Tuesday, April 30, 2013

Nooit 'n alleen-mens nie. Oor spiritualiteit en ontferming.





Dit is die eerste teken dat iemand min weet van spiritualiteit en mistiek wanneer hulle met groot insig vertel dat dit te veel op die mens se geestelike belewing ingestel is, dus te individualisties is en daarom verval in persoonlike vroomheid.

Ek kry altyd ‘n sinkende gevoel as ek sulke kritiek lees.

Want dan weet jy jy moet maar weer heel aan die begin begin. Jy praat met iemand wat min verstaan van spiritualiteit as ‘n beweging en ‘n dissipline wat teruggaan tot op die wortels van die Christendom, te doen het met die hart van godsdienstige ervaring, en wat oor eeue heen uit hierdie diep en lang agtergrond massief en breed ontwikkel het tot wat dit vandag is.

Jy is terug by graad 1 en dit terwyl daar oneindig veel is om in te haal vorentoe. As ‘n mens op hierdie punt vasval, is jy nog in die fopspeen-fase.

Neem nou maar een van die vier kernwoorde in spiritualiteit. As ‘n mens oor die inhoud van spiritualiteit praat, sal jy telkens weer op ten minste hierdie vier woorde afkom. Hulle help ‘n mens om te verstaan wat die werklike en belangrike inhoud van spiritualiteit is. 
  
Hierdie kernwoord is ontferming. In kerktaal sou ‘n mens ook van barmhartigheid kon praat.

Enige iemand wat spiritualiteit ken, sal weet dat spiritualiteit sonder ontferming nie kan bestaan nie.

Spiritualiteit gaan om ontferming en dit is ‘n gedagte wat ‘n mens tot in Bybelse tye en tekste kan terugvoer. Dink aan Jesus se meelewing met die armes, die wonders van die broodvermeerdering, die innige Bergrede, die barmhartige Samaritaan, Matteus 24 en die besoeke aan die siekes, die gevangenes, die armes en die hongeriges wat God se wens vir sy skappe is. 

Ontferming is juis betrokkenheid by ander, om ingestel te wees op mense om jou. En dit is ‘n kern-aspek van spiritualiteit. Dit is ‘n teken van ‘n mens se eie menslikheid, van jou bewussyn dat jy ‘n onlosmaaklike band met ander mense het. Wat met hulle gebeur, raak jou, vorm jou en laat jou groei in nog groter menslikheid.

Jesus se gebedslewe, sy afsondering, sy saam-wees met sy dissipels was ‘n deel van sy geestelike weg. ‘n Ander deel, waarvan spiritualiteit baie maak, was sy ontfermende meelewing met mense. In mense se vreugde en leed was Hy by hulle. Hy was innerlik aangetrokke tot en het meegeleef met ander. Sy geestelike weg was altyd weer ‘n weg saam met mense om Hom. Hy was so betrokke by hulle dat Hy moet geraak het, gehuil het, gesug het, gehelp het en uitgereik het. Sy liggaam en sy siel was dors om die welsyn van ander.

En Sy opdrag aan mense om hom was: “Wees barmhartig soos julle Vader in die hemel” (Lk.6:36).

Dit gaan in ontferming om menslikheid, om meelewing, solidariteit en uitreiking. Met ontferming kom ‘n mens by die hart van geloof uit. Wanneer ‘n mens ontfermend leef, leef ‘n mens soos God en in God se teenwoordigheid.

Spiritualiteit beklemtoon dat hierdie ontferming nie maar ‘n soort vryblywende simpatie is nie. ‘n Geestelike mens word liggaam en siel betrek by ander mense se lewens – nie net om te verstaan wat met hulle gebeur nie of om jammer vir hulle te voel nie, maar veral om deel te hê daaraan en om hulle daarin te ondersteun. Ontferming is in spiritualiteit nie ‘n netjies teologiese leerstuk waaroor ‘n mens allerhande mooi dinge bedink nie. Ontferming is ‘n transformatiewe handeling wat jou deelname insluit en wat jou terselfdertyd raak en omvorm.

Wat waar is van die mens en ontferming, is ook waar van die geloofsgemeenskap. Ontferming dryf die lewe van die kerk: die prediking as bystand aan mense om soos en na aan God te leef, die doop waarin God ontfermend ook die kinders in die genadeverbond opneem, die opheffingswerk van die kerk, huisbesoek waarin ‘n mens naby aan die ander se vreugde en nood kom, berading van mense wat vasgeval het, opsoek en ondersteuning van siekes, die uitreik na gemeenskappe in nood – alles staan in die teken van daadwerklike ontferming.

‘n Geestelike pelgrim is nie ‘n alleen-mens nie. Sulke pelgrims leef in solidariteit met ander. Hulle doen dit, van alle dinge, juis deur ontferming. Hierdie ontferming het 'n goddelike karakter - want pelgrims is instrumente in die ontfermende handeling van God in die wêreld.

Om te glo is om om jouself in ontferming aan ander te gee.

Blog Archive