Maar ‘n mens kan nog baie meer hieroor skryf.

Sunday, April 25, 2010

Ontsag en eerbied vir God as kernwoord van spiritualiteit

In ons tyd, besef ek telkens maar weer as ek met mense gesels, is dit nie altyd so “in” om respek te hê en goed te leef nie. Dit is eerder “in” om te wys hoe “normaal” jy is deur jou gesprekke te laai met kragwoorde, deur “realisties” oor ander mense keiharde uitsprake te maak en deur nie al te vroom oor jou geloof in God te praat nie.

Dit is verstaanbaar in ‘n gemeenskap waarin eerbied en liefde vir God afgekoel het.

En tog is vroomheid of godsvrug is ‘n kernwoord in spiritualiteit. Anders as wat ons normaalweg dink, het die woord wel nie net bloot te doen met ‘n mooi, netjies en moralistiese lewe nie, maar gaan dit in die eerste plek en veral oor iets baie groters: vroomheid behels eerbied en ontsag vir God. Soms word dit ook as “vrees” vir God gesien, maar sonder die bygedagte van “angs.”

Ons gepeperde taal, ons harde kritiek, ons “menslike” foute vertel eintlik dat God in ons lewens afwesig is. Dat ons nie regtig respek het nie - nie vir ander mense met en oor wie ons so praat nie, nie teenoor onsself nie, maar veral nie teenoor God nie. Ons het eintlik eerbied wat ons teenoor alles en almal behoort te wys, verloor.

Luister maar hoe anders ‘n kind sal praat wanneer hy weet sy pa of ma is in die omtrek. So werk dit eintlik ook in ons godsdiens. Kru gestel: ons sal nie droom om sekere dinge te dink en doen in die kerk nie wat ons andersins maklik deel maak van ons lewe. In die kerk, immers, doen ons sekere slegte dinge nou eenmaal net nie uit eerbied. Maar sodra ons uit die ruimte van die kerk is, laat ons maklik eerbied vir die heilige agter saam met die kerkbanke waarop ons gesit het. Asof 'n mens God soos 'n kerkbank kan agterlaat. Asof God nie gedurig in ons lewens aanwesig is nie.

Die blote feit dat ons 'n lewe in en buite die kerk het en dat hierdie twee lewens in sulke spanning met mekaar staan, vertel al iets van ons eerbied vir God.

Eerbied kom ‘n lang pad. ‘n Mens se eerbied vir God het ten nouste te doen met die feit dat God ‘n mens aanraak en daarmee lewe skenk. “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die Here” sê Spreuke 9:10. En waar ‘n mens God ontmoet, kom daar sin en betekenis in jou lewe. Eerbied vir God lei tot lewe, tot die ervaring dat iets groots met jou gebeur en dat jou lewe goed is. Spreuke 19:23 lui: “Die vrees van die Here is tot die lewe.” En as ons naby aan God in God se grootheid leef, is daar tevredenheid en vervulling in ons lewe. Die wat die Here vrees, het geen gebrek nie (Ps.34:10). Die vrees van die Here bring ‘n mens onder die indruk van God se goedheid.

Daar is ten minste twee kante aan ons eerbied vir God. Waaijman skryf dat vroomheid beide ‘n aktiewe en passiewe kant het: ‘n mens staan passief wanneer God ‘n mens aanraak – jy deins terug van God se aanraking. Dit begin, soos Waaijman sê, met die oorweldigende, skokkende, suiwerende ervaring dat God ‘n huiweringwekkende verborgenheid is en bly. Daar is in die Bybel aangrypende voorbeelde van wat gebeur wanneer God in mense se lewens begin werk. Die Here, sê Deut.9:3 is ‘n verterende vuur en volgens Psalm 47:3 kom die Here eerbied toe – die Here is ontsagwekkend bo al die gode (Psalm 96:4). Geen wonder dat Moses sy gesig voor God verberg nie (Ex.3:6), terwyl Elia sy gesig in sy mantel verberg wanneer God praat (1 Kon. 19:12-13). Die aanraking van God word byvoorbeeld deur Pascal met sy mistieke ervaring as só ‘n skokkende, huiweringwekkende ervaring ondervind (sien my blog van 8 Mei 2009). Hy skryf bo-aan sy beskrywing van hierdie spesiale gebeurtenis in hoofletters die woord: VUUR.

Pinksterdag was só ‘n dag van vuur waarop God angsvallige, bang mense aangeraak het en met vuur tot die lewe gevul het.

Dit is tog 'n merkwaardige saak: dat God as "huiweringwekkende verborgenheid" (Waaijman) in ons lewe inkom en ons soos vuur aanraak en suiwer.

Dit is om van terug te skrik.

Maar daar is ook ‘n ander kant aan vroomheid een eerbied: ‘n Mens word aktief geraak deur die aanraking: jy raak betrokke, jy staan geboeid voor wat met jou gebeur. Eerbied beteken om aangetrokke te wees tot God wat in die mens se lewe teenwoordig is. ‘n Mens wil graag by hierdie God wees wat jou aangeraak het. Die eerste gemeente het as een groot gemeenskap saam met mekaar God se teenwoordigheid opgesoek (Hand.2).

Uit eerbied vir God leef ‘n mens ‘n lewe van deugsaamheid, soos ‘n mens sommer dadelik uit Job 1:1; Exodus 18:21 en Maleagi 3:5 kan aflei. ‘n Vroom mens wat in eerbied teenoor God lewe streef daarom ‘n lewe van goedheid na. Die eerste gemeente het konsekwent, lees ons in Handelinge in die vrees van die Here geleef, gedring deur die liefde tot God en mekaar. Lees maar die aangrypende liefdesgemeenskap in Handelinge 2:37-47, maar let veral op die sentrale vers 43!

Dit is om van verwonderd te bly!

Daar is die allernouste verband tussen eerbied en ontsag vir God en die liefde. ‘n Vroom mens is iemand wat eerbied het, maar dit gebeur sonder enige angs. Vroomheid kom juis tot volle ontplooing wanneer ‘n mens in eerbied lief het. Mens kan nie vir God soos ‘n slaaf vrees nie. Wanneer ‘n mens vir God bang is, het iets skeefgeloop. ‘n Mens “vrees” God omdat ‘n mens vir God lief het. Gregorius die Grote, die bekende spiritualiteitskrywer, het opgemerk: “Hoe meer ons vir onsself sê dat ons moet vrees, des te meer skenk God aan ons genade in ons binneste om God lief te hê.” Die liefde vra juis van ons dat ons vir God moet eerbiedig. Later, in die Joodse tradisie is gesê dat die ontsag vir God liefde laat gloei. Hoe meer ‘n mens in ontsag voor God staan, hoe meer vlam die vlam van liefde in ‘n mens se hart op. Die volmaakte liefde dryf die vrees uit.

Eerbied weerspieël ‘n houding van sensitiwiteit, van omgee vir die ander se gevoelens. Gelowiges eer God deur nie vir God se liefde te wil kwets of seermaak nie. ‘n Mens eer God deur God só lief te hê dat die verhouding met God nie skade lei deur ‘n lewe van kwaad nie.

Dus: ‘n vroom mens keer hom of haar af van die kwaad, het berou, lewe gehoorsaam aan God, leef in liefde en in wysheid.

Saturday, April 24, 2010

Wat is spiritualiteit? Oor vier kernwoorde in Bybelse Spiritualiteit.



Hierdie skildery van Caravaggio (1605) met die titel: "Die dood van Maria" het groot opspraak verwek omdat dit so anders was as die tradisionele skilderye van Maria se dood. Gewoonlik het skilderye Maria baie "vroom" uitgebeeld as 'n besonder heilige wat met vet engele na haar dood hemel toe gekarwei word.

Caravaggio se skildery toon niks van hierdie uiterlike vroomheid nie. Sy werk is baie meer realisties en sober. Maria is dood. En tog - hier is geen huilende, histeriese mens nie. Die skildery teken eerder ingehoude rou en smart, met die gesigte van die omstanders wat eintlik weggesteek word, maar wat veral innerlike smart wys.

En tog - Maria word met 'n baie dun en fyn stralekrans uitgebeeld. Hier werk Caravaggio met 'n ander idee van "heiligheid" as sy voorgangers.

Dit is boeiend dat die monnikke van die klooster waarvoor die skildery bestem was, geweier het om dit in hul kerk op te hang! Dit word dikwels as een van Caraveggio se belangrikste skilderye beskou.



Spiritualiteit, volgens ‘n gewilde siening deesdae, is die verhouding tussen God en mens wat steeds weer verdiep.


In hierdie beskrywing gaan dit om veral drie dinge: ‘n God-mens verhouding, ‘n transformasie en ‘n proses. Dit is besondere woorde wat elkeen diepe betekenis dra.

Nietemin is hierdie ‘n baie algemene beskrywing wat eintlik van alle vorme van spiritualiteit geld. Christelike spiritualiteit sal ook hierdie eienskappe hê, maar ‘n mens sal nog meer spesifieke dimensies kan insluit by ‘n beskrywing van wat Christelike spiritualiteit is – soos byvoorbeeld dat dit die verhouding van die drie-enige God tot die mens is wat in ‘n noue verband met die Bybel as Heilige Geskrif staan.

Maar Bybelse Spiritualiteit sal nog meer dimensies toon as Christelike spiritualiteit of as spiritualiteit in die algemeen.

Ons kan Bybelse spiritualiteit, skryf Waaijman, veral verbind met vier grondwoorde wat in die Bybel voorkom. Hierdie vier staan in die hart van spiritualiteit.

As ‘n mens praat oor God se ontmoeting met die mens in al sy volheid soos wat ‘n mens dit in die Bybel leer ken, sluit dit die volgende vier kerngedagtes in:

1. Vroomheid (of godsvrug)
Hierdie sentrale woord kom dikwels in baie van die spiritualiteite in die geskiedenis voor vir God se eerste ontsagwekkende aanraking van die mens tot en met die eerbiedige voltooiing van die verhouding tussen God en mens in liefde.

2. Heiligheid
Wanneer God met die mens in ‘n verhouding tree, neem die mens vanaf die heel eerste oomblik al afskeid van sy of haar besoedelde lewe en die verhouding ontwikkel tot en met die mens uiteindelik heeltemal deurdring word deur God se suiwerheid.

3. Barmhartigheid
Wanneer God met die mens in ‘n verhouding tree, word die mens vanaf die eerste oomblik bewus van God se genade en hierdie bewuswording groei tot en met die mens totaal deurdrenk word van God se genadige oorvloed.

4. Volmaaktheid
Wanneer God met die mens in ‘n verhouding tree, ontvang die mens van God die goedheid waarvoor die mens van die begin af bestem was en die verhouding met God ontwikkel tot en met die mens volkome uitgroei in onselfsugtige liefde.

Elkeen van hierdie woorde belig die ryke verhouding wat daar tussen God en mens bestaan.

As ‘n mens dus wil weet hoe praat die Bybel oor spiritualiteit, moet ‘n mens aan hierdie vier kernwoorde vashou. Spiritualiteit gaan oor vroomheid, oor heiligheid, oor ontferming en oor volmaaktheid.

Dit is vier merkwaardige tema’s. Hulle is nie mooi, teologiese tema’s wat allerhande spitsvondige onderwerpe aanraak nie. As ‘n mens van hierdie vier sake hoor, dink jy onmiddellik aan iets prakties wat in die lewe geanker is en wat ervaar word – iets wat jy kan sien en hoor en voel en beleef.

Elkeen van hierdie woorde gee vir ‘n mens praktiese ‘n perspektief op spiritualiteit as beleefde geloof.

Dit is die moeite werd om hierdie tema’s van nader te bekyk – soos ek in die volgende paar dae wil doen. Hierdie vier tema’s help ‘n mens om baie konkreet oor spiritualiteit te dink. En om verby die oppervlakkige idee te beweeg dat spiritualiteit met stilte te doen het of ‘n algemene gevoel van vrede en geluk beteken. Spiritualiteit gaan oor baie meer - dus oor ‘n vroom mens, ‘n heilige mens, ‘n barmhartige mens en ‘n volmaakte mens.

Groot woorde vir ‘n lewensbelangrike saak.

Friday, April 23, 2010

Drome droom...



Hierdie skildery oor Josef wat sy droom aan sy broers vertel, is geskilder deur Rafael.

Vanoggend praat die Minister van Landbou en ‘n vooraanstaande Afrikaanse boer as landbouer en as verteenwoordiger van Afri-forum oor die Afrikaanse radio as die twee altejee-gaste oor plaaswerkers. Dit is twee indrukwekkende mense en as dit van hulle afhang het ek onuitputlike hoop vir ons land.

Daar is twee organisasies in ons land wat vir my besonder beïndruk. Die een is Afriforum met hul uitmuntende leiers. Elke keer as ek na een van hulle luister, hoor ek die beste aan mense-materiaal wat ‘n mens sou kon bedink. Dit is mense wat graag die beste vir ons land wil hê. (Die ander forum is Solidariteit met hulle besondere leiers). Ek is dikwels dankbaar vir hulle onblusbare ywer om vir boere in ons land ‘n beter bedeling te jaag.

Ek luister na die program met kommer. Dit is eintlik hartseer om te hoor watter misverstande verhoudinge in ons land beduiwel en hoe onnodiglik mense harde vooroordele teenoor mekaar koester. As ons maar net meer dikwels met mekaar kan kommunikeer en bymekaar kan wees in vertroue.

Daar is baie gedagtes wat by my bly nadat die onderhoud afgehandel is. Maar meer as alles bly by my ‘n opmerking draal wat die Minister maak. Sy vertel dat sy dikwels met plaaswerkers se gesinne kontak maak. Dan, vertel sy, vra sy vir hulle wat die droom is waarna hulle streef. En, vertel sy, dan ontdek sy met skok dat hulle vraend na haar kyk. Hulle dink nie eers aan drome nie.

Al die heel dag bly hierdie opmerking by my.

Van kleins af vra ons: “Wat wil jy eendag word?” En dan sê boetie hy wil ‘n brandweer-man word of ‘n ruimte-reisiger of ‘n swembad-opsigter” – tot ons groot pret. Jaar na jaar verander boetie se drome. Maar altyd is daar ‘n toekoms om na uit te sien en drome wat verwesenlik moet word. En ons ken almal “the Great American dream” – daardie metafoor wat wys op die wêreld wat deesdae vir almal oop is vir die hoogste drome om vervul te word.

Julle jongelinge, skryf die Ou Vertaling, sal gesigte sien. Selfs julle ou mense sal drome droom. (Hand.2:17).

Ek dink vanaand aan so baie van die mense wat ek ken as spesiale mense wat stil-weg gehelp het dat hul familie, hul werkers of dié wat dit nie kon bekostig nie, universiteit toe kon gaan en daardeur hul drome kon vervul. Ek onthou uit my eie lewe: oom Salie Louw, leier-ouderling, waardige ou gelowige, self nie hoog geleerd nie, maar deurtrek met lewenswysheid, wat my destyds toe ek universiteit is, spesiaal kom opsoek het, ‘n noot of wat in die hand kom stop het en kom moed inpraat het vir die studie wat wag. En daar was baie ander soos hy wat in die volgende jare iewers stilweg vir my op dieselfde manier sou ondersteun. En altyd was daar ook soveel ander wat wou weet hoe gaan dit met my studies en wat ek wil doen as ek klaar is. Dit was mede-reisigers wat verwonderd was oor jongmense wat drome gedroom het en wat gehelp het om hulle drome te verwesenlik. Ek was nie net ‘n dromer nie, ek was deel van ‘n gemeenskap wat gedroom het.

Hoe bevoorreg is ons nie.

Ek wens dikwels dat ek vir hulle almal weer dankie kon sê – nie soseer vir die materiële ondersteuning nie. Maar dat hulle my laat voel het ek loop die pad van my drome nie alleen nie. Hulle is lank nie meer daar nie, maar in my dra ek ryke herinneringe aan mense wat vir my omgegee het terwyl ek my drome gejaag het. In my jonkheid het ek nie besef hoe edel hulle is en hoe spesiaal hulle was in die blote feit dat hulle my laat droom het en my in my drome kom steun het nie. Vandag besef ek watter diepe waardes en watter ryke spiritualiteit lê weggesteek agter die eenvoudige gebaar van ondersteuning aan ‘n jong seun of dogter wat die lewenspad aandurf.

Hulle het geweet hoe ryk ons wêreld is as mense hul drome kan bereik.

Ek loop al die heel dag en wonder oor die donkerte rondom ‘n kind wat nie kan droom nie. En ek dink daaraan hoe ons deesdae ons kinders by voorbaat met ons negatiwiteite van hul drome beroof en laat wanhoop aan hul toekoms.

Maar, besef ek ook deur die dag, hoe geseënd ons is in hierdie land van ons wanneer ‘n minister van landbou na die armstes van armes gaan en vir hulle, wat geen toekomsverwagting het nie, vra watter drome hulle vir hulleself het. Dit sê mos iets van haar. En dalk net het sy al in die kinders iets wakker gemaak. Dalk dink hulle vir die eerste keer daaraan dat hulle ook die reg het om te droom én om daardie droom waar te maak.

Wat is daar meer edel as wanneer iemand ons kinders weer laat droom....

Thursday, April 22, 2010

Wanneer die sonneblomme vrae vra. Oor God se liefde.



(Van Gogh)

Tuis, nou net, na die konferensie in Pietermaritzburg.

Ons het, soos gewoonlik, ‘n groot klomp referate gehad oor al wat ‘n onderwerp is. Maar die hoof-referate het oor die opstanding gehandel. Daar is baie gepraat. Soms heftig. Soms rustig. Soms senuweeagtig. Soms met ‘n harde stem. Soms met ‘n stekie. Soms met ‘n hooghartigheid. En ander kere mooi, goed en reg. En dan was daar die kere wat ons slim was. Slim.

So gaan dit mos waar mense met God se dinge besig is.

En ons het gesellig gekuier. Sommige van ons is mos nou al dekades vriende en lank in die land. Ons getalle word min. Ontstellend min. Soms dink ek ons gaan weer beland in die situasie wat geheers het voordat die Renaissance begin het. Wintervingers raak my hart aan as ek dink oor die uitdagings van ons tyd, oor die min mense wat die Bybel in diepte lees en worstel om dit vir ons tyd te verstaan.

Maar dan, des te meer, waardeer ‘n mens mekaar, die min van ons wat oorgebly het.

Wat sal ons tog sê? Wat bly my by van al die besige voordragte? Watter woorde bly by my agter en watter gedagtes draal in my soos ek terugry lughawe toe, soos ek sit en wag vir my vliegtuig en soos ek nou op pad is huis toe?

Teologie is ‘n groot bedryf. ‘n Allemintige, groot fabriek van woorde. Ons vra die vrae, die moeilike vrae, die vrae oor die sin van al die baie woorde maak: kan ‘n mens tog so veel oor God sê en tog so veel oor God sê... En hoe moeilik kan ons tog worstel oor die moeilike dinge. En hoe moeilk kan ons tog raak as dinge nie moeilik genoeg gemaak word nie.

Maar: Teologie kan soms vir ‘n mens help om in ‘n helder oomblik die dieper, verborge dinge te begryp. En dit kan soveel helder lig bring in tye van donkerheid en domheid.

Ek is bly ek is ‘n teoloog. En ek is dankbaar oor die pad wat ek kon stap.

Ek verkyk my aan Pietermaritzburg. ‘n Mooi stad.

Ek let op hoe anders die Universiteit lyk as toe ons die vorige twee keer daar was.

Ek bly by Paul en sy kollega’s in hul huis. Hulle huis lê op die hoogste kop in Hilton en ‘n mens het panoramiese visie van Pietermaritzburg. Ons het ‘n pragtige land.

Woensdagaand 6 uur gaan die ligte uit. Die kragonderbreking sou nog tot 8 nm die volgende dag duur. 24 uur! Darem net in hulle buurt waar die krag al die afgelope paar jaar kort-kort uitgaan, vertel hulle my. Maar tot hierdie keer was dit nooit meer as ‘n uur nie. Hierdie keer ‘n dag lank.

Ons kom na die aand se funksie by die kongres dus in die stik donker tuis. Die kollega’s van Paul sit gesellig in die sitkamer by kerslig en gesels voor almal gaan slaap. Ons sit in die sitkamer – lam gepraat na ‘n lang dag en ‘n lang gekuier by die kongres. Niemand kla hier in hierdie huis en sitkamer oor die donkerte nie. Niemand raas oor “die land” en sy kragonderbrekings nie.

Die kerse brand hier en almal het hulle in hierdie aand sonder krag met ‘n rustigheid ingeleef.

Hulle haal ‘n drink-ietsie uit en Paul deel sy Belgiese sjokolade-paaseiers uit.

Hier is ‘n ander pratery aan die gang. Die lamheid sypel in my weg om plek te maak vir die ánder woorde. Só bring ons dan ‘n uurtjie deur hier in die stil, rustige sitkamer met ‘n drink-ietsie in die hand en terwyl ons gesels oor alles en nog wat. Normaalweg sou ek nou wou gaan inkruip en net slaap. Maar hier is iets stillers – in hierdie geselskap van mense wat oor baie jare heen alles wat hulle het prysgegee het om voltyds vir hul kerk te gaan werk.

Merkwaardig tog hoe ‘n mens soms ‘n onpeilbare lewensstyl en lewensdiepte kan uitstraal. Dan is jou woorde rustig, jou gedagtes vriendelik en gentle. Veral na die dag met al sy eise en verpligtinge. Want die kollegas het van ver gekom en het ‘n kwaai werksdag agter die rug. Sommige van hulle bly oor totdat hulle môre weer in die pad val.

Maar nou is dit ‘n tyd van saam-wees en deel.

Ek wonder, later, onwillekeurig of dit nie is soos Jesus met sy dissipels bymekaar was toe hulle die dinge gepraat het wat later in Johannes-Evangelie sou neerslag vind. ‘n Getoëndheid. Soms is jy mos by mense wat praat – maar wie se woorde veel minder saak maak as die feit dat jy saam met hulle kan wees.

Paul praat oor Hieronymus wat tog so ‘n kwaai ou derduiwel kon wees en vertel wonderlike staaltjies. Ons praat oor Claerhout. Daar hang die allermooiste kleinerige skildery van Claerhout in die gang van hulle huis wat Claerhout self aan hulle gegee het.

Toe vertel een van hulle van die skildery van Claerhout wat vir hom bo al die ander uitstaan en waaroor hy dikwels preek: Dit is ‘n uitbeelding van Christus wat bid in die tuin van Getsemane terwyl die sonneblomme en voëltjies om hom geteken is. Claerhout, vertel hy, het self die skildery vir hom uitgelê: Die sonneblomme buig oor en sê vir die biddende, bloedswetende Christus: “Maar jy het dan altyd met ons oor die liefde van die Vader gepraat?”

Ek verwonder my oor hierdie boeiende andekdote. Van hierdie dae bly dít my by...

Vier dae het ons by die kongres oor die Bybel gepraat. Baie gepraat oor die Bybel. Maar as ek moet onthou, sal ek eers dink aan die sitkamer met sy kerslig, sy rustige saam-wees, sy sagte woorde oor die Een wat altyd by ons in liefde is – al wonder die sonneblomme half-vraend en al sweet ons bloed...

Die sonneblomme, hulle wat van buite ons doen en late gadeslaan, herinner ons, vraend, aan die liefde.


Wednesday, April 21, 2010

Die mede-reisiger in die soeke na God se wil

Onderskeiding noem hulle dit in spiritualiteit – of, op sy Engels, “discernment.”

Dit is die vraag en soeke na God se wil vir jou lewe.

Dit is al ‘n groot stap wat ‘n mens neem wanneer mens hierdie vraag stel. Mense praat nie eintlik meer só nie – “as God wil nie,” of, “so die Here wil” nie.

Dit is outyds, dink ons. Deesdae is ons mondige mense. Ons kyk ‘n situasie goed deur, maak ‘n lysie van voor- en nadele en maak dan nugter en versigtig met ons hele verstand die besluit wat die beste vir onsself is.

Daar is eintlik niks outyds daaraan om maar bietjie terughoudend te wees oor ons vermoë om alles uit te pluis.

Ons het eerder iets kosbaars verloor in ons haastigheid om óns besluite te neem: Om eerder soekend, en veral biddend te vra na hoe kyk God na my lewe en waarheen wil God my neem, is om ‘n buitengewone waagstuk aan te gaan. Ons gee te kenne dat ons nie weet nie. Of ons gee te kenne dat ons nie alleen besluite kan neem nie. Ons is afhanklik van die Ander om te weet watter rigting om in te slaan. Méér nog: ons gee ons eie belang prys. Ons stel ons oop om geneem te word waar ons nodig is, eerder om te besluit om daarheen te gaan soos ons nodig dink.

Jesus het biddende gevra na God se wil vir sy lewe – tot bloedsweet toe.

Natuurlik sluit dit nie die verstand uit nie. God vra nie van ons om dom dinge te doen nie. Maar hoogs verstandige besluite kan soms ook dom besluite wees. En besluite wat ons laat prysgee en opoffer, kan ons lewens ryk maak.

Hoe bepaal ‘n mens God se wil vir jou lewe?

Daar is nie ‘n reseppie nie.

Maar soms gebeur dit dat God dinge in jou lewe van jou wegneem. Kosbare dinge. Dinge wat jy altyd gedink het aan jou lewe sin en betekenis gee. In die proses neem God ook jou sekerhede van jou weg. Ewe skielik word dit onder jou uitgeruk – alles waarop jy vir soveel tye gesteun het.

Of: Dikwels laat God jou ‘n dapper besluit neem en jy skrik eintlik terug oor wat jy gedoen het.

Die tye kan dan donker wees. En angswekkend.

Maar dan gaan ander deure oop. Of, as jy die dapper besluit geneem het, en so bietjie terugskrik daarvan, stuur God iemand om daardie waagstuk te bevestig.Dan waag jy opnuut weer 'n bietjie meer, omdat jy agterkom dat die onbekende pad wat jy loop ryk is aan ervaring en inhoud.

Om dan God se wil te leef, lei 'n mens tot die besef: God is getrou. Verby al ‘n mens se vrese om. God bevestig vir hulle wat God liefhet op baie maniere wanneer hulle die regte pad loop.

Aldus sit ek onlangs in ‘n gesprek met iemand. Hy vra my uit oor baie dinge. Hy is ‘n wyse mens, wat self moeilike paaie geloop het. Hy dra swaar laste op hom. Ek staan, deur ons gesprek, verbaas oor sy geestelike volwassenheid.

Hy begin dieper vra - spontaan, asof dit maar net sommer moet gebeur. En hy luister nuuskierig na my lewenservaringe. Hy doen dit baie fyn, besef ek stadigaan. Ek sit, stilweg, verbaas oor hierdie onverwagte wending in ons gesprek. Dit kom ongevraag oor my pad. Oor dinge wat ek, dink ek, al bietjie weggebêre en van vergeet het. Maar wat hulle desondanks dikwels op onverwagte oomblikke weer aan my opdring.

Wat is hier aan die gebeur, dink ek? Hoe sien ek hier, in hierdie oomblikke, iets raak van wat God wil doen in my lewe? En ek besef, dink ek, dat dit dalk ‘n manier is om closure, afronding te kry. Om die onrustigheid van die tyd te ontgroei. Vele gedagtes maal in my as ek met hom praat.

Ons gesprek loop aan. My gespreksgenoot, uit sy eie moeilike geestelike reis, verstaan die pragmatiek van my woorde. Hy herken agter my woorde, versweë, het ek gedink, die verborge, onuitgespoke woorde.

Hy hoor die “waarom”-vraag klink in wat ek bietjie argeloos vir hom aan die vertel is.

Teen die vierde vraag kom ek agter waarheen lei sy vrae. Hy, mistagogies, reis my geloofsweg saam met my oor. Hy verstaan. En hy wil met my oor sy verstaan praat.

“En,” sê-vra hy oplaas as ek vir hom klaar lig-weg die draaie in my lewensreis moet vertel as antwoord op sy vrae, “as dit nie met jou gebeur het nie, dan was jy nie vandag hier nie?” Dit is ‘n vraag. Byna huiwerend gestel.

Hy onderskei God se wil vir my lewe. Hy is op hierdie oomblik in hierdie gesprek my mistagoog. Spontaan hoor hy en gee hy. En hy laat my met nuwe oë kyk na die “hier” van my lewe. Die plek waar ek nou is.Die plek wat God vir my wil gee.

Ek verstaan wat hy vir my wil sê. Ek waardeer dit. God bring ‘n mens met ‘n rowwe ompad op 'n plek waar jy nooit gedink het jy sal wees nie. En hulle wat weet, hulle wat kan onderskei, besef onmiddelik dat só ‘n reis moet die Ander nie alleen loop nie. Hulle wéét: die mistagoog is nie net die een wat God se wil help onderskei nie. Die egte mistagoog is eerder die een wat saam tas en soek – die een wat help uitwys. Sommige noem 'n mistagoog 'n geestelike begeleier - 'n eeu-oue benaming in die spiritualiteit. Maar deesdae weet ons: Hy is eerder die mede-reisiger. Liewers nie "begelei" nie - dis veel meer as dit. Hy is veel meer die een wat met sy pyn jou pyn herken – en wat dan salwend sien hoe die pyn heling moet vind.

Telkens is daar dus ‘n “predikant,” ‘n rigtingaanwyser langs die lewenspad wat eintlik God se vinger is om vir jou die rigting aan te wys. “Hierlangs,” sê die vinger. En teen wil en dank loop ‘n mens in die rigting.

En, wat sal ‘n mens dan tog nou meer hieroor kan sê? Hierdie pad, soms jou kruisweg, is immers God se pad – deur pyn en stroping heen. En jy weet jy sal hom geduldig loop. Want jy onderskei duidelik hierdie reis as die “regte” een wat jy op die regte “plek”, die “hier” uitgebring het. En jy het dikwels iemand baie naby aan jou, deur God gestuur, wat by jou is om jou dit te laat besef. Hy of sy, hierdie mede-reisiger, is soos die sakrament – die beliggaming van God se teenwoordigheid in jou lewe.

Dit is meer as vriendskap. Dit is meer as berading. Dit is meer as begeleiding. Hierdie mense naby aan jou tydens jou reis, tastend in die donker, verwond deur jou verliese.

Hulle is die mede-reisigers. Die mistagoë.

Tuesday, April 20, 2010

In God se onverganklike hand van liefde



Dit is die tweede dag van ons konferensie hier in Pietermaritzburg. Dit is tyd vir luister na referate oor die nuwe dinge in ons wetenskap.

Maar dit is ook die tyd om ou vriende te ontmoet. Ons gesels oor ditjies en datjies, vang die nuutste op, kla en raas en praat sommer net met mekaar. Dit is immers lang paaie wat ons oor jare met mekaar gestap het.

Maar soms begin ons herinneringe oproep aan hulle wat die pad met ons saam gestap het. Die name van hulle wat nie meer daar is nie, word iewers genoem. Die tyd het ons van baie vriende ontneem.

Vir sommige wat weg is het ons groot respek gehad, want hulle, die vernames, het na ons geluister, met ons gepraat het en vir ons gelei. Vir ander was ons lief sommer net as mense. Vir ander het ons gate uitgeniet as gekskeerders. Daar was die getroues, hulle wat nie veel gepraat het nie, hulle wat altyd kom dankie sê het of wat kom raad vra het of wat kom kuier het. Dit was ‘n veelkleurige Josefskleed van mense met hul lewe aan Bybel-uitpluis gewy het.

Ek staan in ‘n ry vir ete en praat met ‘n jong outjie, foeitog die outjie, wat sy voet in die deur van die Bybelwetenskap insit. Ek praat met hom sommer oor sommige van hierdie bekende name van ‘n dekade of twee gelede.

Die outjie kyk na my met ‘n dooie kyk in sy oë. Ek kry hond se gedagte. En ek vra hom of hy van hulle ken. Hy weet nie van een van die name nie. Hy is afwesig. Die boek is vir hom toe. Dit sê vir hom niks nie.

Hulle van wie hy niks weet nie, was die grotes onder ons. Ons het graag na hulle geluister, lekker gesels oor hulle wetenskaplike werk, hulle bewonder vir sekere opspraakwekkende referate, hulle ondersteun as hulle terugslae beleef het en sommer net oor jare goeie vriende met hulle geword. Ons het hulle boeke gelees, hulle leiding in die samelewing bewonder en opgesien na hulle.

Nou is hulle weg. Ook uit die geheue van net die volgende geslag.

Ons het nie eintlik meer mense om na op te sien nie, om oor te praat nie of om mee te gesels nie. Ons het nie eers meer iemand buite ons kleiner wordende kring om, om mee oor hulle te gesels nie.

Ons , die jonges van ‘n tydjie terug, van sommer gister, is nou die ouer geslag.

Verganklikheid.

Al daardie goue tye, die besige tye, die planne-maak tyd, die vername gesprekke, die lekker-kuier tye, die stormagtige oomblikke, die warm argumente, die harde woorde, die laatnag-gestry, die infomatiewe gesprekke, die nuwe ontdekkings – alles wat ons kollega’s in die volle sin van die woord gemaak het en wat ‘n deurwinterde vriendskap solied laat word het: dit is verby.

En eintlik al vergete.

Behalwe ins ons gedagtes.

Ons baai in ons herinneringe.

Maar selfs dit, selfs hierdie herinneringe is aan die verbygaan.

Dit is herfstyd.

Maar God onthou alles liefdevol. En skryf dit bly neer in die boek van die lewe. Ons tye, ons tye is in die goddelike hand.

En dit is genoeg. Dit vrede van die wete dat ons nooit vergeet sal word waar dit regtig saak maak nie – eintlik by Wie dit saak maak nie.Uiteindelik sal ons bly in die Liefde.

Hoe arm moet ‘n mens wees as jy nie hierdie Liefde het nie.



Die skildery hierbo is vir my die toonbeeld van genadige liefde. Caravaggio teken Christus wat geduldig, liefdevol vir Thomas toelaat om die wond te sien en te voel. Hy neem eintlik Thomas se hand met sy hand en plaas dit op die wond - liefdevol. Kom, glo tog.

Maar ek is veral verras deur hierdie boeiende kommentaar op die skildery van 'n baie bekende Nuwe-Testamentikus:

Ben Myers

Ah, one of my favourite paintings — it’s so astonishing, so shocking, almost unbearable. Jesus’ own participation in the action — gently pulling back his clothes, baring the wound, guiding Thomas’s hand, looking down attentively at the inserted finger — Jesus’s involvement is so intimate and so vulnerable and so exposed that I can hardly bear to look. But then (with the other onlookers, the two disciples in the background) it’s also impossible to look away.

Monday, April 19, 2010

Varklelie




Ons bly by Hermie oor voordat ons na Menuah vir die kontak-sessie gaan. Dit is ‘n woelige aand, want ons het al die pad van Johannesburg met die motor gery nadat ek nog die oggend ‘n lesing by St Augustine’s gegee het.

Ek merk nog skripsies voor ek gaan slaap. Dit moet ook klaar kom.

Uiteindelik in die bed en vroeg-oggend word ek wakker in die stilte van ‘n paradys byna. Op Stellenbosch in die midde-dorp woel die motors al van dagbreek af. Ons ken nie eintlik meer stilte daar nie.

Dus geniet ek ‘n oomblik voor die opstaan die vrede. En toe ek die gordyn ooptrek nadat ek opgestaan het, kyk ek op die pragtige tuin uit en vas in ‘n varklelie.

Voor my venster is daar die een heldergroen plant na die ander - maar tussen al die ryk groene is daar op hierdie oggend net hierdie een varklelie om vir my te groet.

Ek verloor myself in die lelie. (Salomo het nie verniet sy geliefde as 'n lelie besing nie). Ek verloor my in die wit, die rand van die lelie wat sy verganklikheid deur 'n stukkie verleptheid wys en ek verloor myself in herinneringe:

My ma, die een wat vir blomme geleef het, het altyd die skoonheid van varklelies besing. Menige dag het sy gemeentelede opgekommandeer om vir haar varklelies te bring sodat sy hulle kan rangskik.

Ek onthou ook: Vertel iemand my: ‘n Suid-Afrikaner bestel vir sy dogter se troue uit Nederland R30 000 se blomme. Hy gee opdrag dat dit eksotiese blomme moet wees. Toe die vrag opdaag is dit varklelies uit Suid-Afrika!

Dit bly nog vir my ‘n mooi storie.

Varklelies verloën totaal hulle naam. In die eenvoud, die wit, skoon, sien ‘n mens oneindigheid.

Ek neem ‘n foto van die varklelie in Hermie se tuin. Herinneringe aan my kinderdae, aan geliefdes, maar ook herinneringe aan die Een wat skoonheid geskep het reis saam met my en hierdie foto.

Sunday, April 18, 2010

Net om die draai...



Rembrandt het hierdie pragtige skildery geskilder. Hy noem dit: Die Ryk Man. Dit is 'n skildery, simpatiek, van iemand wat duidelik welaf is en 'n goeie bestaan voer.....





In gister se koerant is daar ‘n artikel van iemand wie se seun hom gebel het om hom te kom haal omdat sy klasse weens stakings nie kan plaasvind nie. Hy vertel dat sy seun ‘n video van die studente se stropingstogte gemaak het. Wat hom opval, skryf hy, is nie soseer die skade wat hulle veroorsaak nie, maar die feit dat die studente in die kafeteria op groot skaal kos gegryp en geëet het.

Daarna, skryf hy die persoon, het hy in ‘n rustige buurt ‘n skool-byeenkoms bygewoon waar alles ordelik en goed georganiseerd verloop. Geen stakings. Geen hongersnood. Twee totaal verskillende wêreld wat kilometers van mekaar in een land ongesteurd naas mekaar bestaan.

‘n Groter teenstelling kan ‘n mens jou skaars bedink, skryf hy.

In die week is ook gerapporteer dat die moordenaar van Eugene Terreblanche vertel hy wil in bewaring bly want hy slaap nou vir die eerste keer op ‘n bed, kry gereeld kos en kyk selfs televisie.

Tydens ons kontak-sessie vertel Waaijman met ‘n rustige stem hoe bewus hy daarvan is dat 10% van die wêreld-bevolking die kos van die wêreld verorber terwyl miljoene mense honger ly of bloot net oorleef. Ek weet wat hy bedoel. Ek het in Nederland en Duitsland gesien wat gooi mense weg. Ek het in Amerika verslae gestaan as ek die borde vol kos sien wat mens in restaurante net halfpad eet.

Of hierdie syfers presies 100% reg is of nie, hulle vertel breedweg ‘n groter verhaal.

Dit is ‘n verhaal wat oor eeue heen strek.

Dit is die verhaal van Moeder Teresa wat in Indië mense uit slote gaan optel, vir hulle kos gee en vir hulle ‘n waardige dood moontlik maak.

Dit is die verhaal van die Wolseley dokter wat ek so paar jaar gelede in die koerant gelees het en nog steeds onthou, wat in sy vrye tyd kilometers aflê om vir hongerlydendes kos uit te deel.

Dit is die verhaal van Shiloh in Wallacedene waar sopkombuise mense aan die lewe moet hou en waar opheffingswerk op groot skaal gedoen word.

Dit is die verhaal van ‘n ryk mens met ‘n goed toegeruste klerekas wat gelukkig en welaf was. Wat in ‘n wêreld van sy eie geleef het, teenoor die wêreld net om die draai waar die siek man honger gely het en sy swere deur honde gelek is. Hy kon nie loop nie, nie eet nie, nie ‘n dokter bekostig nie en sy lewe was vol slegte dinge (Lukas 16).

Dit is ‘n troos om te weet dat daar ook vandag honderde Christene is wat uitdeel, versorg, omgee, lief het en uitreik. Dit is waaroor die Evangelie gaan – om oog te hê vir die nood.Dit is goed om te weet hoe baie gemeentes uitreik na hulle wat nie het nie en dat die kerk enorm veel aan verligting van nood bestee. Ek is dankbaar vir ‘n wêreldkerk wat altyd weer ‘n oog het vir hulle wat ly.

En tog skok dit ‘n mens: dat mense wat studeer, honger ly. Dat mense nie ‘n bed het om op te slaap nie. En hulle woon net om die draai van ons.

Dit is asof die nood van die wêreld te groot is. En dit voel vir my God herinner ons dat God se liefde aan die einde geskenk sal word aan hulle wat uitreik na mense in tronke, na mense wat honger ly, wat dors het, wat vreemdelinge gehuisves het, wat klere uitgedeel het, wat siekes verpleeg het (Matteus 25:35).

En ons baklei so onder mekaar oor die opstanding, oor die historiese Jesus, oor Angus Buchan, oor die doop, oor kerkeenheid...

Kyk na hierdie statistieke:

80 % van die mensdom leef van minder as R75 per dag.(Dit is R2250 per maand).

20 % van die mensdom leef van 75% van die wêreld se inkomste.

24 000 kinders sterf elke dag van honger.

28% van alle kinders van ontwikkelende lande is ondergewig – waarvan die meerderheid in Suid-Asië en Suidelike Afrika (!) is.

72 miljoen kinders in ontwikkelende lande is nie op skool nie.

1 biljoen mense kan nie lees of skryf nie.

As ryk lande net een persent van hul wapenbegroting in skoolopleiding belê, sou alle kinders kon skoolgaan.

In 2000 het 20 miljoen mense VIGS gehad. 3 Miljoen sterf in 2004 daaraan. 350-500 miljoen mense doen malaria op en 1 miljoen sterf daaraan. 90 % hiervan in Afrika! 800 000 kinders sterf elke jaar aan malaria in Afrika

.

Blog Archive