In 1 Konings 19:11-13 word die beroemde verhaal vertel
van Elia wat op die berg Horeb skuil nadat hy vir Isebel gevlug het omdat hy
vir sy lewe gevrees het. Terwyl hy in ‘n spelonk was, beveel die Here hom: “Kom
uit, en gaan staan op die berg voor My, die Here, Ek wil verbygaan.”
Hierdie teofanie as verskyning van die Here word deur
kontraste uitgebeeld. “Skielik was daar 'n baie sterk wind wat die berg
stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die
Here nie.”
Dieselfde geld van 'n aardbewing en ‘n vuur waarin die
Here nie was nie.
Na hierdie drie heftige verskynsels, is “daar 'n
fluistering in die windstilte.”
Baie word gemaak van die feit dat God bekend raak in
die stilte, in die fluistering, in sagtheid en gebrek aan geraas.
Maar min aandag word egter gegee aan die gevolge van
God se bekendmaking.
Al is dit ‘n fluistering in die windstilte, is Elia
duidelik oorweldig deur wat met hom gebeur. Hy reageer uitsonderlik op hierdie
“fluistering in die wind.” Hy maak sy gesig met sy harige mantel toe.
Dit is nie die eerste keer dat die Bybel hieroor skryf
nie. In Exodus 3 sien Moses ‘n engel wat in ‘n vuurvlam uit ‘n brandende bos
aan hom verskyn. Toe hy nuuskierig nader gaan, hoor hy God se stem. “Toe het
Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God te sien.”
Soos Elia
reageer Moses fisiek op hierdie verskyning van God met ‘n gebaar wat sy ontsag
en eerbied uitbeeld.
‘n Mens kan
beter nie oop oë wees wanneer God, selfs as “’n fluistering in die windstilte”
tot jou kom nie. Huiweringwekkend is God se binnekoms in ‘n mens se lewe.
Beide
hierdie belangrike en invloedryke tektste illustreer ‘n fundamentele insig in
ontsag vir God as ‘n eerste kernwoord van Spiritualiteit. Die geestelike reis
word aan die gang gesit deur ‘n ontsagwekkende aanraking van God. Die aanraking
is so intens dat ‘n mens terugskrik daarvan en jou gesig daarvoor verberg. Dit
is dus, in die woorde van Waaijman, die passiewe, ontvangende kant van eerbied
vir God.
Dit is ‘n
saak wat nie in die mens se wysheid en lewenspatroon inpas nie. ‘n Mens begryp
die Verskyning nie. Dit is vir jou verborge. Dit is op hierdie punt dat God die
Ondeurgrondelike is. God is aan die handel op maniere wat uitsonderlik is, wat
begrip transendeer en wat nie gepeil kan word nie.
In Bybelse
tyd kom God tot die mens dus buite sy of haar insig om. Verskrik merk die mens
dat God die vuur is wat nie uitbrand nie en die windstilte is wat fluister. Dit
laat die mens terugskrik: dit is ongewoon, buite sy of haar ervaringswêreld.
Dit roep ontsetting op. ‘n Mens wil jouself verberg voor die impak daarvan.
Voor die
Verborgenheid van die goddelike wil jy wegvlug, gaan skuil en terugstaan. So
groot is dit dat ‘n mens jouself daarvan wil onttrek – en dit nie sien nie.
Daar is egter
ook meer aan die reaksie van die mens as net ‘n terugskrik voor God se
verskyning. Jou kennis skiet te kort. Jou kreatuurlikheid dwing homself aan jou
op. Jy weet: jou menslike insigte en groot wysheid word omring en ingeperk deur
die Onbekende en Ondeurdringbare. Trots en eie-waan wankel. Die grense van die
Bestaande, van menslikheid is getrek en afgebaken.
Daarom pas
dit ‘n mens om in eerbied te lewe, vol ontsag oor dit wat veel groter is jyself
is. Uiteindelik weet jy, in die woorde van Von Rad, dat wysheid nie die lewensstut
is waarop jy kan leun nie. Met ontsag ontdek ‘n mens veel meer as wysheid: die
nuwe vonds is die wete om in ‘n verhouding met God te verkeer en om in die
goddelike teenwoordigheid te leef.
Die geestelike reis begin daar waar God die mens aanraak en in een kragtige oomblik sy of haar lewe skroei en vorm.