Sunday, April 28, 2013

Die rivier by ons huis huil by my. Oor ekologiese spiritualiteit.

-->
Die rivier voor ons huis het, soos ‘n mens, sy vele gesigte.

In die somer loop hy drupsgewys en geduldig verby. Skaars ‘n stroompie. Deur die nag, as alles tot rus gekom het, luister ons na die gekabbel as ‘n kalmerende nagstem, ‘n teken van God se skepping wat sy gang rustig gaan, veilig in God se hande.

In die winter, met die tiendae-reën, word dit ‘n siedende stroom water. Dit is ‘n dolle gejaag. ‘n Mens staan verwonderd oor die kragte wat in die omgewing opgesluit lê. Hoe sterk kan God se wêreld tog word.

In die herfs val die blare, goud van ouderdom, van die bome, maak ‘n ryk tapyt op die walle of dryf liggies op die water, klein seilbootjies, iewers heen weg.

Lente-tyd begin die winter-storms bedaar, die dae word sonniger, die rivier kry sy glans terug en sy walle trek die lewe uit die waters groen in hul grasse en blare in.

Die rivier is ‘n teenwoordigheid. ‘n Vriend wat met ons praat, ons gerusstel, ons dae koel hou, ons plek skoonmaak, ons herinner aan die gang van die skepping, aan geboorte, groei, oud-word, doodgaan en die nuwe lewe. Siklusse van skoonheid, van alomteenwoordige lewe.

Maar tye is nie goed nie.

In hierdie somermaande hoor ek pyn in sy stem. Hy kreun onder die hope vullis wat mense kom op sy walle kom stort het.

Iemand het ‘n plek gesoek om vinnig ‘n hoop vullis weg te gooi. En wat is makliker as hierdie wal, onder die bome, waar “niemand” dit sien nie. Op die walle smyt mense hul papiere, hul sakke en selfs hul matrasse. Die morsige hand van die mensdom ontsien veral nie die omgewing nie. Ons plek lyk siek, vuil, bemors en verniel.

Ek bel die munisipaliteit. Hulle kom uiteindelik ‘n kolletjie skoonmaak, maar laat die res van die area, vrot onder die vuilgoed, onaangeraak. Dit is maar net nog ‘n werkie. Die oog is op die horlosie en die een aangemelde en uitgewysde hopie gemors. Hulle kyk nie verder nie, hulle hoor nie die gehuil nie, hulle kan nie omgee nie.

Wie sien nou al die vuilgoed tog?

Ekologiese spiritualiteit, skryf Waaijman, skiet wortel daar waar mense ‘n verhouding van verantwoordelikheid teenoor die skepping ontwikkel. Sommige skrywers ervaar die verhouding so intens dat hulle skryf hoe die skepping vrees, hoe dit roep en smeek. Die natuur het vir hulle gevoelens. Hulle hoor dat dit vra om vriendelik behandel te word.

Ander mense se ekologiese spiritualiteit berus op ‘n gevoel van afhanklikheid met die natuur. Hulle weet die lewe is ‘n groot geheel: die mens deel daaraan. Die mens het ‘n beskeie plek in die geheel en moet omgee en deel met ander, ook die skepping, wat daarvan deel is. Want wie die geheel ombring, sny eie keel af.

Nog ander dink aan die natuur metafories as ‘n persoon. Jy word ‘n vriend, ‘n vennoot, ‘n mede-skepsel wat omgee. Jy kan nie ongesiens sien hoe die ander kwaad aangedoen word nie.

Daar is dus in ekologiese spiritualiteit ‘n bewussyn dat ons deel is van ‘n groter geheel waarin al die dele met mekaar verbind is. Elke deel is waardevol. Die mens en die natuur staan in kontinuïteit met mekaar. God gee diep om vir al die vorme van lewe wat in hierdie groter geheel saamgebind is. En wie God ken, leef met dieselfde passie.

Daar is dus ‘n intrinsieke verhouding tussen skepping en mens. Dit beteken dat die mens verantwoordelikheid vir die skepping het. ‘n Mens doen verantwoording oor hul gedrag en optrede aan die natuur en aan die nageslag.

Mense besit nie die natuur nie. Hulle kan nie maar aan die natuur doen wat hulle wil nie.

Die mens sorg vir en versorg die natuur. Hulle bewaar die natuur as mede-skepping.

Daarom bestaan die geestelike reis uit protes teen die vernieling van die natuur. Om spiritueel te wees, beteken ook om die kosbaarheid van die natuur te herken en te bewaar.


Blog Archive