Sunday, April 07, 2013

Kalmte





Die sug na wonderwerke en geloofsgenesing is in ‘n sekere sin verstaanbaar en selfs ook te regverdig.

‘n Mens se gesondheid is spesiaal. Niemand kan verkwalik word wat daarna verlang om van ‘n knaende of gevaarlike siekte genees te word nie en wat op 'n manier na buitengewone ingrype verlang.

Maar, het ek in Colin Brown se boek raakgelees, soms kan ‘n mens so obsessief word om genesing te vind, dat dit jou gesondheid verder benadeel. ‘n Mens hoef net sekere kanale op ons televisie te bekyk om te sien hoe oorweldigend die fokus op sulke geloofsgenesingsdienste is.

Of, soos Brown ook opmerk, dit kan ‘n mens dieper depressief maak as ‘n mens nie van die donker van jou desperaatheid en depressie genees word nie en jy dan voel dat jy in jou toewyding en gebedslewe nie goed genoeg in God se oë is nie.

Daar is egter soms agter die obsessie met geloofsgenesing ‘n verkeerde houding. Dit het te doen met die houding dat die gebed van ‘n mens met ‘n sterk geloof nie onverhoord sal bly nie. So ‘n houding is eintlik aanmatigend. Om in God te glo en in God se teenwoordigheid te wees, waarborg nie volmaakte gesondheid nie.

Daar is nie maklik, kitsresepte in die geloofslewe nie. 

Wat 'n mens ook laat dink aan woorde van Jesus aan die wondersugtige Fariseërs en Sadduseërs: "’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van Jona, die profeet. En Hy het hulle verlaat en weggegaan" (Mt. 16:4). 

In 1934, skryf Brown, het die Amerikaanse teoloog, Reinhold Niebuhr die volgende gebed geskryf:

O God, gee ons
         kalmte om te aanvaar wat ons nie kan verander nie,
         moed om te verander wat moet verander,
         en wysheid om hulle van mekaar te onderskei.   

Ek is geboeid hierdeur: om kalm te wees in die lig van die onafwendbare. Dit is waartoe geloof ‘n mens inspireer.

‘n Mens kan met vrug dieper dink oor en ernstiger soek na kalmte. In sommige gevalle het gelowiges soveel daarvan gemaak dat dit ‘n kenmerk van hulle geloofsreis geword het. Dink maar aan die bekende Hudson Taylor (van China-sending) se boekie hieroor en die sg. – soms erg omstrede – Keswick Leer wat daarin na vore kom.

In die beweging was die klem op oorgawe aan God: laat dinge gaan, en laat God toe om te werk. (Wat uiteindelik weer tot die uitwasse gelei het dat mense in wie God nie gewerk het nie, veroordeel is as mense wat nie laat gaan het nie en wie se geloof nie sterk genoeg was nie!).

Om jouself oor te gee, om kalm te wees, om vrede in jou gemoed te hê, ook in die dae van jou siekte en sterwe, lyk nie na merkwaardige heldhaftigheid nie. Maar dit is nogal ‘n foutiewe indruk. Dit kan ‘n belangrike vrug van die Gees wees.

Ek wil meer oor kalmte dink. Miskien is dit een van die belangriker deugde vir ons oor-entoesiastiese geloofslewe.

Blog Archive