Wednesday, April 10, 2013

Die verhaal van verlore liefde.

Volgens Markus 10:17, kom “iemand” aangehardloop, val op sy knieë voor Jesus en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te verkry.

Wanneer Jesus vir hom vra om die tweede tafel van die tien gebooie na te kom, antwoord hy dat hy dit al van sy kinderdae af doen.

Dit is ‘n dood-eenvoudige gesprek tussen Jesus en die man wat in Markus 10:17-19 plaasvind. En die woorde van Jesus is net so helder: as jy die ewige lewe wil verkry, moet jy die wil van God gehoorsaam. Leef naby aan God, in die Goddelike wil, in die teenwoordigheid van die Een wat ewig lewe skenk.

Verwonderd staan ‘n mens voor hierdie uitspraak: wie die wet nakom, wie God se wil gehoorsaam, sal ewig lewe. Dit is genoeg.

Die man se reaksie is kinderlik opreg: Van sy kinderdae af, vertel die man vir Jesus, doen hy dit.

Maar ook ontstellend: hier is iemand met ‘n wetsgetroue lewe, gehoorsaam aan God se wil. En tog is dit nie genoeg nie. Iets ontbreek hom. Hy is nie vervuld nie. Daarom soek hy nog, verlang hy na meer. En, indrukwekkend, hy kom sy verlange, biddend, by Jesus uitstort.

Wat moet ek, die wetsgehoorsame mens, nog meer doen? Dit is 'n hartskreet gebore in diep verlange na wat sin maak.

Mens sou seker met enige reg kon antwoord dat Jesus vir hom sê: hy gee nie genoeg aan die armes nie. Hy is te geheg aan sy rykdom.

Maar daar gebeur meer as bloot hierdie kwytraak van sy besittings. Jesus beweeg ver daarby verby: as ‘n mens van alles ontslae geraak het wat moontlik jou hart kan besit, is dit ook nog nie genoeg nie.

Die geestelike weg is alleen vervullend wanneer ‘n mens Jesus volg. Dit is immers die punt van die verhaal. Markus roep op tot navolging van die Menseseun.

Hoe dan?  Wat is so spesiaal aan Jesus?

Die gedeelte antwoord hierdie vraag heel indirek met die uitspraak: “Jesus het na hom gekyk en hom liefgekry.” ( δὲ Ἰησοῦς ἐμβλέψας αὐτῷ ἠγάπησεν αὐτὸν).

Twee dinge is hier van belang:

1. Jesus het na hom gekyk: dit is nie maar ‘n niksseggende opmerking wat vertel dat Jesus hom raakgesien het nie of dat Jesus hom bloot net opgemerk het nie. ‘n Mens sou dit eerder meer kon vertaal as: Jesus het die man deurgekyk, deurgrond, opgesom, verstaan. Die frase is ‘n manier om te vertel dat Jesus sy volle aandag op die man toegespits het. In daardie oomblik waarin Jesus die man aangekyk het, het Jesus intens met hom meegeleef en in die man se situasie ingeleef. Dit laat ‘n mens dink aan die oomblik toe Jesus vir Petrus na sy verraad aangekyk het en Petrus in trane uitgebars het. Jesus voel die man se geestelike nood aan, sien die erns waarmee hy soek na die sin van die lewe. Hy herken die man as ‘n geestelike pelgrim. Hy sien raak dat die man ‘n Soeker na God is.

2. Jesus het hom liefgekry. Die aanvoeling van Jesus dat die man ‘n geestelike Soeker is, laat die liefde opwel. In daardie oomblik dat Jesus hom aangekyk het, het Jesus sy geestelike verlange raakgesien. Daar is in Jesus se kyk ‘n spesiale meelewing, ‘n uitreiking, ‘n terug-verlang wat reageer op die man se verlange na ewigheid: dit word ‘n uitnodigende liefde wat vra vir navolging. “Kom, volg My – wees by My. Ek wil hê jy moet by My wees.”

Dit is ‘n oorrompelende opmerking: Die man, soekend en knielend voor Jesus, is die voorwerp van God se liefde. In die wet het God na hom uitgereik, vir hom vertel hoe kry ‘n mens die ewige lewe. Maar nou, nog meer, reik God in Jesus na die man uit. Hy word liefdevol deur Jesus nadergetrek.

Jesus se kyk en liefde deurgrond die man: die liefde weet gou as dit teen ‘n muur te staan kom. Jesus se aanvoeling is dat hierdie man nog nie volledig in die liefde staan nie. Hy het in sy lewe dinge waarvoor hy liewer as vir God is.

Die liefde van Jesus is eerlik: dit wys die man daarop dat hy ‘n gevangene is. Dit wil aanspoor om vry te raak, om die bande los te maak en in te kom in die ruimte waar suiwer liefde is. Dit is ‘n dringende, ek-staan-by-die-deur-en-klop liefde: vriendelik, uitnodigend, selfs smekend.

Miskien is die mooiste, die allermooiste van hierdie verhaal dat Jesus in liefde die man toelaat om homself te wees. Hy kry ‘n keuse. Hy moet besluit of hy sy rykdom gaan afstaan. Daar is geen dwang nie. Die liefde gee eindelose ruimte, laat ‘n mens swerf met die las van jou leë verknogthede, want die liefde dwing nie. Die liefde weet: ‘n mens kan nie van buite ingedwing word nie. Jy moet kan “sien”, jy moet kan “kyk,” jy moet Jesus kan sien soos Hy jou sien. Liefde is juis liefde omdat dit om wederkerigheid vra. Liefde vind sy vervulling in die antwoord op die liefde.

En daardie ryk man? Hy het bedruk weggegaan, geskok oor wat Jesus van hom vra. Hy het nie die liefde herken nie. Hy het nie die liefdevolle blik raakgesien nie. Verdwaasd was sy blik vasgevang op die rykdom wat so skielik bedreig is.

Daardie “kyk” van Jesus! Dit roep liefdevol – kyk na My. Sien My raak! Hier, by My, is te vind wat jy so vuriglik soek.

Deur die frase, onthul Markus vir ons die geestelike betekenis van die verhaal: dit is die verhaal van verlore liefde. Wie nie die liefde raaksien nie, sal altyd maar bedruk die geestelike reis voortsit..

Blog Archive