Friday, April 12, 2013

Waar ontdek 'n mens egte lewe?


Die vraag word oor en oor gevra: waar ontdek ‘n mens egte lewe?

Die antwoord, in Bybelse taal, is onverwags:

Spreuke 14:27: Die vrees van die HERE is ’n fontein van die lewe, om van die strikke van die dood af te wyk.”

Dit is interessant om te sien hoe die 1983-vertaling hierdie vers weergee: “Wie die Here dien, vind daarin 'n bron van lewe; dit laat jou die strikke van die dood ontkom.”

Die vertalers het die “vrees van die Here” netjies wegvertaal deur die: “Wie die Here dien.”

Elders in Spreuke word hierdie “lewe” verder ingevul. Die vrees van die Here wat die lewe gee, laat ‘n mens met vrede en rus:

Dieselfde geld van Spreuke 19:23: “Wie die Here dien, se lewe is veilig; so 'n mens slaap rustig, geen ramp tref hom nie.” Die 1953-vertaling lui: “Die vrees van die HERE is tot die lewe; en versadig bring ’n mens die nag deur, sonder om deur ’n onheil besoek te word.”

Lewe kom op uit ‘n opvallende bron: die vrees van die Here en dit is ‘n lewe wat ‘n mens in volkome rus bring.

Jesaja 50:10 merk op: “Wie is daar onder julle wat die HERE vrees, wat na die stem van sy Kneg luister, wat in duisternisse wandel en geen ligstraal sien nie? — laat hy vertrou op die Naam van die HERE en steun op sy God!”

Die pad na die lewe is in hierdie verse versigtig uitgewerk:  ‘n Mens vind die lewe meer as net om in die teenwoordigheid van God te wees. In ontsag staan ‘n mens voor God: juis in die besef dat God die gewer van lewe is. Prediker 8:12 lui: “ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, juis omdat hulle voor God se aangesig vrees, ontsag het in God se teenwoordigheid.”

‘n Mens ontdek egte lewe wanneer, in die mistieke oomblik, ‘n mens in ontsag in God se teenwoordigheid is.

Hierdie gedagte werp lig op wat "vrees van die Here" beteken. Dit is 'n geestelike ervaring wat 'n mens tot die lewe bring. Angs, bewing en depressie is vernietigende ervarings wat 'n mens innerlik dood kan maak en laat. Kennelik kan 'n mens nie die vrees van die Here met sulke negatiewe ervarings verbind nie. Juis nie - want die vrees werk juis presies anders: dit vernietig nie, verskrik nie. Dit bou op, dit bring die mens tot 'n nuwe waardering vir alles wat in 'n mens se lewe na jou kant toe kom. En dit oorweldig 'n mens dat God so goed kan wees dat God 'n mens, ontsagwekkend, opnuut weer, soos met die skepping, die lewe wil gee. 




Thursday, April 11, 2013

Sy het haar waterkruik net daar laat los. Oor die kontemplatiewe oomblik.



(Mario Simoni - 1947. Jesus en die Samaritaanse vrou). 

Jesus staan met die Samaritaanse vrou by die fontein van Jakob in Sigar van Samaria en praat. Hy het die middag om twaalf uur, moeg van die reis (!), sommer by die fontein gaan sit.

Hy is dors en vra haar vir water. Die dag begin met gewone dinge – met dors (en met honger as die dissipels gaan kos koop in die dorp).

Sy is verbaas dat hy, die Jood, vir haar, ‘n Samaritaan, water vra: hulle is van groepe wat mekaar nie kan verdra nie.

Die gesprek wil nie wegbreek van die gewone dinge nie: dit draai nou om verhoudinge wat vasgebrand het en oor eeue-lange vyandskap. Sy sien Jesus net raak as een van die vyand.

Jesus antwoord haar – en die simboliek in sy woorde is swaar aan betekenis – dat sy, sou sy maar weet wie Hy is, van Hom lewende water sou vra.

Merkwaardig: Hy, die Jood, is bereid om met die vrou sy geestelike rykdom te deel. Eeuelange vyandskap sal nie in die pad staan as sy, die vyand, ook die dinge van God by Hom sou wou soek nie. Daar is voor God nie grense nie.

Die lig val dus op Hom wat alle grense oorskrei.

Maar sy sien nie in wat Hy bedoel nie. Die situasie is vir haar ondeursigtelik. Sy praat nog oor die alledaagse dinge, oor ‘n skepding om water te kry en oor die geskiedenis van die fontein (verse 11-12).

Tog trek die gesprek haar aan wanneer Jesus haar aandag na die geestelike dinge lei. Hulle praat oor die lewende water en hulle kom by ‘n punt waar sy wel vir Hom lewende water vra.

Sy reik uit na Hom. Sy is geraak deur wat hier gebeur. Maar die oorgang is nog stadig. Sy sukkel om die geestelike dinamiek van hulle gesprek te volg: die lewende water beteken vir haar dat sy nie weer by die fontein hoef te gaan skep nie.

Hulle gesprek gaan dan oor haar man. Jesus wys dan vir haar dat Hy haar ken en weet dat sy reeds ses mans gehad het.

Op die punt sê die vrou :

“Ek sien dat u 'n profeet is”  (θεωρῶ ὅτι προφήτης εἶ σύ).

Hier, met haar merkwaardige opmerking, begin haar geestelike reis: later sou sy vir haar dorpsgenote gaan vertel dat Hy die Christus is (vers 29). En nog later sou hulle vir haar sê: “Ons glo nie meer op grond van wat jy vertel het nie.” Sy, die eerste vroue getuie – ‘n apostel – het hulle meegeneem met haar boodskap. Hulle het self na Hom gaan luister en nou “weet” hulle dat hy die verlosser van die wêreld is (vers 42).

Waar het die geestelike reis begin? By Jesus, wat haar om water gevra het en wat na haar uitgereik het. Dit het ook begin toe sy van Jesus die lewende water begin vra het. Maar die kontemplatiewe oomblik het begin deurbreek, ligweg, maar darem, toe sy vir Jesus gesê het: “Ek sien dat U ‘n profeet is.”

Dit is nie die “profeet” wat my so boei nie, as die “sien” wat sy so pertinent noem.

Sy het tot die lig gekom. Die “sien” was haar oomblik van verligting: sy het besef dat Jesus nie maar net ‘n dorstige man was, ‘n lid van die groep wat haar lewe lank al vyande van haar mense was nie. Sy het “ingesien” dat Hy ‘n profeet was. Sy peil iets unieks aan Hom. Sy herken ‘n unieke geestelike dimensie in Hom as ‘n man van God, die een wat ‘n woord van God met haar gedeel het.

Die sien vertel van haar aanskouing: Die kontemplatiewe oomblik wanneer ‘n mens die teenwoordigheid van God in jou lewe ervaar.  Sy sien dit intens raak: Jesus word deursigtig as Iemand wat goddelik in haar lewe inkom. Dit trek haar aan: die mistieke oomblik keer haar lewe om. Van toe af was sy anders: was sy die een wat in die lig leef. Sy het die Messias, die Gesalfde ontmoet en vir God gesien.

Haar sien was nie ons meewarige: “O, ek sien wat jy bedoel nie.”

Haar sien is die oomblik van herkenning. So intens beleef sy dit dat sy net daar haar waterkruik laat staan het om met ander haar ervaring te deel (vers 28). Die mistieke oomblik het haar lewe omgekeer en haar uitwaarts gedryf: sy is ‘n getuie van die Verborgene.

Wednesday, April 10, 2013

Die verhaal van verlore liefde.

Volgens Markus 10:17, kom “iemand” aangehardloop, val op sy knieë voor Jesus en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry.

Wanneer Jesus vir hom vra om die tweede tafel van die tien gebooie na te kom, antwoord hy dat hy dit al van sy kinderdae af doen.

Dit is ‘n dood-eenvoudige gesprek tussen Jesus en die man wat in Markus 10:17-19 plaasvind. En die woorde van Jesus is net so helder: as jy die ewige lewe wil verkry, moet jy die wil van God gehoorsaam. Leef naby aan God, in die Goddelike wil, in die teenwoordigheid van die Een wat ewig lewe skenk.

Verwonderd staan ‘n mens voor hierdie uitspraak: wie die wet nakom, wie God se wil gehoorsaam, sal ewig lewe. Dit is genoeg.

Die man se reaksie is kinderlik opreg: Van sy kinderdae af, vertel die man vir Jesus, doen hy dit.

Maar ook ontstellend: hier is iemand met ‘n wetsgetroue lewe, gehoorsaam aan God se wil. En tog is dit nie genoeg nie. Iets ontbreek hom. Hy is nie vervuld nie. Daarom soek hy nog, verlang hy na meer. En, indrukwekkend, hy kom sy verlange, biddend, by Jesus uitstort.

Wat moet ek, die wetsgehoorsame mens, nog meer doen? Dit is 'n hartskreet gebore in diep verlange na wat sin maak.

Mens sou seker met enige reg kon antwoord dat Jesus vir hom sê: hy gee nie genoeg aan die armes nie. Hy is te geheg aan sy rykdom.

Maar daar gebeur meer as bloot hierdie kwytraak van sy besittings. Jesus beweeg ver daarby verby: as ‘n mens van alles ontslae geraak het wat moontlik jou hart kan besit, is dit ook nog nie genoeg nie.

Die geestelike weg is alleen vervullend wanneer ‘n mens Jesus volg. Dit is immers die punt van die verhaal. Markus roep op tot navolging van die Menseseun.

Hoe dan?  Wat is so spesiaal aan Jesus?

Die gedeelte antwoord hierdie vraag heel indirek met die uitspraak: “Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry.” ( δὲ Ἰησοῦς ἐμβλέψας αὐτῷ ἠγάπησεν αὐτὸν).

Twee dinge is hier van belang:

1. Jesus het na hom gekyk: dit is nie maar ‘n niksseggende opmerking wat vertel dat Jesus hom raakgesien het nie of dat Jesus hom bloot net opgemerk het nie. ‘n Mens sou dit eerder meer kon vertaal as: Jesus het die man deurgekyk, deurgrond, opgesom, verstaan. Die frase is ‘n manier om te vertel dat Jesus sy volle aandag op die man toegespits het. In daardie oomblik waarin Jesus die man aangekyk het, het Jesus intens met hom meegeleef en in die man se situasie ingeleef. Dit laat ‘n mens dink aan die oomblik toe Jesus vir Petrus na sy verraad aangekyk het en Petrus in trane uitgebars het. Jesus voel die man se geestelike nood aan, sien die erns waarmee hy soek na die sin van die lewe. Hy herken die man as ‘n geestelike pelgrim. Hy sien raak dat die man ‘n Soeker na God is.

2. Jesus het hom liefgekry. Die aanvoeling van Jesus dat die man ‘n geestelike Soeker is, laat die liefde opwel. In daardie oomblik dat Jesus hom aangekyk het, het Jesus sy geestelike verlange raakgesien. Daar is in Jesus se kyk ‘n spesiale meelewing, ‘n uitreiking, ‘n terug-verlang wat reageer op die man se verlange na ewigheid: dit word ‘n uitnodigende liefde wat vra vir navolging. “Kom, volg My – wees by My. Ek wil hê jy moet by My wees.”

Dit is ‘n oorrompelende opmerking: Die man, soekend en knielend voor Jesus, is die voorwerp van God se liefde. In die wet het God na hom uitgereik, vir hom vertel hoe kry ‘n mens die ewige lewe. Maar nou, nog meer, reik God in Jesus na die man uit. Hy word liefdevol deur Jesus nadergetrek.

Jesus se kyk en liefde deurgrond die man: die liefde weet gou as dit teen ‘n muur te staan kom. Jesus se aanvoeling is dat hierdie man nog nie volledig in die liefde staan nie. Hy het in sy lewe dinge waarvoor hy liewer as vir God is.

Die liefde van Jesus is eerlik: dit wys die man daarop dat hy ‘n gevangene is. Dit wil aanspoor om vry te raak, om die bande los te maak en in te kom in die ruimte waar suiwer liefde is. Dit is ‘n dringende, ek-staan-by-die-deur-en-klop liefde: vriendelik, uitnodigend, selfs smekend.

Miskien is die mooiste, die allermooiste van hierdie verhaal dat Jesus in liefde die man toelaat om homself te wees. Hy kry ‘n keuse. Hy moet besluit of hy sy rykdom gaan afstaan. Daar is geen dwang nie. Die liefde gee eindelose ruimte, laat ‘n mens swerf met die las van jou leë verknogthede, want die liefde dwing nie. Die liefde weet: ‘n mens kan nie van buite ingedwing word nie. Jy moet kan “sien”, jy moet kan “kyk,” jy moet Jesus kan sien soos Hy jou sien. Liefde is juis liefde omdat dit om wederkerigheid vra. Liefde vind sy vervulling in die antwoord op die liefde.

En daardie ryk man? Hy het bedruk weggegaan, geskok oor wat Jesus van hom vra. Hy het nie die liefde herken nie. Hy het nie die liefdevolle blik raakgesien nie. Verdwaasd was sy blik vasgevang op die rykdom wat so skielik bedreig is.

Daardie “kyk” van Jesus! Dit roep liefdevol – kyk na My. Sien My raak! Hier, by My, is te vind wat jy so vuriglik soek.

Deur die frase, onthul Markus vir ons die geestelike betekenis van die verhaal: dit is die verhaal van verlore liefde. Wie nie die liefde raaksien nie, sal altyd maar bedruk die geestelike reis voortsit..

Tuesday, April 09, 2013

Sluit God se liefde vrees vir God uit?


“Waar liefde is, is daar geen vrees nie.”

Dit is ‘n belangrike opmerking in 1 Johannes as die groot brief van die liefde, geskryf in die naam van die liefdes-apostel.

Dit is die vers wat baie mense aan dink wanneer hulle voel dat ‘n mens nie die begrip “vrees vir God” as ‘n kernwoord van Spiritualiteit moet sien nie. Vrees en liefde, voel hulle, sluit mekaar uit.

“Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.”

Beteken hierdie vers in 1 Johannes 4:18 dat liefde teenoor vrees vir God staan en dat die twee mekaar uitsluit?

Die antwoord is te vinde in die opmerking: “Vrees verwag straf” en: “ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie.”

Die punt is dus:  Vrees vir die oordeel in die oordeelsdag en liefde gaan nie saam nie.

In die vorige vers skryf Johannes: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom.”

As God in iemand in liefde bly, leef so ‘n persoon nie in vrees vir straf nie.

Die vers beteken dat ‘n mens wat in God se liefde leef, nie straf hoef te vrees nie. Die liefde ken nie sulke vrees nie.

Maar vrees vir die oordeelsdag en vir straf is iets heel anders as vrees en eerbied vir God.

Maar tog praat Johannes telkens in hierdie brief oor sondigheid en die nodigheid om rein te wees. In hierdie opmerkings kom sy bewussyn van God se heiligheid en reinheid na vore. Niemand leef so in God se liefde dat hy of sy nie eerbied het vir God nie. Om in God se liefde te leef, vra juis ‘n lewe van toewyding.

Elders skryf Johannes immers: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” En na hierdie verse merk hy op: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Joh.3:1-3).   

Juis in eerbied teenoor God, in afwagting op God se koms, leef die mens ‘n rein lewe en besef dat ‘n sondige lewe ‘n mens van God se teenwoordigheid beroof.

Monday, April 08, 2013

Liefdevolle Ontsag. Oor 'n kernwoord in Spiritualiteit



Almal ken die ervaring dat jy groot ontsag vir iemand het. Dit is 'n unieke ondervinding wat nie dikwels oor jou pad kom nie.

Studente ervaar dit dikwels. Hulle sit in die klas van ‘n ervare en geleerde dosent vir wie hulle buitengewone respek het.

As hulle in daardie persoon se teenwoordigheid kom, droog hul woorde op, hulle slaan vlamme in hul nek uit en trippel soms selfs senuweeagtig rond. Partykeer voel hulle selfs of hulle hul uit die voete wil maak, so klein voel hulle naby die persoon.

En tog bly die aantrekkingskrag altyd daar. Jy bewonder die persoon. Jy luister graag na hom of haar. Jy voel aangetrokke tot sy of haar wysheid. Jy steur jou aan sy of haar opinie en jy kyk gretig na hoe hy of sy jou behandel. Jy praat soms selfs 'n bietjie soos sy of hom. Na baie jare, as jy rustiger is, sal jy vir die dosent gaan sê watter groot invloed hy of sy op jou lewe gehad het.

Ontsag en eerbied het dus ‘n keersy: dit gaan gepaard met aangetrokkenheid. ‘n Mens het ontsag vir iemand tot wie jy aangetrokke voel. Die een vir wie jy ontsag het, het ‘n houvas en invloed op jou. Jy hou sy of haar gedagtenis liefdevol vas.

Ontsag is dus nie angs nie.

Dit geld ook van ‘n mens se verhouding tot God. Om ontsag vir God te hê, sal normaalweg beteken dat ‘n mens lief is vir God.

Dit is waarom Spreuke 2:7 sê: die vrees vir die Here is die begin van wysheid. In ontsag vir God kom daar kragte los wat ‘n mens tot God aantrek en wat jou in die geestelike reis opneem.

Juis daarom is vrees vir die Here ‘n kernwoord in Spiritualiteit. Trouens, dit is die eerste van vier kernwoorde. Hier begin Spiritualiteit

Sunday, April 07, 2013

Kalmte





Die sug na wonderwerke en geloofsgenesing is in ‘n sekere sin verstaanbaar en selfs ook te regverdig.

‘n Mens se gesondheid is spesiaal. Niemand kan verkwalik word wat daarna verlang om van ‘n knaende of gevaarlike siekte genees te word nie en wat op 'n manier na buitengewone ingrype verlang.

Maar, het ek in Colin Brown se boek raakgelees, soms kan ‘n mens so obsessief word om genesing te vind, dat dit jou gesondheid verder benadeel. ‘n Mens hoef net sekere kanale op ons televisie te bekyk om te sien hoe oorweldigend die fokus op sulke geloofsgenesingsdienste is.

Of, soos Brown ook opmerk, dit kan ‘n mens dieper depressief maak as ‘n mens nie van die donker van jou desperaatheid en depressie genees word nie en jy dan voel dat jy in jou toewyding en gebedslewe nie goed genoeg in God se oë is nie.

Daar is egter soms agter die obsessie met geloofsgenesing ‘n verkeerde houding. Dit het te doen met die houding dat die gebed van ‘n mens met ‘n sterk geloof nie onverhoord sal bly nie. So ‘n houding is eintlik aanmatigend. Om in God te glo en in God se teenwoordigheid te wees, waarborg nie volmaakte gesondheid nie.

Daar is nie maklik, kitsresepte in die geloofslewe nie. 

Wat 'n mens ook laat dink aan woorde van Jesus aan die wondersugtige Fariseërs en Sadduseërs: "’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet. En Hy het hulle verlaat en weggegaan" (Mt. 16:4). 

In 1934, skryf Brown, het die Amerikaanse teoloog, Reinhold Niebuhr die volgende gebed geskryf:

O God, gee ons
         kalmte om te aanvaar wat ons nie kan verander nie,
         moed om te verander wat moet verander,
         en wysheid om hulle van mekaar te onderskei.   

Ek is geboeid hierdeur: om kalm te wees in die lig van die onafwendbare. Dit is waartoe geloof ‘n mens inspireer.

‘n Mens kan met vrug dieper dink oor en ernstiger soek na kalmte. In sommige gevalle het gelowiges soveel daarvan gemaak dat dit ‘n kenmerk van hulle geloofsreis geword het. Dink maar aan die bekende Hudson Taylor (van China-sending) se boekie hieroor en die sg. – soms erg omstrede – Keswick Leer wat daarin na vore kom.

In die beweging was die klem op oorgawe aan God: laat dinge gaan, en laat God toe om te werk. (Wat uiteindelik weer tot die uitwasse gelei het dat mense in wie God nie gewerk het nie, veroordeel is as mense wat nie laat gaan het nie en wie se geloof nie sterk genoeg was nie!).

Om jouself oor te gee, om kalm te wees, om vrede in jou gemoed te hê, ook in die dae van jou siekte en sterwe, lyk nie na merkwaardige heldhaftigheid nie. Maar dit is nogal ‘n foutiewe indruk. Dit kan ‘n belangrike vrug van die Gees wees.

Ek wil meer oor kalmte dink. Miskien is dit een van die belangriker deugde vir ons oor-entoesiastiese geloofslewe.

Saturday, April 06, 2013

Wanneer 'n mens nie meer om geloofsgenesing bid nie.

Colin Brown skryf in sy “That you may believe” oor die verlange van vele mense dat God hulle gesond sal maak. Hy vertel van Catherine Marshall se skrywe oor ‘n gebed van prysgawe. Sy was baie lank siek. Een spesialis na die ander kon haar nie gesond maak nie. Haar herhaalde gebede en haar steeds weer intense beroep op haar geloof het geen verskil gemaak nie. Sy het siek gebly.

Op ‘n dag lees sy ‘n stuk wat deur ‘n sendeling geskryf is waarin hy vertel hoe hy ook tevergeefs om genesing gebid het. Uiteindelik, op moedverloor vlakte, het hy as volg gebid:


Goed, ek gee op. As U wil hê ek moet ‘n invalide vir die res van my lewe moet wees, is dit U saak. Ek het in elk geval ontdek dat ek meer na U as na gesondheid verlang. U moet besluit.

Deur hierdie gebed het hy die saak van sy gesondheid aan God toevertrou. Hy het sy gebede om genesing verander in gebede van vertroue. Ook Marshall het ervaar hoe haar gesondheid verbeter het toe sy die gebed om nabyheid aan God gebid het. In die geval het die ander gebedswyse meegebring dat mense spoedig gesond geword het.  

Brown se voorbeeld is nie ‘n “slimmer” manier van bid om genesing nie – asof ‘n gebed van vertroue in God se voorsienigheid noodwendig tog ook genesing sal bring nie.  

Tog werp dit belangrike lig op hoe berekend en self-sugtig gebed kan wees – gerig op ‘n mens se eie voordeel. En ook hoe oppervlakkig ‘n mens oor geloof dink – asof ‘n mens se gesondheid deur die kwaliteit van jou gebede aan jou teruggegee sal word. Steeds weer is die belangrikste wat ‘n mens kan ervaar om in God se teenwoordigheid te wees. Gesondheid waarborg niks en siekte kan daardie band nie aantas nie.
 

Dit is die hart van geloof: om steeds weer in God se teenwoordigheid te wees, in gesondheid en in siekte, in rykdom en in armoede.

Friday, April 05, 2013

Wanneer is 'n mens reg? Oor 'n geveg binne die arena van vrede.



Yster slyp yster is die idioom wat die Joodse rabbi’s aangehaal het om hul leerlinge aan te moedig om ‘n skerp brein te ontwikkel deur intense debat met mekaar. 

Heftig was inderdaad die manier waarop hulle met mekaar geargumenteer het. Hulle het mekaar nie sagkens behandel as dit by die uitleg van die wet en die wil van God gekom het nie. Hulle beveg mekaar met insig teen insig.

En tog het hulle mekaar altyd eerbiedig. Dit was, soos Waaijman skryf, ‘n geveg  binne die arena van vrede. Hulle was opponente, maar het mekaar nooit opgegee nie.

Om van mekaar te verskil, is deel van God se openbaring, het hulle geredeneer.

‘n Sonderlinge verhaal gee ‘n mens meer agtergrond hieroor: Die twee beroemde skole van Hillel en Sjammai het byvoorbeeld oor meer as driehonderd sake meningsverskil gehad. Oor een onderwerp het hulle byvoorbeeld vir drie jaar baklei. Die een groep het beweer dat hulle eie siening reg is, terwyl die ander groep ook aanspraak daarop gemaak het dat hulle interpretasie in lyn is met die heilige geskrifte.

Maar, so word vertel, ‘n goddelike stem het uit die hemel gekom en gesê: “Beide sienings is woorde van die lewende God.” 

Juis as verskillende sienings is hulle die Woord van die Here.

Hoe nou gemaak? Kan 'n mens dan nooit weet of iemand reg is en die ander een verkeerd is nie? 

Daar is ‘n boeiende antwoord wat lui dat die skool van Hillel tog met die heilige tradisie ooreenstem en dus reg is. Die rede is eenvoudig: die volgelinge van Hillel is vriendeliker en nederiger. Hulle ondersoek hul eie uitsprake, maar gee ook aandag aan die sieninge van hul opponente, die skool van Sjammai. Hulle het selfs die uitsprake van Sjammai se leerlinge voor hul eie genoem.

Die mening van die skool wat meer geestelik is, is uiteindelik as die meer betroubare interpretasie beskou. Dit is nie net die opinie van die ander wat tel nie, maar ook die geestelike kwaliteit van daardie persoon. 

Hoe, dus, onderskei 'n mens die wil van God? Deur, sê die rabbi's,  fyn te kyk na al die argumente, maar ook na die persoon agter die argumente!



Thursday, April 04, 2013

Kortstondigheid en ewigheid. Op 'n dag waarop seweduisend boeke weggegooi word....

Ek raak onlangs sommer op straat met iemand oor ditjies en datjies aan die praat. Die kleingeld-praatjies kies later koers na hulle blyplek en gaan uiteindelik oor die groot boekery wat hy van die familie nog daar staan het.

Ek word uitgenooi om die boeke te bekyk. Die familie besef hulle staan ongebruik daar. En hulle dink iemand kan seker beter daarvan gebruik maak.

Daar is letterlik honderde boeke wat dateer uit die tweede helfte van die twintigste eeu. Sewe duisend, sê die nuwe kennis vir my. Die meerderheid is Nederlandse werke. Ek herken hulle almal, boek vir boek, naam vir naam. Dit is Kuyper, Bavinck, Schilder, Berkouwer, Veldkamp, Knapp, Grosheide, Greijdanus, Ridderbos en vele ander van die bekendes van die bekendes. Heelwat van hulle staan op my eie rak.

Dit is ‘n indrukwekkende versameling van hoofstroom werke uit die Gereformeerde wêreld in Nederland. Des te meer indrukwekkend omdat hulle seker ‘n fortuin gekos het. Dit beïndruk my selfs meer, want die familielid wat die boeke aangekoop het, het nie die salaris van ‘n besturende direkteur of ‘n mediese spesialis verdien nie. Die geld wat op daardie boeke uitgegee is, was bloedgeld.

Dit is tog merkwaardig dat ons die gedeelde erfgoed met die Nederlandse Gereformeerdes gehad het, dink ek, en dat dit die biblioteek van ‘n predikant iewers in ‘n doodgewone pastorie iewer in ons land vol gestaan het.

Daar is min Engelse werke: meestal die ou evangeliese materiaal (Matthew Henry se hele reeks. “Menere,” het ons slim professore in die sewentigs vir ons gesê, “gooi onmiddellik en dadelik daardie reeks in die vuilgoedblik. Hulle is onwetenskaplik en sentimenteel.”)

Daar is geen Duitse werke nie. En ook nie van die ander Europese teologiese tradisies nie.

Net Holland en sy Gereformeerde wêreld (nie eers die Hervormdes nie).

Ek herken dit alles onmiddellik. Dit was ons wêreld. Dit was die dampkring waarin ons ons teologiese vorming ontvang het. Alles buite daardie grense was dwalings, ketterye en gevaarlik. En selfs sommiges binne die wêreld is van losserigheid verdink (Berkouwer!).  

Ek weet nie wat om vir my nuutgevonde vriend te sê nie: duidelik is, heel eerstens, dat studente in Suid-Afrika van die derde millenium skaars nog Nederlands lees. En nog onwaarskynliker gaan hulle Nederlandse boeke uit die vorige eeu optel. Ek sal waarskynlik hartskade opdoen as ek sien dat iemand iewers nog Kuyper optel om huis toe te vat. (Ek moet die biblioteek gaan vra hoe dikwels daardie boeke nog uitgeleen word). In navorsing in die Bybelwetenskappe sien jy nie verwysings na Grosheide en Ridderbos nie.

So sou ‘n mens boek na boek kon deurwerk. Daar was nie een boek in die indrukwekkende versameling wat ek dink iemand desperaat sou wees om te wil hê nie, laat staan nog om te lees. Daardie honderde boeke se kans op oorlewing is inderdaad gering.

In ‘n sekere sin is dit onvermydelik. Onder die boeke was daar ‘n paar ingenieurswerke, ook uit die vorige eeu. My gasheer, ook ‘n ingenieur, glimlag toe hy die boeke sien en merk op dat hulle eenvoudig hopeloos nutteloos is. Wie nog op die beginsels van daardie boeke werk, sal spoedig sy akkreditasie as ingenieur verloor.

In die teologie gaan dit tog ook ‘n bietjie so: nuwe tye, nuwe dinge. Nuwe samelewing, nuwe ontdekkings.

Maar, vra my nuwe kennis, met ‘n ligte frons op sy voorkop: hoe is dit dan dat boeke so nutteloos kan word? Is dit tog nie boeke oor die Bybel nie? En hoe tydgebonde is ons skrywe’s oor die Bybel, die boek vir alle tye?

Hoe gee jy nou ‘n “Kort Begrip” (!) antwoord hierop? Ek dink onmiddellik hoe ek gevoel het toe ek onlangs ‘n boek gelees het waarin bekende skrywers kommentare op Lukas gebruik het wat uit 1960 stam. Hoe verduidelik ‘n mens dat hulle optree soos iemand wat ‘n brein-operasie met ‘n stomp mes wil doen? Jy moet eers deur die driedelig kommentaar op Lukas van Francois Bovon werk om te besef watter geweldige nuwe insigte in Bybelse tye in afgelope dekades gedoen is wat ons kennis van Lukas eindeloos verryk het. ‘n Mens ontneem jouself ryk insigte deur onlangse kundigheid oor te slaan. Ons weet net soveel meer van die Bybelse wêreld wat ons insig in die Bybel self laat groei het. Alleen hierdie kennis maak die ou boeke met hul beperkter inligting minder bruikbaar.

Dit is nie dat die wortels wat in die Nederlandse gereformeerde wêreld van die tweede helfte van die twintigste eeu ingeplant is, uitgeruk is nie. Iewers is hulle daar. Maar die plantjie wat bo die grond is,  het uitgesprei, opgerank, nuut geblom en lyk heel anders. 

Oor eeue heen was dit immers ook ‘n wesenlike uitgangspunt van kerk-wees: die gereformeerde kerke is reformerende kerke. Steeds weer groei die kerk op nuwe manier. Die Nuwe Testament is die epitomie daarvan: Jesus, wortels in die tradisies van ouds, is ook die nuwe Here wat nuut dink en met groot gesag in die Bergrede die lewe in die nuwe bedeling vir sy dissipels uitspel.

En tog: (want dit is wat ek van hierdie boek-episode veral onthou) my gasheer vertel my wat hy veral onthou van die predikant wat al die boeke besit het. Elke Dinsdag van sy bediening het hy in sy studeerkamer deurgebring. Niemand mag hom daar gesteur het nie. Daar het hy fototjies van elke gemeentelik gehad. Baie. En voor hom was ‘n gebedslys met gebedsversoeke opgestel. Een vir een het hy die mense op daardie lys in sy gebede onthou.

Nabyheid aan God. Verlangend na God se teenwoordigheid, vir jouself en vir ander. Alleen in die Verborgene, ook om ander se ontwil. Om opgeneem en een te word met die denke van Christus. Om bewus te wees van die goddelike aanraking. Die direktheid, die coram Deo, dit sal nie verander nie.

En alle boeke, hoe tydgebonde ook al, het ewigheidswaarde waar hulle op een of ander manier help om die ruimte te skep waar ‘n mens kan wag op die Besoek en die Aanraking.

Dit bly iewers tog treurig dat boeke so kortstondig is. Dit is nie altyd so nie. Dink maar aan Augustinus se Belydenisse wat oor honderde jare sy trefkrag behou het. Dit is die eerlike vertelling van ‘n mens oor sy lewenservaring en die merkwaardige ommekeer toe, op ‘n dag, die Verborgene in sy lewe ingekom het. Miskien is dit die moeite werd om bietjie na te dink waarom sy boek skynbaar ewig jonk bly en ander so treurig en so spoedig ‘n stil dood sterf.



  

Wednesday, April 03, 2013

Ontsag voor God (2): oor familiariteit teenoor God.

-->
In die antieke wêreld was vuur saam met die aarde, water en lug die vier basiese elemente. Die gedagte dat vuur ‘n inherente deel van alle dinge is, wys hoe belangrik vuur was. Dit is nie verbasend nie: Vir mense na aan die natuur was vulkane, warmwater-bronne, weerlig en veldbrande skrikwekkende ervarings wat hulle gedurig met die krag van vuur gekonfronteer het en hul vrees vir vuur versterk het.

Vuur was ook heel op die voorgrond in godsdiens. In ruimtes was fakkels en kerse belangrike simbole. Die antieke mens het vuur met soveel eerbied bejeën dat hulle dit selfs aanbid het net soos wat hulle die son aanbid het. Baie legendes is in antieke mitologieë oor die gode en vuur vertel.

Al hierdie inligting onthul iets van die impak van vuur op mense van daardie tyd. Wanneer hulle iets oorweldigends wou beskryf, sou die taal van daardie tyd hulle laat dink aan vuur as ‘n gepaste simbool/metafoor.  

Juis daarom is dit so boeiend om te sien hoe mense in Bybelse tye oor die mistieke ervaring skryf en dit soms in terme van vuur uitdruk. Moses sien ‘n vlammende vuur wat nie uitbrand nie en besef dan dat iets uitsonderliks voor hom aan die gebeur was (Ex.3).

Deuteronomium 9 spoor die Israeliete met vuur-simboliek aan om hul vyand nie te vrees nie: “Weet dan vandag dat die Here jou God die Een is wat voor jou oortrek soos ’n verterende vuur.” Vir antieke mense was dit kragtige taal.
Maar die beeld van vuur was net een van vele maniere om oor God te praat. Deuteronomium 9:1 druk die oorweldigende krag van God in gewoner taal uit: “Skrik nie vir hulle nie, want die Here jou God is by jou, ’n groot en gedugte God.”

Waar God is, word mense oorweldig deur ‘n ervaring van grootheid en uitsonderlikheid.

Hierdie “heiligheid” van God word in Psalm 11:9 verder verbind met iets ontsagwekkends wanneer die Here se Naam beskryf word as “heilig,” en dan bygevoeg word:  “dit wek ontsag.” In die ou vertaling lui die frase: “as heilig en vreeslik.”

Só het mense gedink wanneer hulle oor God gedink het. Só ontsaglik lyk God en só oorweldigend werk God. Hierdie sterk taal oor die impak wat God se verskyning en voorkoms op mense maak, kom ook elders in die Ou Testament voor. Psalm 99 gee ‘n teken van hoe die antieke mens God beleef het. Die reaksie van mense op God se teenwoordigheid is sterk: “Die Here is Koning; laat die volke bewe! Die Here troon op die gérubs; laat die aarde sidder! Die Here is groot in Sion, en verhewe is Hy bo al die volke. Laat hulle u grote en gedugte Naam loof! Heilig is die Here!” Dit is min dat ‘n mens in vertalings uitroeptekens kry. Hier is ‘n hele paar sommer ingeryg.

Die mens se reaksie op God word in Psalm 96:9 beskryf: “Aanbid die Here in heilige gewaad; beef voor sy aangesig, o ganse aarde!”

Die antieke mens het dus besef dat God so oorweldigend, so gedug, so heilig en vreeslik is.

Al hierdie gegewens wys op wat Waaijman die ontsaglike Verborgenheid noem. In Spiritualiteit word klem hierop gelê. Dit is nie maar net nog ‘n kenmerk van God nie. Vrees, eerbied en ontsag vir God behoort tot die kern van God se verhouding met mense. Bybelse taal praat van om te sidder en te beef voor God.

Die verhouding van God met die mens, wat in Bybelse konteks ‘n baie intieme verhouding is en vergelyk kan word met die verhouding tot ‘n pa of ‘n ma, omvat dus ook ‘n oomblik waarin ‘n mens terugdeins en –steier voor die Verborge karakter daarvan.

Hier kry ons te doen met God wat op ‘n afstand is, wat ver weg is, verhewe bo mens en skepping. Hier is God die Here, die Oorweldigende. Oor God kan ‘n mens dus nie sentimenteel en romanties dink asof God maar die liefdevolle, vergewende Here bly nie. En hier ontdek ‘n mens dat ‘n mens nie te familiêr met God moet word nie. 

Maar, roer 'n vraag tergend by 'n mens: Is dit 'n God met wie 'n mens 'n verhouding wil aanknoop? 

Tuesday, April 02, 2013

God se skroeiende aanraking


In 1 Konings 19:11-13 word die beroemde verhaal vertel van Elia wat op die berg Horeb skuil nadat hy vir Isebel gevlug het omdat hy vir sy lewe gevrees het. Terwyl hy in ‘n spelonk was, beveel die Here hom: “Kom uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”

Hierdie teofanie as verskyning van die Here word deur kontraste uitgebeeld. “Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie.”

Dieselfde geld van 'n aardbewing en ‘n vuur waarin die Here nie was nie.

Na hierdie drie heftige verskynsels, is “daar 'n fluistering in die windstilte.”

Baie word gemaak van die feit dat God bekend raak in die stilte, in die fluistering, in sagtheid en gebrek aan geraas.

Maar min aandag word egter gegee aan die gevolge van God se bekendmaking.

Al is dit ‘n fluistering in die windstilte, is Elia duidelik oorweldig deur wat met hom gebeur. Hy reageer uitsonderlik op hierdie “fluistering in die wind.” Hy maak sy gesig met sy harige mantel toe.

Dit is nie die eerste keer dat die Bybel hieroor skryf nie. In Exodus 3 sien Moses ‘n engel wat in ‘n vuurvlam uit ‘n brandende bos aan hom verskyn. Toe hy nuuskierig nader gaan, hoor hy God se stem. “Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God te sien.”

Soos Elia reageer Moses fisiek op hierdie verskyning van God met ‘n gebaar wat sy ontsag en eerbied uitbeeld.

‘n Mens kan beter nie oop oë wees wanneer God, selfs as “’n fluistering in die windstilte” tot jou kom nie. Huiweringwekkend is God se binnekoms in ‘n mens se lewe.

Beide hierdie belangrike en invloedryke tektste illustreer ‘n fundamentele insig in ontsag vir God as ‘n eerste kernwoord van Spiritualiteit. Die geestelike reis word aan die gang gesit deur ‘n ontsagwekkende aanraking van God. Die aanraking is so intens dat ‘n mens terugskrik daarvan en jou gesig daarvoor verberg. Dit is dus, in die woorde van Waaijman, die passiewe, ontvangende kant van eerbied vir God.

Dit is ‘n saak wat nie in die mens se wysheid en lewenspatroon inpas nie. ‘n Mens begryp die Verskyning nie. Dit is vir jou verborge. Dit is op hierdie punt dat God die Ondeurgrondelike is. God is aan die handel op maniere wat uitsonderlik is, wat begrip transendeer en wat nie gepeil kan word nie.  

In Bybelse tyd kom God tot die mens dus buite sy of haar insig om. Verskrik merk die mens dat God die vuur is wat nie uitbrand nie en die windstilte is wat fluister. Dit laat die mens terugskrik: dit is ongewoon, buite sy of haar ervaringswêreld. Dit roep ontsetting op. ‘n Mens wil jouself verberg voor die impak daarvan.

Voor die Verborgenheid van die goddelike wil jy wegvlug, gaan skuil en terugstaan. So groot is dit dat ‘n mens jouself daarvan wil onttrek – en dit nie sien nie.

Daar is egter ook meer aan die reaksie van die mens as net ‘n terugskrik voor God se verskyning. Jou kennis skiet te kort. Jou kreatuurlikheid dwing homself aan jou op. Jy weet: jou menslike insigte en groot wysheid word omring en ingeperk deur die Onbekende en Ondeurdringbare. Trots en eie-waan wankel. Die grense van die Bestaande, van menslikheid is getrek en afgebaken.

Daarom pas dit ‘n mens om in eerbied te lewe, vol ontsag oor dit wat veel groter is jyself is. Uiteindelik weet jy, in die woorde van Von Rad, dat wysheid nie die lewensstut is waarop jy kan leun nie. Met ontsag ontdek ‘n mens veel meer as wysheid: die nuwe vonds is die wete om in ‘n verhouding met God te verkeer en om in die goddelike teenwoordigheid te leef. 

Die geestelike reis begin daar waar God die mens aanraak en in een kragtige oomblik sy of haar lewe skroei en vorm. 

Monday, April 01, 2013

Wat is die belangrikste aan die geestelike weg?



Sou ‘n mens sekere dinge kon uitsonder as die belangrikste aspekte van die geestelik lewe?

Iemand soos Waaijman dink daar is veral vier kernwoorde wat die geestelike weg kenmerk. Een (en die eerste) daarvan is volgens hom die vrees van die Here.

Vir moderne ore wat nie hou van angs nie, veral nie in godsdiens nie, is dit minder goeie nuus. Juis daarom is 'n mens nuuskierig wat by "vrees"bedoel word.

Waaijman verwys nie altyd baie na die Nuwe Testament nie, daarom het ek begin soek na gedeeltes daaruit wat sy standpunt sou illustreer. Een so ‘n gedeelte was Hebreërs 5:7.

Ek het ‘n paar gedagtes oor Hebreërs 5:7 al geskryf, maar wil by die hart van die vers uitkom. Ek is aangetrokke tot hierdie vers nadat ek verskeie stukke geskryf het oor die gedeelte in Lukas oor die twee misdadigers aan die kruis. In albei gedeeltes speel vrees vir die Here ‘n deurslaggewende rol.

So lyk Hebreërs 5:7:

Hy (Jesus) het in sy lewensdae gebede en smeekgebede met harde krete en trane gebring na Hom wat Hom van die dood kon red, en Hy is verhoor vanweë sy dieper onderworpenheid aan God.

‘n Mens, sou ‘n mens vorige gedagtes kon saamvat, lees die vers onder die indruk van Jesus se lewenslange lyding. Nie net die kruis nie, maar die menslike bestaan staan in die teken van lyding. Tog is daar ‘n ondertoon van troos in die vers, want Jesus weet dat lyding nie die laaste woord spreek nie en dat God red uit die dood.

Van die begin af was ek geboeid deur die laaste deel van die vers wat eindig met die opmerking dat Jesus verhoor is “vanweë sy dieper onderworpenheid aan God.”

Dit is die diepste moment in die teks.

Die teks onderstreep dus dat Jesus se gebede verhoor is, dat Hy die troos ontvang dat sy lewenslange lyding tot ‘n einde sal kom, as gevolg van sy diepe ontsag vir God (ἀπὸ τῆς εὐλαβείας).

Dit is nie die gebede nie, maar Jesus se ontsag wat die verskil maak. God verhoor Hom omdat Hy met ontsag voor God leef.

Hierdie opmerking herinner aan Lukas 23 waar die “goeie” kwaaddoener vir die ander kwaaddoener aan die kruis wat Jesus gelaster het, vra of hy dan nie God vrees nie. Hy sou oomblikke later ook ervaar hoe Christus sy gebed om vergifnis aanvaar deur vir hom te belowe dat hy saam met Christus in die paradys sal wees. Dit is sy vrees wat daartoe lei dat Christus die "goeie" kwaaddoener verhoor.

Ontsag is ‘n vertaling van ‘n woord wat verwys na eerbied, aanbidding, respek en onderworpenheid. ‘n Baie gewilde en miskien dit beste woord is “vrees vir God.”

Ontsag beteken nie angs nie, maar  eerbiedige verwondering oor God. Die ontsag kom na vore in Christus se liefdesbede tot God: Hy smeek en verlang na God wat selfs die dood oorwin. Sonder God kan dit nie.

Wie dus leef uit ontsag vir God, ‘n kernwoord in spiritualiteit, kan reken op God. En wie kan die Spreuke teks ooit hier weglaat: “Die beginsel van die wysheid is die vrees van die HERE  (9:10)? 

Blog Archive