Sunday, December 04, 2011

Die verlange neem 'n mens op reis...




Anselm Kiefer is een van my gunsteling kunstenaars. Ek kon my amper nie losskeur van hierdie reuse-doek van hom in die Metropolitan Museum van Moderne Kuns in Manhattan nie. Dit hang ‘n hele muur vol. ‘n Mens kry ‘n idee van die grootte daarvan as ‘n mens kyk na die heuphoogte paaltjie voor die skildery wat die tou ophou.

‘n Mens kan lank besig bly met die werk. Dit het 'n mistieke kwaliteit wat al hoe sterker op 'n mens inwerk. Selfs net om die tekstuur daarvan te sien word 'n ervaring. Kiefer het verskeie lae op die doek aangebring – wat reeds simbolies is van die vele betekenisse wat die skildery het. Laag na laag na laag word opmekaar geskilder om die eenvoudige verhaal van 'n pad in die veld uit te beeld.

Gebore in 1945, skilder hy hierdie doek in 1996, toe hy 51 jaar oud is.

Die titel van die skildery is: Bohemië by die See. 

Kiefer gee vir sy kykers rigting aan - hy wil hê hulle moet die skildery op 'n sekere manier lees. Die titel is ‘n intertekstuele verwysing na ‘n bekende Oostenrykse digter (Bachmann) se gedig oor Utopia, wat weer sinspeel op Shakespeare se Winter’s Tale waarin die verlange na die Utopia uitgedruk word. 

Maar dit is ‘n Utopia, vertel die skildery, wat nooit gevind kan word nie. Bohemië, tradisioneel geleë in Sentraal Europa, kan tog nooit by die see lê nie.

Ek verwonder my aan die meesterskap wat in die skildery na vore kom. Onwillekeurig dink ek aan Kiefer se onvergeetlike skildery van die verwoeste Reichstag in Berlyn wat in Dallas hang, waar ek dit twee keer gaan kyk het en waaroor ek al geblog het.

Kiefer behoort tot die na-oorlogse generasie van Duitse kunstenaars wat nadink oor geweld, oorlog en vrede. Hy het ‘n ambivalente verhouding met sy Duitse herkoms, maar skroom nie om te worstel met die negatiewe aspekte van die Duitse geskiedenis nie.

In daardie skildery in Dallas groei daar teen die agtergrond van totale verwoesting heel fragiel ‘n sonneblom uit die sentrum van die reuse-skildery wat ‘n hele muur bedek, op.

Kiefer dink diep. Hy gebruik byvoorbeeld Ernst Bloch om in van sy skilderye hoop uit te beeld. Een van sy skilderye noem hy geloof, hoop en liefde.

In hierdie skildery in New York se Mommsa loop die pad na Utopia in die middel van die skildery na die gesigseinder. Die kyker word heel duidelik gelei om die pad te volg: dit loop tussen ‘n veld van papawers. Hulle simboliseer herinnering en geheueverliies. Sag lê die ligte kleur van die papawers oor die doek versprei, kolle wat ‘n mens se oog anker en wat die vaal-doek ophelder. Die papawers het ‘n merkwaardige kleur – ‘n mengsel van ligroos en oranje. Hulle sagtheid staan uit bo die barheid van die landskap.

Die skildery vertel die verhaal van die verlange na dieper dinge, die verborgene, dit waarvan ‘n mens weet en wat ‘n mens nie besit nie. Maar in hierdie skildery is daar die treurige dimensie: die kunstenaar teken ‘n Utopia wat nie regtig vir hom bestaan nie.

En tog verlang hy intens daarna. Trouens, dit oorheers alles wat hy in die werk wil doen. Die reis na Utopia word die middelpunt van sy kreatiewe werk, verhelder deur die skoonheid  wat hierdie pad begelei. Utopia is, immers, soos die gedig van Bachmann sê, die plek van vrede. 'n Mens reis dus deur ons barre tye altyd na vrede, wetende dat dit nooit gevind kan word nie. Maar dit beteken nie dat 'n mens daarop opgee nie. Steeds weer, altyd weer, bly 'n mens reis om vrede's ontwil. Dit is 'n reis deur barre landskappe, maar dit is 'n reis waar 'n mens die ligte, betowerende oomblikke van skoonheid ook bly ervaar.

Hier is die gedig van Bachmann. Dat Kiefer juis die gedig kies is al 'n verhaal van sy eie:
Bohemia Lies by the Sea

If houses here are green, I’ll step inside a house.

If bridges here are sound, I’ll walk on solid ground.

If love’s labour’s lost in every age, I’ll gladly lose it here.

If it’s not me, it’s one who is as good as me.

If a word here borders on me, I’ll let it border.

If Bohemia still lies by the sea, I’ll believe in the sea again.

And believing in the sea, thus I can hope for land.

If it’s me, then it’s anyone, for he’s as worthy as me.

I want nothing more for myself. I want to go under.

Under – that means the sea, there I’ll find Bohemia again.

From my grave, I wake in peace.
From deep down I know now,
and I’m not lost.

Come here, all you Bohemians, seafarers, dock whores, and ships

unanchored. Don’t you want to be Bohemians, all you Illyrians,

Veronese and Venetians. Play the comedies that make us laugh

until we cry. And err a hundred times,

as I erred and never withstood the trials,

though I did withstand them time after time.

As Bohemia withstood them and one fine day

was released to the sea and now lies by water.

I still border on a word and on another land,

I border, like little else, on everything more and more,

a Bohemian, a wandering minstrel, who has nothing, who is held by nothing,

gifted only at seeing, by a doubtful sea, the land of my choice.
(translation from Darkness Spoken: Collected Poems of Ingeborg Bachmann, trans. by Peter Filkins.)

(sien:  (http://nvincent.wordpress.com/2010/03/21/bohmen-liegt-am-meer-bohemia-lies-by-the-sea/).

Saturday, December 03, 2011

Lank voor 'n mens vir die laaste keer jou kop neerlê, sterf jy reeds.

Lank voordat ‘n mens vir die laaste keer jou kop neerlê, sterf jy.

Dit gebeur op baie maniere dat iets in jou doodgaan. Maar die meeste van alles sterf ‘n mens wanneer jy iemand naby aan jou verloor en wanneer jy daarna daarmee saamleef.

Sekerlik gaan die lewe na so ‘n intieme verlies verder. Die meeste dae loop hulle normale gang. Die roetine keer terug en ‘n mens bly besig met al die gewone dinge wat deel is van jou daaglikse bestaan.

Maar behalwe vir die dralende, dikwels selfs gemaskeerde gevoel dat jou lewe nie meer heel is nie, dat iets vir altyd by jou sal ontbreek, dat daar ‘n dooie kol in jou bestaan is, kom die intense oomblikke dat jy sterf aan jou verlies.

Dit is die oomblikke wanneer jy gekonfronteer word met die gedagtes, die tasbare nalatenskap en die bekende plekke van die een wat jy verloor het.

Jy ontmoet iemand wat met jou praat oor jou verlies en vir jou allerhande goeie verhale, troosverhale, blye stories, vertel oor die een wat so naby aan jou was. Dit is vervullende oomblikke, dankbare tye, want jy herken die kosbaarheid van vervloë tye en van die stil bande wat jou aan die liefde geknoop het. Jy is bly om te kan hoor ander het ook die liefde gedeel.

Maar onderliggend aan die saam-praat is daar ook die pyn van die wete dat die gepraat juis die gemis sterker maak. Daar is die skerp steek van die besef van die onherroeplikheid van jou verlies, die seerkry onder die besef dat juis die herinneringe, juis die gesprekke, die nie-meer laat uitstaan. Daar is die wete dat iets in jou vir altyd dood is.

Jy staan by ‘n plek waar julle nog op ‘n keertjie saam was – toe die bymekaar-wees so spontaan gebeur het. Kort tye terug, onthou jy, het julle nog gelukkig, argeloos, sorgloos gekuier. Jy herinner jou aan die gesprekke van daardie tye, die skoonheid van saam-wees - voor die verlies toegeslaan en sterwe gekom het. Jy ervaar dankbaar van die nabyheid en die intimiteit van mense na aanmekaar, van die bande wat ‘n mens aanmekaar bind. 

En tog het ook dit dan sy sny-kant: Dit is asof jy wil wegkom, weg van die akute besef van die oor-wees, die verby-vir-altyd van daardie plek, van die een wat jy verloor het.

Jy kom af op ‘n foto. Dit is die tyd om terug te dink, te mymer, vanuit die hardheid van die verlies, oor die lang jare van saam-wees. Jy herken summier, so bietjie soekend, selfs smagtend die jaar, die seisoen, die dag, die geleentheid, die lawwigheid, die mooiheid van die oomblik toe die foto geneem is. Jy weet, vir ‘n oomblik verplaasd in die rykheid van terug-dink, dan ook weer, met pyn, van verganklikheid, tydelikheid en sterflikheid.

Sulke tye sterf ‘n mens opnuut weer saam met die een wat jy verloor het.

Lank voor jy die laaste keer jou kop neerlê, sterf jy al. Om te leef in die liefde, beteken om gereed te moet wees om te sterwe.

Friday, December 02, 2011

Die boks is propvol. Oor meelewing en gulhartigheid te midde van weelde

Twee blogs gelede het ek geskryf oor die enorme eet-kultuur in Amerika en hoe dit my aan oordaad herinner.

Ooretery en oorgewig is groot kwessies in die Amerikaanse samelewing.


Tog weet ek van min samelewings wat meer gulhartig as die Amerikaners is. Daar is 'n goedgesindheid teenoor mense wat swaarkry wat in vele opsigte 'n voorbeeld vir ander lande is. 

Die Amerikaners het byvoorbeeld gunstige belastingvoordele vir mense wat skenkings aan behoeftige instansies maak.


Dit het my weer opgeval tydens my besoek twee weke terug aan New York. Ek is weer na die WTC-gebou wat op 9/11 verwoes is en weer eens verwonder ek my soos altyd oor die epogmakende gebeurtenis en die verreikende impak wat daardie stukkie aarde op die geskiedenis van ons tyd gehad het. 

'n Mens kan kwalik 'n meer bekende ruimte op ons aardbol vind. 

Ek loop die lang, lang draai om die WTC. Dit is boeiend om te sien hoe die Amerikaners al die belangrikste omringende geboue om die WTC met mekaar verbind het sodat 'n mens in een lang gang binne die geboue kan stap. Dit is vindingryk gedoen. Boonop loop die gang deur uiters smaakvolle geboue. 'n Mens sal kwalik meer rykdom versinnebeeld kry as in hierdie groep weelderig geboue van die wêreld se voorste en bekendste maatskappye. Hier is die reusagtige voorportaal vol palmbome van die een firma:





Maar terwyl ek deur die lang gang van een gebou na die ander loop, kom ek op 'n uitstalling af waaraan van die land se belangrikste firma's en ontwerpers deelgeneem het. Hulle het leë blikke van ingemaakte kos versamel en in beeldhouwerke omskep. Dit is pragtige, kreatiewe en indrukwekkende stukke. Die inkomste uit die projek gaan om honger te bestry. Elke beeldhouwerk is aan so 'n projek gekoppel. By elke beeldhouwerk verduidelik 'n plakkaat dat die getal blikke wat gebruik is 'n sekere aantal mense sou voed.

Hier is 'n paar voorbeelde:

Hierdie stuk, gebaseer op "pin-bowling" heet paslik: "Strike out hunger."




Die opskrif van hierdie stuk is heel slim: "Give hunger the boot." Op die begeleidende bord staan daar: Die beeld se 4500 blikkies kan 1,800 mense voed.




Hierdie een is na die borg vernoem (Die Moudis Touch).




Hierdie een se naam is "Angry Birds"! Die kultuur van video-speletjies (Angry birds) word vernuftig in die kunskultuur ingebed.




'n Seeperdjie





Lobster Claw, heet hierdie een.




Hierdie een is: "Root against Hunger":





En hierdie een heet: "High-Tops for hunger." Dit is ook, soos al die ander stukke, net uit blikkies gemaak.



Tussen die stukke is daar skielik 'n bord met 'n oproep daarop aan verbygangers om blikke kos te skenk wat vir die bestryding van armoede gebruik kan word. 

Die boks is skouerhoogte. Dit is groot.

Die boodskap is eenvoudig: "One can make a difference." 

Ek loer in die boks, nuuskierig om te sien of al die baie besige, ryk, professionele mense wat vir die voorste firma's van die wêreld werk, hulle aan hierdie oproep steur.






Die boks in die gange van die Groot Stad se pronkgeboue is propvol:


Thursday, December 01, 2011

Wanneer goed en kwaad saamleef. Oor die kleivoete van die helde.


In die Nederlandse koerant, “Trouw”, is daar vandag en gister interessante berigte oor die Nederlandse Versetbeweging in die Tweede Wêreldoorlog. Vele Nederlanders, wat hulle hartgrondiglik skaam omdat vele van hulle landgenote in die oorlog die Nazi-inval en wegvoering van die Jode uit Nederland na konsentrasie-kampe ondersteun/geduld het, vind troos uit die feit dat daar ‘n sterk, ondergrondse versetbeweging teen hierdie misdrywe was.

Die berigte in vandag se Trouw is bietjie ontnugterend. Hulle fokus daarop dat ‘n mens nie te maklik moet romantiseer oor sulke verset-bewegings nie – asof mense wat hulle verset het teen die gruweldade en die moorde op die Jode almal helde was nie. In werklikheid blyk dit dat die egte, groot helde so skaars soos koei-slagters in Indië is.

Die berigte in Trouwe vertel van ‘n paar boeke wat onlangs gepubliseer is waarin bewyse gegee word dat vele van die sogenaamde heldhaftige versetstryders ook maar voete van klei gehad het. Hulle was korrup, het omkoopgeld aanvaar, het mede-stryders verraai en hulle was nie altyd so dapper nie.

Dit is duidelik, toon die berigte, dat ‘n mens nie te vinnig moet onderskei tussen die goeies en die slegtes nie. Die goeies kan ook maar dikwels ‘n lelike streep in hulle omdra. Die idee dat mense netjies in twee kampe – die goeie of die slegte – inpas, is kennelik naïef.

Miskien sien ek die berig raak omdat dit iets is wat my in die laaste tyd besonder interesseer. Ek het dikwels hieroor nagedink, want ‘n mens wat geneig is om ander te idealiseer kry dubbel seer as hulle teleurgestel word. En ‘n mens onderskat die houvas wat die kwaad kan uitoefen op hulle wat in die lig skyn te lewe.

Die Nederlanders wat op die koerantberig kommentaar lewer, beklemtoon dit ook: ‘n mens moenie vir mense te maklik en te veel tot “helde” verhef nie.

As ‘n mens oop oë deur die lewe gaan, sien jy hoe die beste en mooiste van mense hulle Koning Dawid-oomblikke, hulle Petrus-oomblik, hulle Thomas-twyfel het. Trouens, ‘n mens sou selfs kon dink aan die oomblik van versoeking in die Tuin van die Een wat naby aan God was.

Die al te menslike, al te feilbare tye kom nogal meer voor as wat ‘n mens normaalweg dink.

‘n Boesemvriend wat jou in die steek laat, ‘n ouer wat jou skok, ‘n kind wat jou hart breek, ‘n kollega wat jou in die rug steek. Oral en altyd sal jy hiermee moet rekening hou en dan daarmee moet saamleef. En dan ook nie as die uitsonderlike oomblik nie. Van die grootste wêreld-literatuur worstel met hierdie innerlike swakheid van selfs die sterkstes onder die helde.

Wanneer ‘n mens op hierdie manier “realisties” begin dink oor die wyse waarop goed en kwaad in een mens by herhaling vermengd voorkom, kan jy sulke seerkry-tye met meer volwassenheid hanteer. Jy weet – so is dit ook met jou. En vanuit hierdie wete kom die begrip. Oeroue wysheid het gemaan dat hulle wat sonder verwyte kan leef, dan maar die eerste klip moet gooi. Die balk in die eie oog, herinner so bietjie hieraan. Aldus ook die gees wat gewillig is, maar die vlees…

Hieruit leer ‘n mens verstaan waarom ‘n mens nie te haastig moet wees om te oordeel nie. En ‘n mens sou ook kon leer hoe nodig dit is om naby te gaan aan hulle wat geval het.

‘n Mens sou nou maklik dit as die “realiteit” kon sanksioneer. So is mense maar en so moet ‘n mens daarmee saamleef.

Daar is tog ‘n ander, beter weg.

Op die diepste vlak bring hierdie vermengdheid van goed en kwaad in die menslike bestaan ‘n mens terug na die oer-ervaring: om te bly in die teenwoordigheid in die Enige Algoeie God. Heel naby bly ‘n mens by die Barmhartige Een woon. Want in die lig van die goddelike goedheid, die Ideaal van die volkomene, kan ‘n mens die kwaad eerder begin aanvat.

Dit is so – hierdie teenwoordigheid van die kwaad in die menslike bestaan. Maar, weet ‘n mens ook, dit hoef nie onvermydelik te wees nie.

Steeds weer leer ‘n mens heel langsamerhand meer en meer begryp van die Skoonheid van heiligheid en ontdek ‘n mens hoedat dit tog, sterker as die kwaad, ‘n houvas op jou hart kry.

Dit is ‘n duur, duursame proses om meer te verstaan waarom die geloofsreis die afskud van die kwaad beteken en nie die dulding daarvan nie. Dit is ‘n worstelstryd. Die hart van geloof vertel van die vreugde wat te vind is wanneer God se wil – eerder as die kwaad – uiteindelik wortel skiet en begin uitbot in die Tuin van die lewe.

Ant Annie se broodjies. Die groot eetkultuur.

Die Amerikaanse kos-kultuur oorweldig 'n mens.

Op die  tussen-stop van my reis na die VSA moet ek in Atlanta 'n uur of twee op die lughawe deurbring. 

Ek het so pas van die 16 uur-lange vlug van Johannesburg afgestap en is dus nie besonder honger nie.

Ek loop in een van die grootste lughawens van die wêreld rond. Dis groot-mense se plek hierdie. Dit krioel van mense wat op pad is van en na vlugte. Die wat nie loop nie, sit almal in die baie eetplekke. En hulle eet. Groot. Vinnig. Baie. Dit is die koninkryk van kitskos.

So in die loop en die rondkyk oorweldig die vars-vars, kraakvars reuk van pasgebakte brood my onverwags. Ek steek vas. Die moeder van alle sensasie kom in my op, want min dinge ruik en smaak beter as so 'n simpel eetgoedjie soos 'n vars brood.

Ek onthou altyd by die reuk van varsgebakte brood hoe ons kleintyd agter in my pa se Hudson op Sondae-middae afgesit het oor die rivier na die broodfabriek waar hulle stomende vars brood uit die oond direk aan die publiek verkoop het. Vyf honger handepare van die vyf susters en broers het groot gate in daardie brood gegrawe lank voordat ons by die huis teruggekom het. 

En net so pertinent onthou ek hoe ons in die Noorde van Griekeland in die klein dorpies verby die oop bakoonde gery het waarin die Grieke die allervarste brood met 'n lang houtlepel uit die oonde geskep het. 

Lieflik.

Dus begin ek onwillekeurig die herkoms van die vars broodreuk versigtig naloop en kies kortpad agter my neus aan. Skielik is ek sommer honger.

Ek kom by 'n piepklein stalletjie uit. Dit is seker so groot soos ons kombuis. Drie mense staan in die klein ruimte van die blinkskoon winkeltjie. Een by die teller en die ander twee bak en brou pretzels.

Jy kry natuurlik verskillende soorte - van plein, tot kaneel tot rosyntjie. Hulle rol die deeg sommer daar voor jou, onder jou aanskyn en dan bak hulle hom in jou teenwoordigheid.

Niks is oud hier nie.

Die plek heet Aunt Annie. En die resep is tradisioneel, vertel hulle. Die sentimente wat Ant Annie by jou oproep laat die hongerte in hongerkrampe omslaan. Jy kan nie wag nie. Jy is terug in Ouma se kombuis doer op Janfourieskraal as sy op haar horlosie kyk en die vadoek begin optel om die houtstoof se brand-warm knop op te lig en die broodpan met sy opgetofte brood uit te tel. Dit is 'n diep begeerte wat hier in jou binneste opwel.

Later, by die konferensie, aan die ooskus, loop ek weer, onverwags, 'n Ant Annie raak. Oral help Aunt Annie's om flink die vlam van die Amerikaanse kultuur van lekker, goedkoop, skoon, tradisionele en smaakvolle kos hoog te laat brand.

Maar hier, in Atlanta, sommer met die eerste halfuur van my kuier in die land van melk en heuning, is ek summier honger en koop vir my 'n plein Pretzel volgens Aunt Annie se ou resep gebak.




Dit smaak vir my nes gewone brood, al heet dit nou Pretzel.

En ek is diep tevrede. Want saam met die Pretzel kry ek om die draai van Aunt Annie's by 'n tee-stalletjie sowaar vir my uitsoek-tee, al stuit dit my teen die bors dat ek dit uit 'n papier-beker moet drink. (Die vrou agter die toonbank kyk my verstom aan as ek vra of hulle 'n gewone koppie het. Hier is alles kits en weggooibaar, vertel haar liggaamstaal....).

Ek gaan sit, die enkele terugslag ten spyt, in die boekwinkel om die draai en sak weg in 'n ete-nirvana. 

Warm-warm, sag soos spookasem, vars soos die eerste môre-dou, smelt die broodjie in my mond weg. Ek eet stadig, berekend en met genot.

Lekker.

Wat lekker en mooi en uitsoek is, besef ek met my verdere reis en al my etery in eetplekke, word ook terselfdertyd omgekeer in die teendeel deur die manier waarop kos verorber word en die massief-heid van die kos-kultuur.

In San Francisco, by die konferensie, eet ek die eerste oggend ontbyt. Ek wil net twee snye brood hê - dit is my gewone kwota aan brekfis. Niks meer nie. En ek bestel dus heel sober en ingetoë net geroosterde brood, of, French toast, soos ons dit in die gewone lewe ken.

'n Enorme bord vol brood word voor my neergeplak. Ek kan nie glo wat ek voor my sien nie. Ses enorme snye brood (Franse roosterbrood) staar my soos 'n slegte gewete aan. En saam daarmee word 'n enorme beker tee gegee in 'n koppie so groot en dik dat jy 'n olifant daarmee kan platvee.





Ek bekyk verslae die opgestapelde brood en die wêreld om my. Die restaurant, 'n Diner, sit tjok en blok vol mense met voor hulle Brueghel-agtige borde kos. Dit raas en eet van hoek tot kant. 

Dit voel vir my of die laaste oordeel aangebreek het en ek aan die verkeerde kant beland het. Ek is omring deur borde vol spek, eiers, pannekoeke, aartappelstukke.

Ek weet dadelik ek het die stryd verloor. Die kelnerin se ma het haar grimmig laat grootword. Ek sien dus aan haar hele houding en bedieningstyl (!) ek moenie sukkel nie en probeer omruil of terugstuur nie. 

Dus: Ek bestaar ses enorme stukke brood gedoop en gebak, elkeen, boonop, in eiers. 

En om te dink, mediteer ek myself verder in onvrede in, ek sal hulle, die potensiële hompe deeg in my lyf, later aan nie eers kan wegdraf nie, want ek gaan die heel dag op 'n stoel na referate sit en luister....

Calvinisties, grootgemaak om nooit met kos te mors nie "want daar is kindertjies wat vanaand honger gaan slaap" wurg ek moedig en met volharding voort aan die stukke brood, vasberade om die bord leeg te eet. 

Na die derde sny gee ek die stryd gewonne en loop met 'n skuldige gewete van die bord vol brood weg.

Oordaad. 

Later, veel later, in Europa, lees ek hoeveel meer mense nou in Griekeland straatbewoners geword het, hulle huise verloor het en van koskombuise afhanklik geword het. In een berig word vertel van 'n vrou wat haar werk verloor het en wat toe ontslae geraak het van alles wat oordaad was in haar kombuis, huis en klerekas. Sy vertel dat sy doelbewus kies vir eenvoud, bewus daarvan met watter spandabelrigheid sy voorheen geleef het.


Tuesday, November 29, 2011

Ware en valse mag


Die mag van die kerk oor die lewens van mense neem soms onvoorstelbare omvang aan.

Tydens my onlangse reis gesels ek met iemand oor die bieg – wat my hiervan meer as tevore bewus maak.

Wanneer ‘n mens na die bieg gaan, is die vereiste absolute eerlikheid en, gepaard daarmee, absolute openheid.

Die priester kan vir jou die mees intieme vrae vra wat ‘n mens reguit moet antwoord.

Op die manier, verduidelik my gespreksgenoot, moes sy landgenote ‘n dertig jaar gelede aan die priester vertel vir wie hulle gestem het. As hulle gestem het vir ‘n politieke party wat vir die kerk op daardie stadium onaanvaarbaar was en teen wie die kerk hom uitgespreek het, het die priester geweier om vir daardie persoon “absolusie” van hul sondes te gee. Dit het geweldige konsekwensies vir die persoon en sy familie gehad. Dan was hulle afgesny van kerklike voorregte.

In die tyd, in ‘n streng katolieke land, is mense wat dus vir sekere partye gestem het, deur hierdie magsposisie van die kerk in sosiale verwerping ingedompel. Die bieg was dus die kerk se manier om die sosiale strukture te beheer en om verreikende politieke en sosiale mag uit te oefen. Iemand wat uit pas was met die kerklike voorkeure en instruksies was summier die voorwerp van ernstige ostrasering.

In sy land, vertel die gespreksgenoot my, het dit tot dekade-lange verbittering gelei. Kinders en kleinkinders onthou nog die geestelike lyding wat hul familie met skande ervaar het oor hul politieke keuses. Omdat feitlik die hele bevolking katoliek is, was die verwerping besonder sleg.

Dit tref my vol in die gesig toe ek begin nadink oor wat dit moes beteken het dat ‘n mens so deur die kerk gebind kon word. In Protestantse kringe is die gebruik en die impak van die bieg nie so bekend nie en kan ‘n mens jou noulik in so ‘n situasie indink. Dit is dus ‘n ervaring om daaraan blootgestel te word en om te verneem hoe mense gely het onder die houvas van die kerk op die samelewing.

Die ironie is dat die politieke party wat die kerk in my gespreksgenoot se land veroordeel en verwerp het, later die regerende party sou word. En hierdie party onderhou heel goeie verhoudinge met die kerk, ten spyte van ‘n meningsverskil by ‘n geleentheid of wat. Al daardie lyding en skande was dus, vanuit latere tye gesien, eintlik onnodig.

Maar die punt is vir my nie soseer dat die kerk se oordeel op ‘n ironiese manier heel radikaal kan wissel nie. Dit gebeur in alle kerke dat besluite van gister die skande van môre kan word.

Vir my is die punt hier iets anders: daar is nie maklik iets meer gevaarliks as mag nie. Dit is wel so dat ‘n mens mag kan gebruik om goed te doen. Die geskiedenis het byvoorbeeld gewys hoedat die kerk die werk van moeder Teresa eers moes goedkeur voordat sy in Kalkutta vir die armes en siekes begin versorg het. Die kerk het ook iewers vir haar die ruimte geskep waarbinne sy haar werk kon vorm en uitvoer (al het dit, soos haar briewe toon, nie altyd so maklik gebeur nie).

Soms, soos in hierdie geval, kan mag inderdaad ‘n geestelike karakter hê. Maar dikwels – te dikwels – is die kerk se houvas op mense minder gelukkig.

Dit bly boeiend dat die verhaal van die evangelie gaan oor magsprysgawe. Jesus het dit geen prestasie geag om aan God gelyk te wees nie, sê die beroemde Christus-himne in Filippense 2. Maar Hy het dit prysgegee om aan mense gelyk te word en soos ‘n slaaf te kom dien. En ‘n beroemde woord van Jesus is om alles prys te gee, sodat ‘n mens alles kan wen.

Die mag van geestelikes oor lidmate en gemeentes is onvoorstelbaar groot. Die magsoptrede van die kerk kan onvoorstelbare vorme aanneem en mense se lewens radikaal bepaal. Wanneer ‘n mens hieroor begin nadink, is die blote feit hiervan genoeg om ‘n mens te laat terugskrik. Daarom is die groot vraag op watter geestelike manier die kerk sy mag uitoefen. Die evangelie is hieroor nogal duidelik: die geestelike mag van die kerk is nie in heers en regeer te vind nie. Egte geestelike mag het veral ‘n dienende karakter. Jesus is die voetewasser.

Dit is seker die groot uitdaging vir die kerk van ons tyd: in die gewone samelewing wil mense nie meer gebind wees aan mag as dwingelandy nie. Wat deesdae in ons kultuur vir mense nader aan God bring, is die mag om te dien. Dit is nie verniet dat in ‘n onlangse televisie-program die meeste mense wat ondervra is oor wie die grootste vroue-figuur in onlangse tye was, moeder Teresa se naam genoem het nie. Intuïtief is die evangelie se magsprysgawe al in die kultuur van ons tyd teenwoordig en verbind mense dit met grootheid.

Hieroor moet ‘n mens nie romantiseer nie. Dit is nie maklik om mag prys te gee nie. Vir die kerk is dit allermins maklik – want magsprysgawe gaan teen die grein van die kerkgeskiedenis met sy talle magsvergrype in. En elke predikant weet maar te goed hoe swaar dit is om die mag op te gee en die minste te wees. Om mag op te gee, vra ‘n bewustelike keuse. Dit is iets waartoe ‘n mens jouself moet dryf. Magsprysgawe is ‘n bitter beker.

Maar die vrug daarvan is geurig en soet. Dit is ‘n keuse wat ‘n mens toegang geen tot die vrug van die Gees en die blydskap van die geestelike lewe.
 

Die mistiek van ons tyd


Terug by die huis en na ‘n stewige nagrus (die terugreis was elf uitgerekte ure lank), staan ek in ons dorpie op onder ‘n blou hemel en ‘n geel, warm son wat alles om my in somer se vrolike lig laat baai en wat in my kom lê soos 'n eerste, egte liefde.

Op ons balkon, staan ek minute lank en indrink aan die geil groen van die eikebome. Ek verstaan waarom groen in sommige godsdienste die kleur van die goddelike is as ek hulle sien. Ek bekyk hongerig die Pieke, dan die berg van Predikant Simon, die herder en leraar van my voorvaderlike Hugenote en soek daarna weer die kop aan die oorkant van ons nommer eerste rivier gretig op. Hy staan nog daar – klein meneer tussen al die groot ooms wat om hom die lug inpeil. Vanaand, as die son ondergaan, sal hy bo hulle, die groot menere, uitstyg wanneer hy in ryk, onoortreflike kleure sy aandgewade gaan aanpas. 

Ek is tevrede. Alles is nog netjies in hulle plek.

Middag draf ek my ou, bekende drafroete, op teen die bergpad, terwyl ek my verloor in die mistiekheid van die vallei soos dit tydloos lê en wag om bekyk te word en geniet te word. Elke draai in die pad is ‘n tuiskoms, elke fynbos langs die roete ‘n ou kennis.

Dit was ‘n lang 14 dae sedert ek dit die vorige keer kon draf. Ons herontmoeting is soet, die dag is mooi, my vrede lê diep. Ek is in dankbaarheid naby aan God.

Die hele dag deur bly ek kou aan ‘n belangrike gesprekspunt tydens die byeenkoms in San Francisco. Mistiek, het verskeie sprekers beklemtoon, is lank nie meer bloot te assosieer met die ekstase of die persoonlike ervaring van individue nie. Dit is ook nie meer iets wat in afsondering in die woestyne of in kloosters na mense kom nie. Die mistiek van ons tyd, vertel die groot spiritualiteitsdenkers van ons eeu, is dieper, mooier, konfronterender. Dit is die mistiek van die alledaagse. Om God rondom jou te ervaar, om die Verborgene ‘n aanraking ver te ontmoet.

In ons tyd sal mistici die eenheid met God in die mees gewone en alledaagse dinge ondervind. God,  besef ek tydens die gesprekke, het eintlik baie nader aan ons gekom as ooit tevore. Naby, na aan God, digby die Verborgene, die Diepste van alle dinge, kom ‘n mens by jou opstaan en jou rondgaan, wanneer jy om jou kyk en wanneer jy alles wat in geloof vir jou kosbaar is, met ‘n gevoel van herkenning en ontmoeting rondom jou kan ervaar. Die aanraking van God in die liturgie, die lees van die Woord, die bediening van die sakramente, die studie van die Bybel, kom op ‘n ander manier tot jou wanneer ‘n mens, attent, aandag-skenkend, met ‘n verhoogde bewussyn, met opgeskerpte sintuie, ook om jou die werking van God herken.

Geloof, dink ek dikwels die afgelope tyd, maak ‘n mens bewus van hoe God orals naby aan ‘n mens is. Vandaar die geestelike fokus op die ekologie, op die liggaamlike, op die teenwoordigheid van God hier en nou. Lankal nie meer bloot verstandelik nie, is geloof die transformatiewe reis met God langs die waters waar rus is.

Geloof laat 'n mens die skepping anders ervaar, anders sien en steeds weer elke dag nuut bekyk. 

Ek gaan gooi petrol in by die garage hier onder in die straat waar ek ‘n ou kliënt is. Die petroljoggie, onbekend aan my, groet vriendelik en wil weet hoe gaan dit met my. Hy bedien my met meer as rojale vriendelikheid. Die vrou agter die toonbank lag vrolik toe ek vir haar sê sy lyk nes Patricia de Lille se suster en sy moet vir haar suster vra of sy nie vir my ‘n werkie in die parlement kan kry nie.  Baie mense het al vir haar gesê sy lyk na Patricia, antwoord sy – haastig om my gespottery oor te vat. Sy weet darem nie of ek in die parlement moet gaan werk nie, ek lyk dan glad nie skelm nie…. Die vriendelikheid van die ander een, onbekend aan my, vervul my verder met geneentheid op hierdie goeie dag.

Ek stap na my motor nadat ek vir die petrol betaal het. Oorkant die straat staan drie klopse in hul tooisels, besig om vir die kafee-gaste te sing vir ‘n bietjie geldjies. Hulle klere het die beste dae agter die rug, maar die oop-en-toe sang is ewig nuut, eg Kaaps, vol musiek en laat die somer-ligtheid nog dieper in my hart wegsink.

Ek is tuis, dink ek, as ek na hulle gesing luister.

My hart bly hier, weet ek. En dit is meer as ‘n fisieke tuiste. Dit is ‘n plek van tevredenheid, van vredigheid, van innerlike behoort. Hier, na al die kilometers van rondry oor drie kontinente heen, voel ek naaste aan God. Ek is verbind met die aarde waar ek ‘n plekkie gekry het om my kop neer te lê. God se nabye goedheid, voel ek op die sag-blye someroggend, woon ook in die berge en in die dale, in ons plekkie en ook naby aan en in my.

Oweral is God. 

Dit is betowerend – hierdie alomteenwoordigheid van die ewige Skoonheid.

Sunday, November 27, 2011

Die verantwoordelikheid en vreugde om God se wil te onderskei


Tydens die byeenkoms by die AAR praat Elizabeth Lietert oor haar boek oor Discernment, of te wel, onderskeiding. Die vraag vir vele mense in hul daaglikse lewe is hoe om God se wil te onderskei.

Sy noem in ‘n enkele sin dat sy versigtig is om te praat van die “wil” van God.

Later, in Malta, merk my kollega daar op dat die woord ook vir hom ‘n probleem is.

Die woord lyk asof daar sekere vaste besluite omtrent ons lewens is wat God namens ons geneem het en wat ons moet ontdek as ons gelowige mense is. My kollega merk op dat die woord dus ‘n deterministiese betekenis gekry het. God bepaal van A tot Z die gang van die wêreld en almal moet daarby inval. Die mens word niks anders as ‘n masjien wat op vooruitbepaalde toere loop.

Lietert sê dat sy eerder die woord “roeping” verkies as die woord “wil” van God. God roep gelowiges om die weg van God te volg en om hul lewenstaak in getrouheid aan God se woord te verrig. In die proses is daar ruimte vir die mens se verantwoordelikheid.

Wat belangrik is, sê my kollega, is dat ons gedurigdeur moet onderskei watter dinge ons meer volwasse en heel maak teenoor die sake wat ons lewe fragmenteer en vernietig. Dit is immers wag God van ons wil: God wil dat ons steeds weer die beeld van God weerspieël. Dit beteken dat gelowiges soos God sin skep in hul bestaan, hul lewens inrig sodat dit ander kan dien en sodat hulle ‘n vervulde bestaan kan voer.

Wanneer ‘n mens dus in die geloof onderskei wat God se bedoeling vir ‘n mens is, sal daar altyd ook weer mislukkings en foute wees. Maar hierdie foute en mislukkings is nie noodwendig ‘n ramp nie. Ook uit ons foute, ons gebrek aan goeie onderskeiding, leer ‘n mens God se wil ken – al is dit net deur te ontdek wat nie God se wil is nie…

Onderskeiding is dus ‘n hoogs kreatiewe proses. Ons is nie masjiene wat eenvoudig moet uitvoer wat reeds tot in die fynste besonderhede bepaal is nie. Ons is vry mense wat in verantwoordelikheid moet soek op watter maniere ons die heel beste die beeld van God kan uitstraal. Dit maak onderskeiding so ‘n opwindende saak. 

Met vreugde ontdek 'n mens hoe God gelowiges vertrou om hul heil uit te werk. Saam met God word ons lewensreis 'n opwindende ontdekkingstog van ons vermoe om goed te kan leef. En op die manier is ons daarop gerig om God se roeping te gehoorsaam om ons lewe so te leef dat dit God sal verheerlik - in alles wat ons ook al mag besluit en doen.


Saturday, November 26, 2011

Die pous, die katte en die boeke.

My kollega in Malta laai my by die lughawe af na die oggend se vergadering met die Raad van sy Instituut vir Spiritualieit. Ons het met die Raad ons komende simposium suksesvol beplan en in ‘n lang sessie vrugbare samesprekings oor toekomstige samewerking gehad.

Ons is albei dankbaar en tevrede oor die goedheid van die oggend en die geestelike band wat deur ons gemeenskaplike belangstelling en saam-wees oor twee dae opgebou is.

En, om alles te kroon, gebeur dit by hulle gemeenskap se eeu-oue tuiste in Mdina – een van die mooiste stede in Europa. Hier, in die geskiedkundige ruimte,  sal ook ons simposium volgende jaar gehou word.

Ons twee spandeer by die lughawe nog ‘n laaste uurtjie oor ‘n koppie tee vir ‘n finale gesels – ons weet die tyd was eintlk te min vir alles wat ons gemeenskaplik deel en waaroor ons nog dae lank sou kon praat. Ons deel nog ‘n paar laaste gedagtes en wenke met mekaar.

Ek is beïndruk deur sy akademiese werk by die universiteit. Dit is kwaliteitswerk, maar ook innoverend. Ek vind aanklank by sy kreatiewe omgang met spiritualiteit. Een van sy student, vertel hy byvoorbeeld vir my, het ‘n stuk navorsing ingehandig oor die verhouding tussen die fliek, Twilight, die bekende werk oor “goeie” vampiere en – van alle mense – Jan van die Kruis. 

Maar hy het die stuk nie goed gevind nie, hoewel hy gedink het die student se intuïsie is reg en dat ‘n mens die twee wel met mekaar sou kon vergelyk. Die student wou in sy navorsing aantoon dat die vampier in die reeks die soort geestelike groei toon wat Jan van die Kruis in sy werke beskryf deurdat hy lief raak vir ‘n meisie en haar ‘n vampier maak om vir ewig by haar te kan wees.

Maar my kollega vind die toepassing te maklik en ongeloofwaardig. Hy wou eerder gehad het dat die student die vampier korrek verstaan as die argetipe van die oer-kwaad – die bose wat in die “twilight” leef en nooit tot rus kom nie omdat die vampier ‘n bloedvergieter is en gelaai is met skuld-besef. En as rustelose vernietiger van die lewe, staan die vampier as argetipe juis teenoor enige vorm van geestelike groei.  Die vergelyking met Jan van die Kruis is dus nie korresponderend nie, maar antiteties.

Ek luister met belangstelling, veral omdat my kollega ‘n voorstander is daarvan om sensitief te wees vir hoe in ons nuwe tyd spiritualiteit op ‘n nuwe manier beleef word. Elke nuwe era het ‘n nuwe vormgewing van spiritualiteit, argumenteer hy. In ons tyd baat dit dus om te luister hoe jongmense hul intuïtiewe spiritualiteit vorm gee, want dit vertel ‘n mens hoe mense in ons td hul geestelike reis uitbeeld en ervaar.

Dit lyk my belangrik. En, in tye waar daar so vinnig nuwe breuke en omslae kom, moet ons uitkyk op nuwe vorme van spiritualiteit gedurig getoets word.

Ek sien uit om in die toekoms met hom saam te werk oor hierdie wyse van nadenke oor kontemporêre spiritualiteit.

Maar nadat my vliegtuig die pad begin terugvat, bly ook ander aspekte van ons gesprekke nog by my draal. Ek het veel plesier gehad aan twee verhale wat hy my vertel oor die huidige pous. Hy het die pous twee keer op ‘n ongewone manier ontmoet. Toe hy in Rome op ‘n keer was, het die pous, toe nog ‘n kardinaal, bekend geraak as iemand wat heel erg oor katte was. Hy het die katte in die omgewing waar hy gebly het, gereeld kos gegee. Op ‘n keer het hy die pous gesien op pad na die Vatikaan toe, maar terwyl hy deur die straat loop het ‘n klomp katte agter hom aangetou. Hulle het kennelik geweet watter kant hulle broot gebotter was….

En ‘n ander keer, vertel hy my, het die pous, die ernstige teoloog en skrywer, toe hy al pous was, boeke nodig gehad. Hy het blykbaar summier die pad uit sy kantoor en blyplek in die Vatikaan gevat om boeke te gaan haal. In die proses het hy vergeet dat hy pous was. Hoogs ingedagte het hy die pad gevat, straat=af, met net die een ding in gedagte. Blykbaar was daar toe net chaos op straat. Orals het mense verstom om hom begin saamdrom, want sonder enige bewaking en begeleiding kom een van die bekendste mense op die planeet rustig die straat afgestap, onbewus van wat hy eintlik aan die doen was.

Twee mooi anekdote’s, dog ek, wat met smaak en groot humor vertel word. Maar iewers belig dit vir my kante van die pous, wat ek steeds onthou as Kardinaal Ratzinger, waarvan ek nie bewus is nie. Dit boei my dat my kollega, iemand met ‘n oop gemoed, met my inligting deel wat volgens hom daarop wys dat die huidige pous nie die geslote mens is soos wat baie dink nie.

Laat môre-aand is ek tuis, in ons hoogsomer-plekkie – bly om terug te wees waar die huis is. Maar vol ryk gedagtes. Malta was ‘n passende afronding van ‘n vol 10 dae. Tien dae, maar dit is asof ek tien jaar se gedagtes in my ronddra.
 

Friday, November 25, 2011

Wanneer onderskeiding lewensbelangrik is…

Die kollega wat my op die lughawe hier in Malta vanmiddag oplaai is ook ‘n spesialis in Spiritualiteit en terselfdertyd aktief in die bediening. Ons is besig om ons konferensie oor “onderskeiding” in Mei volgende jaar te organiseer.

Terwyl hy en ek oor die eiland na die vergader- en blyplekke vir ons beplande konferensie ry, praat ons oor ‘n klomp sake. Onder andere raak ons ook aan die sosiale situasie op die eiland. Hy vertel my van die groot opspraak wat daar in Malta was toe die regering wetgewing ingedien het om egskeidings te wettig. Sommige geestelikes was heftig daarteen gekant en het lidmate van die kerk met die verdoemenis en hel gedreig as hulle vir die wetgewing sou stem.

Dit is toe dat hy ‘n artikel daaroor skryf wat in die plaaslike media verskyn en groot opspraak verwek. Hy is na die publikasie daarvan oorval deur allerhande reaksies – van teenstanders wat hom verkwalik tot voorstanders wat hom geluk wens.

Maar eers dit: Ek is op die oomblik besig om juis ‘n bietjie te skryf oor onderskeiding. Gister se blog het oor die plek van die gewete in onderskeiding gegaan. Deel van onderskeiding is om gereeld en versigtig ‘n mens se gewete te ondersoek. Daarmee bedink ‘n mens op ‘n kritiese, onderskeidende manier die dinge wat elke dag in ‘n mens se lewe plaasvind wat ‘n mens van God skei. Dit is belangrik om ‘n mens se gewete so te ondersoek, op die belangrike voorwaarde dat ‘n mens nie vasval in ‘n obsessiewe, negatiewe sondebesef nie.

Dit net kortliks om te verduidelik waarom ek oor die res van ons gesprek, terwyl ons in reenweer oor pragtige eiland ry, verwonderd is. Dat juis in die tyd van my nadenke hierdie tema so prominent in my gesprekke hier op Malta na vore kom!

My kollega vertel my dat hy die verdoemende oordeel van sy mede-geestelikes teen lidmate wat vir ‘n egskeiding-wetgewing sou stem, verwerp omdat hy vas glo dat ‘n mens niemand in sy of haar gewete moet bind nie.

Soms, vertel hy, kom daar in ‘n mens se situasie en in jou geestelike reis ‘n tyd dat jy deur jou gewete gedwing word om ‘n besluit te neem wat teen alle gevestigde norme, strukture en magte ingaan. Dit is dan vir jou ‘n gewetenssaak wat jy op ‘n baie persoonlike vlak voor God vir jou uitgemaak het. Dit gebeur nie ligtelik nie, veral omdat jou besluit teen alle bestaande wysheid ingaan. Die besluit word na hewige worsteling en na ‘n proses van deeglike onderskeiding geneem. Dit is jou besluit wat jy alleen voor God neem en niemand het die reg om jou daaroor te veroordeel nie.

Hierdie gewetensbesluit hang saam met ‘n grondmotief in die geestelike lewe. Elke mens het die vryheid om te besluit en moet die vryheid gegun word om besluite te neem wat nie noodwendig met die kerklike leer en dogma klop nie.

My kollega vertel: Dit is niks nuuts wat hy oor die kwessie skryf nie. So het die kerk oor alle eeue gedink en hy sluit bloot net daarby aan. Die mens is in sy gewete voor God gebind om in vryheid te doen wat hy of sy glo reg is. Wat hy sê is ook nie vreemd nie, want dit is byvoorbeeld ‘n saak wat sterk deur die huidige pous verdedig is.

Ek word deur ons gesprek skielik weer bewus van die deurslaggewende rol van die gewete in die geestelike reis van die gelowige mens. Gedurigdeur moet ‘n mens jouself afvra of jy dinge kan doen wat in spanning met jou gewete staan. En die manier waarop ‘n mens jou gewete ondersoek is om te onderskei tussen wat reg en verkeerd is, tussen wat God wil en wat teen God se wil is.

My gesprek met my kollega laat my iets beleef van my nadenke oor spiritualiteit en onderskeiding. Die ondersoek van ‘n mens se gewete kan baie belangrike gevolge hê. Onderskeiding kan ‘n mens bring tot op daardie punt dat ‘n mens teen alle wysheid in, teen al die gevestigde opinie’s en gewoontes, jou eie kop moet volg.

Dink maar hoe duidelik die kerkgeskiedenis dit uitwys: Franciskus van Assissi, Jan van die Kruis, Luther, en menige ander het ‘n punt in hul lewe bereik waar hulle met groot waagmoed die bestaande orde uitgedaag het.

Imitatio Christi….

Dit is dus te verstaan dat die geestelike leiers van alle tye beklemtoon het dat onderskeiding ‘n geestelike praktyk is wat ‘n mens gereeld, daagliks en met groot toewyding moet toepas deur ‘n mens se gewete te ondersoek.   

Blog Archive